Ons sluit ons radioteater-seisoen af met ‘n klassieke klug


Wyle Gerhard J. Beukes se klassieke klug, As ons twee eers getroud is, sluit RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2016 af.

Dié radiodrama-verwerking word op Donderdag 30 Junie om 20:00 uitgesaai met onder andere Trix Pienaar en wyle Kitty Albertyn in die rolverdeling. Margot Luyt was die regisseur van hierdie argief-opname.

Die storie
Frans en Malie van der Merwe is op die vooraand van hul silwer huweliksherdenking, maar besef dan dat hulle nie ‘n huweliksertifikaat het nie. Is hulle werklik getroud? Of leef hulle al die jare in “sonde” saam?

Die klein Kallie, hul jongste seun, het boonop sy “dieretuin” – bestaande uit ‘n koggelmander, muis, spinnekop, padda én slang – in die voorkamer laat ontsnap. En hy en Oupa is besig met hul eie skelmstreke…

Midde hierdie konsternasie probeer Malie en haar twee dogters, Santjie en Annelise, om van Oupa ontslae te raak. Sal die weduwee, mevrou Bloom, die stuitige oupa uit hul pad én sake kry?

Die spelers
Trix Pienaar en Johan van Jaarsveld vertolk die hoofrolle. Die ander spelers is ‘n jong Jan Ellis as Kallie met wyle Kitty Albertyn as mevrou Bloom.

Die skrywer
Gerhard J. Beukes is in 1998 in die ouderdom van 85 jaar in Bloemfontein oorlede. Hy het in 1952 die Hertzogprys ontvang, onder andere vir As ons twee eers getroud is. Beukes was ook bekend om sy eenbedrywe en dramas soos Salome dans asook Langs die steiltes.

Radioteater word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

RSG se tweede Radioteater-seisoen vir 2016 duur van Oktober tot Desember.

 

www.rsg.co.za

Kategorieë