Misgeloop? Luister Brönte se ‘Jane Eyre’


Charlotte Bronte

Charlotte Bronte

Die Britse skrywer Charlotte Brönte sou vanjaar haar 200ste verjaardag gevier het. Ter viering van hierdie groot gebeurtenis het RSG pas ‘n radiodrama-weergawe van die klassieke Jane Eyre uitgesaai.
As jy dit misgeloop het, luister hier.

Jane Eyre steeds beskou as een van die mees geliefde heldinne in die wêreldletterkunde. S. van Staden het die roman in Afrikaans vertaal en vir die radio verwerk.

RSG saai ‘n argief-opname uit van die produksie wat wyle Joey de Koker met ‘n jong Juanita Swanepoel in die titelrol opgeneem het.

Jane Eyre is ‘n weeskind, maar ook ‘n goewernante wat laer in Thornfield vir die jong, Franse meisie Adele, private skoolonderrig gee. Hier raak sy op die veel ouer meneer Rochester verlief. Rochester vra haar om te trou, maar hul troudag ontaard in ‘n nagmerrie wanneer ‘n gas aanvoer dat Rochester steeds met ‘n ander vrou getroud is. Jane se lewe neem ‘n tragiese wending…

Naas Swanepoel kan onder andere Antoinette Kellermann, Percy Sieff, Limpie Basson, Marion Holm, Gretha Brazelle, Royston Stoffels en Nico de Beer in die rolverdeling gehoor word.

Jane Eyre (in Oktober 1847 gepubliseer) verken temas soos klassisme, godsdiens en seksualiteit, en is al vir die silwerdoek, TV en verhoog verwerk. Dit is in 2003 deur die BBC as een van die top10-boeke op hul The Big Read-lys van mees geliefde romans aangewys.

Brönte word in letterkundige kringe beskou as die voorganger van romanskrywers soos Virginia Woolf, Marcel Proust en James Joyce. ‘n Splinternuwe biografie, Charlotte Brönte: A Life deur Claire Harman, beskryf Brönte as ‘n “literêre visioenêr” wat haar suster, Emily, aangemoedig het om Wuthering Heights te skryf toe niemand in haar talent as skrywer geglo het nie.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

 

 

Kategorieë