Hier’s radiodrama wenners


Die wenners word hiermee aangkondig: 

  • Die dramaturg Charles J. Fourie se radiodrama, Vergifnis, het die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2015 gewen. Hy ontvang R22 000 se prysgeld.
  • Die skrywer Marita van der Vyver se Genade is in die tweede plek.
  • Zenobia Kock se Die nag van die wyses is ‘n “pragtige, poëtiese teks” wat die derde plek behaal het.
  • In die kategorie vir skrywers jonger as 30 jaar het Erica Harris van Potchefstroom met haar debuut-radiodrama, Die eksentriekes, met die louere weggestap.

Baie inskrywings
“Die kompetisie het vanjaar bykans 130 nuwe radiodramas gelok,” sê Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG. “Die beoordelaars was vol lof vir die uitstekende tekste en die finaliste se hantering van dialoog, asook hul manier om die stories na ‘n klimaks op te bou.”

Meer oor Fourie se Vergifnis
In Vergifnis lei ‘n bejaarde vrou in ‘n rolstoel ‘n protesoptog van Touwsrivier na die Parlement in Kaapstad. ‘n Jong man wat haar in haar huis beroof het, het ingestem om haar in die rolstoel na Kaapstad te stoot waar sy die toenemende misdaad en gebrek aan werksgeleenthede vir jongmense onder die regering se aandag wil bring. Tydens hul reis sluit al hoe meer mense by hul aan en word dit ‘n kleurvolle optog vir verandering.

charles j. fourieDié “ode aan vergifnis in ‘n land waar ons daagliks sukkel met die toepassing daarvan” is ‘n boeiende, filmiese verhaal wat terselfdertyd snaaks én roerend is. Die beoordelaars beskryf dit as “betowerend”.

Fourie is onder andere die skrywer van die radiodrama Offer, wat met die Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans bekroon is. Sy drama, Ella se perde, is verlede jaar tydens die RSG Kunstefees uitgesaai.

Marita van der Vyver se Genade in tweede plek
marita van der vyverDie skrywer Marita van der Vyver se Genade is in die tweede plek. Die radiodrama is ‘n hartroerende verhaal wat die luisteraar op ‘n intelligente manier deur al die fases van Alzheimer se siekte neem. Die beoordelaars het dit beskryf as ‘n “meesterklas in hoe om ‘n storielyn met ‘n voorspelbare en onafwendbare einde fassinerend te hou”. Van der Vyver se debuut-radiodrama Bagasie is al deur RSG uitgesaai. Sy is R12 000 ryker.

Zenobia Kock se Die nag van die wyses
zenobia kock
Zenobia Kock se Die nag van die wyses is ‘n “pragtige, poëtiese teks” wat die derde plek behaal het. Dit is ‘n soort Kersverhaal met heelwat kinkels en onthullings. Kock, bekend om die boeke Die mense wat so rou is asook Die kruppel engel, ontvang prysgeld van R8 000.

Erica Harris se Die eksentriekes
In die kategorie vir skrywers jonger as 30 jaar het Erica Harris van Potchefstroom met haar debuut-radiodrama, Die eksentriekes, met die louere weggestap. Harris (21) se radiodrama is gevul met interessante karakters en goed geskrewe dialoog en is volgens die beoordelaars ‘n ks wat ‘n prys verdien. Haar prysgeld is R8 000.

Wen dramas word vanaf April 2016 uitgesaai
RSG gaan die vier wendramas tydens die eerste Radioteater-seisoen van 2016 uitsaai. Dié seisoen begin in April.

 Radiodrama-skryfkompetisie weer in 2016 aangebied
Danksy Sanlam se finansiële bystand word die radiodrama-skryfkompetisie weer in 2016 aangebied. Daar sal ook weer in 2016 gratis radiodrama-slypskole in Kaapstad en Johannesburg deur RSG en Sanlam aangebied word. Dit sal op RSG (100 tot 104 fm) geadverteer word. Die sluitingsdatum vir die 2016-kompetisie is Donderdag 30 Junie 2016. Besoek RSG se webblad by www.rsg.co.za om op hoogte te bly of sluit by RSG se maandelikse nuusbrief via die webblad aan.

rsg.co.za

@zarsg op Twitter

Of besoek die RSG-kanaal op YouTube

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kategorieë