Radiodrama oor SA huursoldate kraai koning in kompetisie


‘n Radiodrama oor Suid-Afrikaanse huursoldate in die Kongo het vanjaar se RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetsie gewen. Die rolprentregisseur en TV-vervaardiger Jan Lampen van Johannesburg ontvang R25 000 vir sy wen-radiodrama, Pointe-Noire (Ek en die majoor).

Die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar twintig jaar oud en die prysgeld is spesiaal verhoog om dié mylpaal te vier.

Pointe-Noire handel oor twee van die laaste oorlewendes wat uit ‘n gevangenis in Pointe-Noire in die suide van die Kongo probeer ontsnap. Die drama laat ‘n mens se hare regop staan van afwagting, aldus die beoordelaars, en is Radioteater uit die heel boonste rak. Dit is Lampen se heel eerste radiodrama.

Tweede plek: Die Kind
Janine Fox van der Linde van Stellenbosch het die tweede plek verower met Die kind. Dit is haar debuut-radiodrama en sy ontvang R15 000.

‘n Jong ma van die Kaapse Vlakte rou steeds oor haar sewejarige seuntjie wat op sy sewende verjaardag spoorloos verdwyn het. Sy bly glo dat hy sal terugkom en dat hy nie dood is, soos almal glo nie. Die kind is ‘n emosioneel-belaaide storie wat oorgenoeg humor en ligtheid bevat met ‘n kostelike einde en outentieke karakters.

Van der Linde het in April vanjaar RSG en Sanlam se radiodrama-skryfskool bygewoon en dit was glo vir haar ‘n “eye-opener” – sy sê ‘oog-oopmaker’ klink net nie reg nie – en het dadelik begin skryf.

Derde plek: Nagmaal vir twee
‘n Groep van sewe lede van die Gebruikerskomitee van die Moot Gemeenskapsbiblioteek in Pretoria beklee die derde plek met hul radiodrama, Nagmaal vir twee. Die groep beskryf hulself as lede van die “gryskop brigade” en het die radiodrama-inskrywing as ‘n fondsinsamelingsprojek aangepak. Hulle ontvang R10 000 se prysgeld.

‘n Bejaarde Afrikaanse plaasboer en sy swart jeugvriend en oud-plaaswerker bevind hulle uiteindelik saam in dieselfde ouetehuis. Op die vooraand van die kerkbasaar besluit die boer om ‘n paar lekkernye te gaps om langs die rivier te gaan braai. Met brood en wyn wag hulle vir die hout om kole te word, maar die gesprek neem ‘n wye draai terug tot in die verlede, met verreikende gevolge vir albei…

Nagmaal vir twee is ‘n sensitiewe drama wat met groot deurdagtheid en menslikheid geskryf is.

Jong Skrywer: Kopskoot
Die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) is deur die Kaapse sielkundige Gerda Kriel ingepalm. Sy ontvang ook R10 000 vir haar radiodrama, Kopskoot. Dit is haar tweede radiodrama, nadat sy in 2014 dieselfde kategorie gewen het met haar debuut, Swanesang.

‘n Afgelegde polisiekaptein besoek ‘n sielkundige. By die werk het sy woedebuie sy loopbaan gekniehalter. Maar nou, by die sielkundige, is dit gou duidelik dat hy ‘n ander agenda het. Een wat niks goeds voorspel nie…

RSG gaan die vier wendramas tydens die eerste Radioteater-seisoen van 2017 uitsaai. Dié seisoen begin in April.

Die kompetisie het vanjaar meer as 120 inskrywings ontvang. Die eerste paneel beoordelaars het vyftien finalis-tekste geïdentifiseer en die skrywers het toe mentorskap ontvang voordat die tekste deur ‘n nuwe paneel beoordelaars vir die eindronde beoordelaars gelees is.

“Dit is ‘n reuse-belegging deur Sanlam in Afrikaanse drama en radiodrama-skryfkuns,” sê Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama. “Boonop bewys die vele vlakke van die kompetisie dat beginners deur die slypskole en mentorskapproses met gemak ‘n wendrama kan skryf.”

 

Kategorieë