Renske maak debuut as dramaregisseur


Renske Jacobs debuteer vanaand as dramaregisseur met die drama Wat sal die mense sê? Hier is ‘n bietjie agtergrond oor die drama en ‘n kykie agter die skerms toe die drama opgeneem is.

Die storie
Wanneer Marietha de Villiers besluit om by Ikeys drama te gaan swot, is haar ouers nie gelukkig nie. Hulle kan nie verstaan hoekom sy altyd anders wil wees en nie soos die res van die familie ook by Maties studeer nie. Sy volg egter immers haar eie kop, en daarom kan hulle haar nie keer wanneer sy afsit Kaap toe nie.

Maar dan verdwyn sy – soos ‘n groot speld – en al wat haar kamermaat weet, is dat sy laas saam met n vriend gesien is…….

Luister hier na ‘n kort klankgreep uit die drama.

 

Die opname
In Donderdagaand 28 Mei se Radioteater word Perdita Van Dijk Du Bois se debuutdrama Wat Sal Die Mense Sê om 20h00 uitgesaai. Die werk spruit uit haar passie om mense oor alle grense heen nader aan mekaar te bring, en dit hanteer temas wat veral jongmense raak. Onbeplande swangerskap en liefde oor die kleurgrens is kwessies waarmee jongmense daagliks gekonfronteer word. Godsdiensverskille, materialisme en ‘n afwesige ouer is ook alles knelpunte wat deel is van ons alledaagse woordeskat.

Die akteurs
‘n Paar bekende name span vir die eerste keer hulle talente as radioakteurs in – Simon Bruinders, Fatima Abdool asook Cindy Swanepoel. Die ander rolle word vertolk deur Donovan Pietersen, Christelle Webb-Joubert en Lochner de Kock.

Renske oor haar debuut
Die werk word opgevoer onder spelleiding van Renske Jacobs en dis ook haar debuutwerk as regisseur.

“Om regisseur te wees moet jy baie kyk en luister en inneem en dan die moed en energie bymekaar skraap om jou wildste kreatiewe idees gestalte te gee. En dan moet jy dit uitlewer aan die luisteraar…..en hoop vir die beste”

Die musiek
Dis ‘n drama met ‘n hele paar intriges wat ‘n mens moet volg, maar dit het ‘n duidelike storielyn, sodat ‘n mens kan ontspan terwyl jy luister. Die musiek is met sorg gekies om die storie in te kleur en dit sluit bekende liedjies van verskillende eras in. Alle ouderdomme sal daarby aanklank vind.

Ernstig aan die konsentreer

Renske ernstig aan die konsentreer

Renske se notas toe sy die musiek vir die drama beplan het

Renske se notas toe sy die musiek vir die drama beplan het

Renske Jacobs in die regisseurstoel en Evert Snyman Jr, verantwoordelik vir klank, in die agtergrond.

Renske Jacobs in die regisseurstoel en Evert Snyman Jr, verantwoordelik vir klank, in die agtergrond.