Radioteater-seisoen sluit af met George Weideman se ‘Sand’


29 Junie 2017: Die Radioteater-seisoen word op Donderdag 29 Junie afgesluit met ‘n argiefdrama – wyle George Weideman se Sand. Weideman (foto regs) sou vanjaar sy 70ste verjaardag gevier het.

Sand het in 2003 die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie gewen en is in 2006 deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns met die erepenning vir Afrikaanse hoorspel bekroon.

Dit is ‘n spanningsdrama waarin die sielkundige impak van onreg op die mens ondersoek word met motiewe soos gierigheid, wraak en selfsug wat aangeraak word.

Wyle George Weideman was benewens kinder- en jeugverhaalskrywer ook radiodramaturg, digter, vertaler en samesteller. RSG vier sy 70ste verjaardag – wat hy vanjaar op 2 Julie sou gevier het – met die uitsending van sy veelbekroonde radiodrama, Sand. Dit word op Donderdag 29 Junie om 20:00 in Radioteater uitgesaai.

Die storie
Petra en haar ma Ragel woon op die afgeleë plaas Waaisand in die dorre streke van Namibië naby Sossusvlei. Petra se pa het weggeloop toe sy nog ’n baba was en sy koester steeds ’n wrok teen hom oor hierdie verraad. Sy verwag dat hy tog eendag sal terugkeer, soos ’n misdadiger terugkeer na die toneel van die misdaad.

Twintig jaar later kom ’n sekere Herman by die plaas aan, op soek na ’n potjie robyne waarvan die triekster-figuur, die swerwer Sysie, hom vertel het. Petra lê hom voor en skiet hom dood, waardeur ’n onreg van die verlede reggestel word en die bewyse deur die sand toegewaai word…

Die spelers

Johan en Lida Botha (Foto: Marlene Malan)

Die spelers is Lida Botha, Juanita Swanepoel, Johan Botha, Joanie Combrink en Christine Wessels met oorspronklike musiek deur Garth Erasmus.

Die regisseur is Johan Rademan van hierdie argief-drama.

Sand is die afsluiting van RSG se eerste Radioteater-seisoen van 2017. Die tweede seisoen duur van Oktober tot November.

Radioteater word van April elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

Categories