Paasdrama: Die Herbergier


TITEL VAN PROGRAM               Die Herbergier

DATUM VAN UITSENDING         Vrydag 14 April 2017

TYD VAN UITSENDING                13h00 met heruitsending om 19h00

REGISSEUR                                       Helena Hugo

SKRYWER                                         Esta Steyn

Die herbergier deur Esta Steyn is verlede jaar as beste Paasdrama aangewys in RSG en die Cordis Trust se Christelike radiodrama-skryfkompetisie.

Die storie
RSG se Paasdrama is vanjaar ’n geskiedkundige drama wat afspeel teen die agtergrond van die kruisiging van Jesus. Midde die gebeure staan die herbergier van Betlehem wat 33 jaar tevore vir Josef en Maria in sy stal skuiling gegee het. Die man wat ons as een van die randfigure rondom die geboorte en dood van Jesus leer ken het, is hier nie meer net ’n vae figuur wat iewers in die agtergrond rondhang nie. Hy het ’n naam, Joram, hy is getroud met Amalia en het twee seuns, Stefus en Gerbus, wat tydens die geboorte onderskeidelik twaalf en nege was, en nou reeds volwasse mans is. Joram is bejaard en hy en sy vrou woon by sy oudste seun en sy vrou, Hanna. Gerbus, die vrydenker wat bewyse soek en alles van nader wil bekyk, werk as tempelwag in Jerusalem.

Die geboorte van Jesus het die gesin nie onaangeraak gelaat nie. Hulle volg Jesus en ken en aanvaar sy leerstellings, kyk selfs verby die kruisiging die toekoms is. Voor hulle die Paasmaal eet, dink hulle nie soos die Jode van ouds, terug aan die uittog uit Egipte nie. Hulle onthou die dag van Jesus se geboorte.

Maar die uitsonderlike helder ster wat bokant die stal tot stilstand gekom het, die nagtelike besoekers, die engele en die vrede wat daar geheers het, kontrasteer skerp met die oproer wat rondom hierdie Pase in Jerusalem losbars. Die herbergier en sy gesin word gekonfronteer met die onvermydelikheid van Jesus se gevangeneming en sy teregstelling, maar ook met konflik in der midde.

Die Herbergier is deeglik nagevors, maar kan as gesinsverhaal vandag nog tussen ons mense afspeel. Tweeduisend jaar later bly ongeloof, skeptisisme, opstandigheid en die gevolge en nadraai daarvan steeds dieselfde. Of daar inkeer en omkeer kom, dié kan ons net voor bid en hoop.

Esta Steyn kry dit reg om die verlossingsboodskap van Paasfees vars en nuut aan te bied in hierdie, haar debuut-radiodrama.

Helena Hugo

Die spelers
Die spelers is Cobus Visser, Gigi Strydom, Bertha le Roux-Wahl, Martin Jansen, Francois van Rensburg, Eswé Bruwer en Anrich Herbst.

Die regisseur is Helena Hugo.

Esta Steyn

Die skrywer
Só skryf Helena Hugo oor Esta Steyn:

Esta Steyn (gebore Ellis, 23 Julie 1945) is ’n bekende en erkende skrywer. Sy is die jongste van drie susters. Die gesin woon eers op Struisbaai, verhuis later na Montagu, en daarna na Worcester waar Esta in 1963 haar matriek aan Girls High skryf en daarna as boekhouer in haar pa se meubelfabriek werk.

Sy publiseer haar eerste kortverhaal op negentienjarige ouderdom en skryf daarna nog vele verhale en sketse vir Sarie en Huisgenoot. In 1969 trou sy met die apteker, Le Roux Steyn, en hulle vestig hulle op Saldanah. Le Roux is Saterdagaand die 11de Maart 2017 op sy 78ste verjaardag oorlede. Esta en hul jongste seun, die naamgenoot, was langs sy bed. Haar sterk geloof in die hiernamaals is en bly haar lewensanker. Dié geloof, kennis en insig spreek ook helder uit hierdie drama wat sy vir die RSG en Cordis Trust Christelike Radiodrama-skryfkompetisie 2016 ingeskryf het.

Haar skryfstyl word beskryf as eg, onopgesmuk, onpretensieus en eerlik. Sy het die vermoë om haarself filmies uit te druk en skep draaiboeke vir TV-reekse soos Meeulanders en Soutmansland. Uit haar pen kom daar ook verskeie Weskusromans soos Kus vir die kluisenaars, Droomdelwers (wat op RSG voorgelees is) en Kinders van die Sabbatsee. In Die grafte jubel skryf sy eerlik, oop en hartroerend oor die dood van haar twee oudste seuns, Daniel en Hein.

Wat my veral opgeval het, toe ek met die teks gewerk het, is haar vermoë om lewensgetroue karakters en situasies met min omhaal van woorde te skep. Ek en die akteurs het nie met houtpoppe wat lank gelede geleef het, gewerk nie. Haar karakters is mense van vleis en bloed wat hul harte oopmaak en die skok en verwildering, die kommer van die tyd met ons en die luisteraars deel. Om die agtergrond in te kleur het ek Joodse klanke gesoek en die instrumente, ritmes en melodieë, die liedere van daardie tyd wat vandag nog gesing word, nie net as oorgang nie, maar ook as agtergrond gebruik. (Gelukkig is die Engelse vertalings by die CD ingesluit en kon ek die regte woorde by elke situasie kies, spesiaal vir ons Mesiaanse Joodse vriende wat saamluister.)

RSG se spesiale Paasprogramme op Goeie Vrydag: Klik hier om meer te lees.

Categories