Verbysterende debuutdrama


“Selde of ooit kry ‘n mens ‘n debuutdrama soos Van die vlees deur die kreatiewe dramaturg, Karien Polley, wat soveel ware gebeure uit die jaar 1706 met mekaar vervleg dat dit ‘n mens met verbystering laat. Hoe kon dinge so maklik verkeerd loop?”

Só vertel die bekroonde radiodrama-regisseur Johan Rademan van sy ervaring met die opname van Van die vlees, wat op Donderdag 12 November om 20:00 in Radioteater op RSG gehoor kan word. Rademan was onder andere die regisseur van Charles J. Fourie se Offer, wat met die Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans bekroon is.

RSG-drama ateljee, Kaapstad: Joey Meissenheimer (Rosiena), Johan Rademan (regisseur) en Karien Polley (skrywer) in ligter luim tydens die opname van Polley se drama, VAN DIE VLEES.

RSG-drama ateljee, Kaapstad: Joey Meissenheimer (Rosiena), Johan Rademan (regisseur) en Karien Polley (skrywer) in ligter luim tydens die opname van Polley se drama, VAN DIE VLEES.

Luister na ‘n klankgreep uit die drama:

Frans Kleinhans het ‘n jong slawevrou, Rosiena, “gelyfeien” soos dit in 1706 aan Die Kaap van Storms bekend gestaan het. Buiten ‘n ander slawemeisie, Dina, wat hy swanger gemaak het, dwing hy hom ook aan Rosiena op. En skielik is daar nog ‘n swangerskap.

Sy onvrugbare vrou, Anna, wil van hom skei, maar in die ware geskrifte uit 1706 waarop hierdie drama gegrond is, word daar aangehaal: “Moederskap is ‘n feit; vaderskap ‘n kwessie van opinie…” Nou kom die kerk, regter, toordokter en slawe in gedrang.

Die spelers in hierdie volwasse drama is Deon Lotz, Hannah Borthwick, Joey Meissenheimer, Theresa Cloete, Ivan Abrahams, Johann Nel, André Samuels en Chris Majiedt. Ouerbegeleiding word vir jonger luisteraars aanbeveel.

Rademan sê die akteurs lewer “uitstaande vertolkings” en dat hierdie ‘n eg Suid-Afrikaanse drama is wat “tot op die been gaan sny en ‘n paar senuwees sal blootlê”.

'n Skildery deur Nicolas de Fer beeld Kaapstad in 1705 uit.

‘n Skildery deur Nicolas de Fer beeld Kaapstad in 1705 uit.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodrama word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

 

 

www.rsg.co.za

Kategorieë