Ons nuwe radiodrama-seisoen is hier!


‘n Wittebrood wat skeef loop, ‘n spook wat weier om op die kaggelrak te bly sit, ‘n riller asook ‘n keur van bekroonde én klassieke dramas is by RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2016 ingesluit.

Al die RSG/Sanlam wendramas in April

Radioteater begin met die wenners van die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie vir 2015. Lees hier meer oor die wendramas.

7 April 2016: Die eksentriekes deur Erica Harris is met die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) bekroon en kom eerste aan die beurt.

14 April: Die nag van die wyses (derde plek) deur Zenobia Kock,

21 April: Genade (tweede plek) deur Marita van der Vyver en

28 April: Vergifnis (wenner) uit die pen van Charles J. Fourie.

In Mei lyk die dramas waarna jy kan luister as volg:

5 Mei: Jane Eyre deur Charlotte Bronte in Afrikaans.

Charlotte Bronte

Charlotte Bronte

Die Britse skrywer en digter Charlotte Brönte sou in April vanjaar 200ste verjaardag gevier het. RSG saai op Donderdag 5 Mei haar klassieke verhaal, Jane Eyre, uit. Die oorspronklike skrywe is deur S. van Staden vertaal en vir die radio verwerk. Die roman is in 2003 in die BBC se The Big Read-peiling as een van die top10-romans aangewys. Die argiefopname van hierdie Radioteater is in 1989 opgevoer met Juanita Swanepoel in die titelrol. Van die ander spelers sluit in wyle Limpie Basson, Percy Sieff, Gretha Brazelle, Marion Holm, Nico de Beer, Royston Stoffels en Antoinette Kellermann.

12 Mei 2016: Wyle Chris Barnard se Die rebellie van Lafras Verwey.

Chris Barnard

Chris Barnard

Die regisseur Cor Nortjé het hierdie drama altesame 45 jaar gelede opgeneem met onder andere Cobus Rossouw en Joey de Koker in die rolle. Rebellie is in 1973 met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se SAUK-prys vir Afrikaanse hoorspele bekroon. Dit is egter al in 1970 met die eerste prys bekroon in ‘n hoorspelkompetisie uitgeskryf deur die Belgische Radio en Televisie in samewerking met die SAUK.

 

19 Mei 2016: Riana Scheepers se Wittebrood volg met spelleiding deur die RSG-omroeper en aktrise Christelle Webb-Joubert. Lucas en Klara is pas getroud. Vir die wittebrood koester Lucas die romantiese droom om sy bruid ‘n ongerepte deel van Afrika te gaan wys. Die verrassing en “avontuurlike natuurvakansie” blyk gou glad nie so idillies en romanties te wees as wat Lucas in gedagte gehad het nie.

26 Mei: Marion Erskine se Siembamba is ‘n sielkundige riller wat die luisteraar end-uit gaan laat kopkrap. Renske Jacobs behartig die spelleiding.

Die Junie-dramas is as volg:

2 Junie 2016: Die laaste van PG du Plessis se kort Teerling-stukke kan gehoor word. Stian Bam en Susanne Beyers vertolk die rolle in Teerling: Die pes, met regie deur Eben Cruywagen. Dié drama wat slegs vir volwassenes is, word tydens die KKNK 2016 voor ‘n gehoor in Oudtshoorn opgeneem.

9 Junie 2016: Die Kaapse musikant Wilken Calitz se Lewe na die noot is ‘n rock-‘n-roll-radiodrama oor die lewe van die 25-jarige folksanger Johnny Botha. Calitz is bekend om die radiodrama Veertig dae (tweede plek in die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie van 2012) asook die verhoogstuk God van klank, wat as radiodrama verwerk is. Johan Rademan is die regisseur.

23 Junie 2016: Die seisoen sluit ook in Fanie Viljoen se spookstorie-radiodrama, Verlos ons van die bose, en die bekroonde dramaturg Schalk Schoombie se My Japan.

30 Junie 2016: Die seisoen word afgesluit met ‘n splinternuwe vertaling en radioverwerking van Samuel Beckett se Waiting for Godot. André Kotzé het Om te wag vir Godot in opdrag vir RSG aangepak.

Radioteater word van April elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

 

 

www.rsg.co.za

Kategorieë