RSG en Cordis Trust bevorder weer geestelike radiodramas


RSG en die Cordis Trust, ‘n liefdadigheidsorganisasie wat die Afrikaanse woordkuns bevorder, span weer vanjaar saam om die skrywers van geestelike dramas te beloon.

Die RSG en Cordis Trust Christelike radiodrama-skryfkompetisie 2016 is gemik op nuwe radiodramas met ‘n godsdienstige of geestelike strekking. Die oogmerk is om radiodramas vir uitsending op Kersdag en Goeie Vrydag te bekroon, waarvan die eerste uitsending reeds op Kersdag 2016 op RSG sal wees. Die radiodrama vir Goeie Vrydag sal in 2017 geskeduleer word.

Screen Shot 2016-08-16 at 1.43.38 PMVerlede jaar het Joey van Niekerk (foto links) van Pretoria die kategorie vir beste Paasdrama gewen met haar stuk, Judas van Keriot. Dit is op Goeie Vrydag op RSG uitgesaai.

Foto fmCordis Trust is deur Fanie Marais (foto regs) ingestel ter nagedagtenis aan sy oorlede dogter wat ‘n passie vir die woordkuns gehad het. Cordis is die Latynse woord vir: “uit die hart uit.” Fanie sê dat hy hierdie radiodrama-skryfkompetise vir godsdienstige of geestelike werke sien as een van die oogmerke van die trust om geleenthede te bied aan begaafde skrywers wat nie andersins geleenthede sou kry om in hierdie genre te skryf nie.

Die sluitingsdatum van die RSG/Cordis Trust Christelike radiodrama-skryfkompetisie vir 2016 is Maandag 17 Oktober om 20:00 en die wenner in beide kategorieë ontvang prysgeld van R5 000. RSG betaal ook die wenskrywer wanneer die radiodrama uitgesaai word.

Meer inligting oor die kompetisie, sowel as die kompetisiereëls en inskrywingsvorms is op RSG se webblad beskikbaar by www.rsg.co.za of by Flip Loots gedurende kantoor-ure by 012 998 2389, of flip@triplemproductions.co.za.

Die spertyd vir die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie vir 2016 was op 30 Junie. Die inskrywings word tans beoordeel, waarna die kortlys-tekste verder met die hulp van ‘n mentor geslyp kan word. Die wenners van die RSG Sanlam-radiodrama-skryfkompetisie word op Vrydag 25 November tussen 15:00 en 16:00 in Tjailatyd op RSG aangekondig.

Vir meer inligting, kontak Kobus Burger:
Tel: 011 714 2724,
E-pos: kburger@rsg.co.za

 

 

 

 

Kategorieë