Skote gaan klap in ‘Paradiso’


Paradiso is ‘n splinternuwe aksiebelaaide vervolgverhaal deur die bekroonde dramaturg Charles J. Fourie. Dit is ook die opvolg op sy vorige twee RSG-vervolgverhale Inferno en Purgatorio.

Paradiso begin op Maandag 29 Desember om 14:45 en behoort – soos Fourie se vorige stories – luisteraars te laat naels byt én vir weke lank vasgenael voor die draadloos te laat sit.

Charles J. Fourie

Charles J. Fourie

Van die gewilde karakters soos baasspeurder Frans Malan (Leon Kruger), die pragtige Marijke Louw (Shirley Ellis), en die vreesaanjaende reeks-moordenaar Arlo Madder (Petrus du Preez), keer terug vir ‘n nuwe ronde van moord, liefdesintrige, en ‘n kykie in die lewens van die groep speurders wat teen ‘n wedloop vir tyd is om die reeksmoordenaar vas te trek.

Die aksie in die nuwe vervolgverhaal skop af wanneer die reeksmoorder Arlo Madder, wat sy moorde op die werke van die Italiaanse digter Dante Alighieri se middeleeuse werke skoei, uit ‘n koma ontwaak en uit die hospitaal ontsnap. Hy begin ander mense identiteite aanneem, en sal helaas so naby sy geliefde Marijke Louw kom dat sy nie besef dat hy eintlik saam met haar werk nie.

Aan die anderkant moet die geharde oud-speurder Frans Malan lyfwag speel vir ‘n opgeskote jong Openbare Beskermer, Denise Morkel, wie se lewe bedreig word na sy ‘n netwerk van korrupsie in die regering oopvlek.

Fourie se enkeldrama Offer is vroeër vanjaar bekroon met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radio-hoorspel in 2014. Verlede maand was sy die radio-verwerking van sy verhoogstuk, Ella se perde, een van die hoogtepunte tydens RSG se tweede op die lug kunstefees.

In Paradiso sal ‘n reeks uiteenlopende akteurs hul verskyning maak. Die rolverdeling sluit in Brendon Daniels, Susanne Beyers, Neels Coetzee en Sue Pyler. Verskeie nuwe spelers, soos onder andere Jarrid Geduld, sal hul radio-debuut in dié nuwe reeks maak.

Die regisseur is Eben Cruywagen.