Luister weer na RSG se Kersdrama: Somer van Ses-en-vyftig


Datum van uitsending: 25 Desember 2016 15.00

As jy dit misgeloop het, klik hier om daarna te luister.

Engela van Rooyen-Linde se Somer van Ses-en-vyftig het met die louere weggestap in die kategorie vir beste Kersdrama in die RSG Cordis Trust se Christelike Radiodrama-skryfkompetisie vir 2016.

Die ‘gewone’ tema van die verlore seun wat Kersfees huis toe kom, word hier nuut, met deernis en begrip vir die karakters en wat hulle deurgemaak het, aangebied. Die beoordelaars het dit beskryf as ‘n “uitstekende drama wat vir 100 jaar nog vars sal bly”.

Dié radiodrama wat op Sondag 25 Desember om 15:00 uitgesaai sal word, is met R5 000 bekroon.

Helena Hugo, regisseur vertel:
Vertellings rondom Kersfees word dikwels gekenmerk deur ‘n gelukkige einde. Jy hoor en jy lees van oorlogvoerende nasies wat hul gevegte op Kersdag opskort en oor en weer kuier, van familievetes wat uitgemaak word, kinders wat uit ver lande tuiskom…

Toe ek Engela se “Die somer van ses-en-vyftig” lees, het ek onthou hoe my oom wat in die Tweede Wêreldoorlog was, met ’n hink geloop het en snags sy huismense wakker geskreeu het, hoe my ma gebid het dat my broers eerder dood as vermink van die grensoorlog af terugkom. So het dié drama ’n soort ontroering by my gewek. Kameraadskap tussen soldate, die wedersydse opoffering van manne wat mekaar belowe dat die een wat oorleef, huis toe sal gaan en na die ander se geliefdes sal omsien, verg moed. Tog, om ná jare van verwydering ’n misverstand uit die weg te ruim, kom nie uit eie krag nie. Dit is ’n Kersgeskenk uit die hand van die Vader wat sy Seun uit die hemel gestuur het sodat die mensdom op aarde, van sonde verlos, voluit kan leef.

“Somer van ses-en-vyftig” is ’n nostalgiese terugblik op ’n hartseertyd in die geskiedenis van die wêreld, maar dit bring ook ’n hoopvolle kyk op die toekoms. Sal daar vrede wees, is daar ’n beter toekoms vir ons kinders? Die antwoord lê opgesluit in een woord – vergifnis.

Sluit op Kersdag net ná die drieuurnuus by ons aan vir die wenner van die Kersafdeling van RSG en Cordis Trust se Christelike Radiodramaskryfkompetisie vir 2016 – “Die somer van ses-en-vyftig” – deur Engela van Rooyen-Linde – en kom deel in die ervaring van twee oumense wat lank ná die oorlog eers kon vrede maak.

Die rolle word deur Rina Nienaber, Karen Wessels, Francois Stemmet, Duncan Johnson, Francois van Rensburg, Donovan Pietersen en Luan Jacobs vertolk.

Meer oor die skrywer – Engela van Rooyen-Linde
Engela van Rooyen-Linde is op 11 Augustus 1939 op Kakamas in die Noord-Kaap gebore. Sy is ‘n veelsydige skrywer wat al vir volwassenes én kinders geskryf het.  Verskeie van haar jeugboeke is al vir skole voorgeskryf en haar roman, Vuur op die horison, was op die kortlys vir die M-Net-prys.

Haar getroude naam is Engela Linde, maar sy het ook al liefdes- en ander verhale onder die name Louisa du Toit en Barend Bornman gepubliseer. In 2005 het sy die Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer) vir Vuvuzela ontvang. En haar tydlose Paasdrama, Wie is bang vir die goeie wolf?, is in 2014 op RSG uitgesaai. Van Rooyen-Linde het al verskeie radiodramas geskryf en haar Paasdrama, Wie is bang vir die goeie wolf?, is in 2014 uitgesaai. Sy is al so vroeg as 1970 bekroon vir haar hoorspel, Die kokerbome sal dit uitroep.

Die spelers
Die rolle in Somer van Ses-en-vyftig word deur Rina Nienaber, Karen Wessels, Francois Stemmet, Duncan Johnson, Francois van Rensburg, Donovan Pietersen en Luan Jacobs vertolk.

Die regisseur is Helena Hugo.

 

Hier is ‘n kykie agter die skerms met die opname van die drama:

Donovan Pietersen, Francois van Rensburg, Karen Wessels, Luan Jacobs, Helena Hugo en Rina Nienaber

Francois van Rensburg, Donovan Pietersen, Karen Wessels, Luan Jacobs, Helena Hugo en Rina Nienaber