Luister weer: PG se ‘Teerling: Die Pes’

Luister weer: PG se ‘Teerling: Die Pes’


Waarskuwing: Die drama is slegs vir volwassenes. Die tema en taalgebruik mag sensitiewe luisteraars ontstel.

pgduplessisPieter Georg du Plessis, veel beter bekend as die veelbekroonde P.G. du Plessis, moet sonder twyfel een van Suid-Afrika se bekendste skrywers wees. Miskien is hy meer bekend as dramaturg vir sy aangrypende verhoogdramas soos Die nag van Legio, Siener in die suburbs en Plaston: DNS-kind. Of dalk was dit sy TV-reekse, soos Koöperasiestories en Die Maplotters, of die storievertelprogram, Spies en Plessie – met permissie, wat hom as ‘n huishoudelike naam gevestig het.

Die feit bly staan: PG is volksbesit en wat uit sy pen vloei, laat by voorbaat die luisteraar (en kyker) sy oë en ore spits.

Op Donderdag 2 Junie om 20:00 debuteer PG se Teerling: Die pes in Radioteater op RSG. Teerling is aanvanklik as ‘n teater-eksperiment in opdrag van wyle Stephan Bouwer geskryf. Teerling (oftewel dobbelsteen) bestaan uit ses kort stukke en met die gooi van ‘n dobbelsteen bepaal die gehoor watter een van die ses opgevoer word.

Luister hier na  die drama.

RSG het reeds van die ses kort dramas vir die radio verwerk en uitgesaai. Luisteraars kon al na Die opblaasmatrassie, Die berader, Die wiel draai, Die brug en O hel! luister. Die laaste een, Die pes, is tydens vanjaar se KKNK in Oudtshoorn voor ‘n gehoor opgevoer en opgeneem.

Die storie
In dié finale Teerling-drama ontvang ‘n dominerende skoolhoof ‘n dringende SMS van haar onderdanige broer, wat as ‘n laboratorium-assistent werk. Hy versoek dat sy hom by ‘n sekere adres in ‘n krotbuurt te ontmoet. Uit die staanspoor is alles nie pluis nie, veral nie wanneer hy ‘n video-opname van ‘n nuusberig oor ‘n reeksmoordenaar aan haar voorspeel nie…

Van links is Susanne Beyers as Sus-An en Stian Bam as Christo met die regisseur Eben Cruywagen in RSG se Beiteltjie in Oudtshoorn, waar die radiodrama tydens vanjaar se KKNK voor ‘n gehoor opgeneem is.

Van links is Susanne Beyers as Sus-An en Stian Bam as Christo met die regisseur Eben Cruywagen in RSG se Beiteltjie in Oudtshoorn, waar die radiodrama tydens vanjaar se KKNK voor ‘n gehoor opgeneem is.

Die spelers
Stian Bam kan as Christo gehoor word, terwyl Susanne Beyers die rol van die skoolhoof Sus-An vertolk. Willem Pelser en Sue Pyler is die bykomende stemme as die TV-nuusleser en polisiewoordvoerder onderskeidelik.

Susanne Beyers en Stian Bam tydens ‘n repetisie van “Teerling: Die Pes” deur PG du Plessis met die regisseur Eben Cruywagen, heel regs.

Susanne Beyers en Stian Bam tydens ‘n repetisie van “Teerling: Die Pes” deur PG du Plessis met die regisseur Eben Cruywagen, heel regs.

Eben Cruywagen is die regisseur en het ook Teerling: Die pes vir die radio verwerk.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

 

 

 

Kategorieë