Renske by twee geleenthede bekroon


Renske Jacobs, RSG-omroeper en dogter van die bekende SAUK-omroeper Roelf Jacobs, is bekroon met die Liberty-toekenning vir radiodrama. Renske het ook pas ‘n ATKV-mediaveertjie ontvang as regisseur van ‘n ander radiodrama. Roelf was destyds self ‘n kranige radio-akteur en jy sal hom waarskynlik die beste onthou vir die gewilde kinderprogram Otterjasie. Ons het ‘n paar vrae aan Renske gestel en hier is wat sy als te sê het…

Hoe het jy in drama beland?
My ma vertel altyd dat ek, toe ek so vier jaar oud was, op kort kennisgewing ingestaan het vir een van haar senior drama-leerlinge wat siek geword het,‘n paar dae voor ‘n groot AG Visser-konsert wat sy gereël het.

Sy het glo hande in die hare gesit, want dit was nogal baie woorde, en toe se ek vir haar dat ek die woorde ken. Ek het mos die hele tyd bygesit terwyl hulle al daai weke voor die tyd gerepeteer het. So het ek die woorde gememoriseer, sonder dat ek eers geweet het.

Dit was my eerste verhoogproduksie en sedertdien was ek nog altyd op een of ander manier by drama betrokke. My ma, Diekie, was ‘n drama-afrigter met haar eie ateljee; my pa, Roelf, was betrokke by SAUK se radio en TV en het my afgerig vir toesprake; en my twee sussies, Ane en Marjulet, het jaar na jaar saam met my aan kunswedstryde deelgeneem.

Ek het gematrikuleer aan die kuns en dramaskool, Pro Arte, en het drama by die destydse Technicon Pretoria geswot.

En toe ek 10 jaar gelede die Donderdagaandskof op RSG erf, en daarmee saam twee radiodramaseisoene per jaar, het dit vir my gevoel asof die beste sitplek in die hele radioteater aan my gegee word – al wat ek moet doen is om saam met die luisteraars terug te sit en met oorgawe te luister.

Radiodrama na radiodrama het ek gehoor en al die terugvoer gesien, en die genre so goed leer ken. Ek het ook vir ‘n paar jaar in vervolgverhale en dramas gespeel vir Evert Snyman, Bettie Kemp en Mari Snyman.

Maar die groot leerskool was Poen en Toekie, RSG se kinderprogram, waarvoor ek en Christelle Webb-Joubert verantwoordelik was. Ons moes elke week ses episodes uitdink, skryf en opneem, en dan onsself regisseer, omdat ons al twee al die karakters moes speel ook. Ons het dit vir amper ses jaar gedoen. Dit het ons gebrei……..

Toe ek dus in 2015 as volwaardige dramaregisseur by RSG aangestel is, het ek van meet af gemaklik gevoel om dramas vir radio te vervaardig. Dis vir my ‘n veilige en bekende medium – maar die beste van alles is dat dit werklik grensloos is. So baie van die wilde idees wat ek al aan gedink het maar nog nooit kon gebruik nie, kon ek in die dramas wat ek die afgelope twee en ‘n half jaar vervaardig het, inspan. Dit gaan uiteindelik oor hoe baie van jou tyd en energie jy bereid is om daarin te sit.

Wat was jou pa se invloed op jou lewe?

Ek wonder nogal baie wat my pa van my werk sou sê, en ek dink dat dit mens se gene is wat maak dat jy dadelik gemaklik in sekere rolle voel.

Hy was destyds ook ‘n dramaregisseur, akteur en omroeper, maar ek kom nou eers agter dat ek hom nie regtig op ‘n professionele vlak geken het nie. Want hy was maar 49 toe hy oorlede is – en in daardie stadium was ek nog ‘n moeilike tiener wat net belang gestel het in boyfriends en maatjies en klere, so ek het nie regtig geweet wat my pa alles gedoen het nie.

Hy het dus eers ‘n invloed op my professionele loopbaan gehad na sy dood – op ‘n genetiese vlak as ek dit so kan stel.

