Radiodrama-wenners op 2 Desember bekend


Die wenners word op Vrydag 2 Desember tussen 15:00 en 17:00 in Spitstyd aangekondig.

RSG het vanjaar bykans 110 inskrywings ontvang vir die RSG radiodrama-skryfkompetisie,skryf Kobus Burger.

Die kompetisie is vanjaar moontlik gemaak deur Sanlam en NATi (die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief). Die prysgeld vir vanjaar se kompetisie beloop R115 000. Die algehele wenner ontvang R50 000. En die wentekste word vanaf April 2023 in RSG se Eerste Radioteater-seisoen uitgesaai.

Die tekste word deur twee onafhanklike buite-panele beoordeel. Ná die eerste ronde van beoordeling kry die finaliste ‘n kans om hul tekste te slyp en ontvang ook mentorskap van ‘n radiodrama-regisseur. Die finale tekste word aan ‘n nuwe paneel beoordelaars voorgelê en die wenners word dan op Vrydag 2 Desember tussen 15:00 en 17:00 in Spitstyd aangekondig.

RSG het ook vanjaar ‘n gratis radiodrama-slypskool aangebied wat deur altesame 35 luisteraars bygewoon is. Dit is aanlyn aangebied deur Kobus Burger, RSG se senior regisseur mandaat.

RSG se radiodrama-kompetisie is vanjaar vir die 26ste keer aangebied en is een van die oudste skryfkompetisies in Afrikaans.