Luister weer na Chris Barnard se ‘Lafras Verwey’


Chris Barnard is op 28 Desember 2015 in die ouderdom van 76 jaar oorlede. Steeds word sy (nou reeds klassieke) radiodrama, Die rebellie van Lafras Verwey, as ‘n baanbrekerswerk beskou en ‘n klankervaring wat min ander skrywers tot nog toe kon ewenaar.

Op Donderdag 12 Mei saai RSG hierdie argief-drama met die akteur Cobus Rossouw in die titelrol om 20:00 in Radioteater uit.

Luister hier na die drama as jy dit misgeloop het.

Lafras is ‘n Jan Alleman wat vasgevang is in ‘n burokratiese stelsel. Hy is ‘n dromer en begin mettertyd lugkastele bou om van die sleurwerk te ontsnap. By die werk word hy gespot en hy sluit uiteindelik by ‘n groep ondergrondse rebelle aan. Hy vervaardig vir hulle plofstof en smokkel wapens vir ‘n rewolusie wat kom…

Wanneer Lafras op sy fiets ry of selfs die badkamer besoek, marsjeer hy saam met die rebelle en staar hy die vyand in die gesig. Hy ontmoet later vir Petra, ‘n reeds swanger meisie, wat hy op sy fiets hospitaal toe neem vir haar bevalling, maar wanneer hy terugkeer huis toe neem sy lewe ‘n skielike wending.

Die rebellie van Lafras Verwey is op 5 Maart 1971 onder spelleiding van Cor Nortjé opgeneem. Wyle Joey de Koker vertolk die rol van Petra en van die ander spelers sluit in Dana Niehaus, André Walters en Hennie Smit.

Die stuk is reeds in 1970 met die eerste prys bekroon in ‘n hoorspel-kompetisie deur die Belgische Radio en Televisie in samewerking met die SAUK. Josef van Hoeck se Vlaamse vertaling van die radiodrama is sowat ‘n jaar later in België uitgesaai. Dit is later ook in Nederlands, Engels, Frans, Italiaans en Sloweens vertaal en deur verskeie Europese radiostasies uitgesaai.

Barnard was ook die skrywer van romans soos Mahala en Boendoe; TV-reekse soos Onder draai die duiwel rond en die draaiboek van die fliek Die wonderwerker. Van sy ander bekroonde radiodramas sluit in Blindemol en Uitnoding tot die dans.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Besoek gerus hierdie webwerf vir meer inligting oor die verhoogstuk.

Foto: Jesse Kramer Photography

Foto: Jesse Kramer Photography

 

Kategorieë