Wat doen jy as jy nie uitsaai of besig is met dramas nie?
Ek en my man, Jeremy het in 2011 ouers geword van ‘n pragtige seun, Tayo, wat nou amper ses is, en onlangs sy eerste tand gewissel het! Wanneer ek dus nie besig is met radiowerk nie, is ek ‘n ma. En ek is baie, baie ernstig oor hierdie rol. Gevolglik is ek nie eintlik sosiaal nie – ek doen hoofsaaklik goed saam met Tayo en Jeremy. Maar soms is daar funksie of vertoning waarna ek genooi word en wat die moeite werd is om by te woon, en dan is dit lekker om ‘n bietjie saam met die grootmense te kan kuier.

Voor Tayo se koms was ek ‘n kranige vuurdanser en –eter wat oral oor die land gigs gedoen het. Ek het egter sedertdien net kans gehad om twee keer op te tree, maar Tayo het nou die dag gese hy wil sien hoe ek dit doen en dat ek hom moet leer!

Vertel ons meer oor Bloedlyn, die drama waarvoor jy bekroon is.
Elke keer wanneer ek n radiodrama vervaardig, stort ek ‘n stukkie van my siel in die werk deur tyd te vat om: die teks vir radio aan te pas; die regte rolverdeling te kry; behoorlike beplanning te doen sodat die opname glad kan verloop; en vir die redigering en poleerwerk daarna.

BLOEDLYN lê my egter baie na aan die hart. Met hierdie werk het ek so baie op ‘n persoonlike vlak bereik. Ek het ‘n klomp dinge aan myself bewys. Dit was vir my ‘n ‘next level’ projek – ek het gewaag en dinge gedoen waaroor ek normaalweg net sal dink. Daarom is ek so tevrede dat dit BLOEDLYN is waarmee ek ‘n LIBERTY- toekenning kon wen.

Die skrywer, Martyn le Roux, het ‘n Veertjie in 2016 gewen met BLOEDLYN se teks. Hy het dit reggekry om nie net te fokus op die grusame aspek van ‘n weerwolfverhaal nie – hy’t ook ‘n sappige stukkie geskiedenis ingewerk en het karakters geskep waarin die akteurs werklik hulle tande kon sink.

Ek het ook gewerk met ‘n rolverdeling wat my toegelaat het om te kon eksperimenteer. Almal (Robbie Wessels, Marina Coetzee, Johnny Klein, Karen Wessels, Rouel Beukes, Sue Pyler en Bradley Olivier) het hulle karakters met mening vertolk, en hulle stamina was indrukwekkend – die drama is ‘n uur en 40 minute lank, so die opname was ‘n hele paar intense ure lank.

Ons het spesiaal byklanke geskep vir BLOEDLYN – dis ‘n weerwolf-storie waarvoor ek baie spesifieke byklanke in gedagte gehad het – so daar is heelwat tyd en moeite aan die opspoor van die regte klanke afgestaan. Ek was kieskeurig oor hoe elke weerwolf moes klink, en die volgorde en tydsberekening van die spanningstonele. Die weerwolf-aanval moes net reg wees, om dit so treffend moontlik te maak.

Die meeste van die musiek kom van die klankbaan van die Batman-fliek ‘The Dark Knight Rises’ deur Hans Zimmer. My man versamel flieks en musiek en hy’t eendag toe ek verby sy kantoor loop, die temaliedjie van die fliek hard gespeel, en dit het my asem weggeslaan en my in my spore laat stop! Dit was nog voor ek geweet het ek gaan BLOEDLYN vervaardig. Ek het met daardie musiek in my kop rondgeloop, en toe ek die teks kry, het ek dadelik geweet dis BLOEDLYN se musiek.

Lees hier meer oor Bloedlyn en kyk na foto’s en ‘n video wat tydens die opname geneem is. Luister hier na die potgooi van Bloedlyn.

Jy sê jy is dankbaar vir baie dinge?
Ek is dankbaar vir RSG wat vir ons die platform bied om ons dramas te kan skep, en vir Kobus Burger – hoof van Drama by RSG – vir die vele geleenthede wat hy vir ons almal skep en bied. Lank lewe die radiodrama en Radioteater op RSG.

RSG sê: Geluk Renske!