As ‘n kind kanker kry

As ‘n kind kanker kry


As ‘n kind met kanker gediagnoseer word, is dit gewoonlik ‘n groot skok vir die gesin, want kinders is dan veronderstel om te kan uitsien na ‘n lang en voorspoedige lewe.

Maar gelukkig het die suksessyfer vir die behandeling van kinders met kanker die afgelope 30 jaar dramaties verbeter en oorleef al meer kinders wat vir een of ander vorm van kinderkanker behandel is.

Marí Hudson gesels met Prof. Marianne Kruger, hoof van pediatrie en kindergesondheid by die Universiteit van Stellenbosch en die Tygerberg Hospitaal, en ook hoof van kinderonkologie, oor kinderkanker. Luister hier na die program.

Hier is enkele belangrike punte:

  • Kinders se kanker as anders as dié van grootmense. Dit vorm uit embrionale selle wat vinniger verdeel as grootmense se kanker. Volwassenes se kanker ontstaan gewoonlik uit epiteelselle en hou meer verband met omgewingsfaktore en kan voorkom word met sekere voorkomingsmaatreëls soos om nie te rook nie. Kinderkankerselle verdeel elke 2 tot 24 uur terwyl volwassenes se kankerselle elke 2 tot 4 dae verdeel. Hierdie vinnige verdeling maak dan egter juis dat aggressiewe chemoterapie meer kankerselle tydens verdeling met elke sessies kan doodmaak en dat die behandeling aggressief is, maar juis meer suskesvol.
  • Kinderkankerselle is embrionale selle wat verkeerd begin verdeel en is dus eintlik voor geboorte reeds teenwoordig. Daar is niks wat jy kon doen om dit te voorkom nie. Die enigste wat mens kan doen, is om vroeg by ‘n kinderonkoloog uit te kom vir vroeë diagnose en behandeling.
  • Kinders se kanker kan nie voorkom word. Dit ontstaan gewoonlik eerste 10 jaar van lewe, meestal op 5 tot 6 jaar ouderdom.
  • Die algemeenste soorte kinderkanker is leukemieë (veral akute limfoblastiese leukemie wat in die beenmurg onstaan en tot abnormale limfosiete of witbloedselle lei), breintumore, niertumore (ook genoem nefroblastoom of Wilms tumor). limfklierkankers soos Burkitt limfoom, osteosarkoom (beenkanker wat dikwels in die tienerjare na vore kom) en retinoblastoom by babas wat mens optel as die pupil wit weerkaats pleks van rooi as mens ‘n kameraflits of lig op die oog skyn.
  • Elke kanker het sy eie aard en respons op behandeling.
  • Let op die volgende gevaartekens:
    – abnormale hoë koors sonder infeksies;
    – skielike gewigsverlies sonder spesifieke rede;
    – abnormale bloedings soos neusbloedings, tandvleisbloedings, klein pitbloedings op die vel;
    – huil van pyn veral in die nag;
    – vroegoggend hoofpyn en naarheid wat dalk ‘n breintumor kan wees;
    – lusteloosheid en moegheid sonder dat die kind baie oefening gedoen het;
    – wit pupil pleks van rooi was flitslig daarop skyn.
  • Die kans op genesing:
    – Leukemie: meer as 80 % oorlewing – behandeling duur tot 3 jaar met die eerste 6 maande in hospitaal.
    – Breintumore; die algemeenste is medullablastoom – die sukses word bepaal deur die posisie van die tumor. Sommige tumore kan nie chirurgies verwyder word nie en ander reageer nie goed op chemoterapie nie.
    – Burkit of Hodgkin limfoom: ie suksessyfer is meer as 90 % oorlweing met vroeë diagnose. – Dit geld ook vir so nefroblastoom en retinoblastoom.
    – As retinoblastoom baie vroeg gediagnoseer word, kan ‘n oogarts dit met ‘n lokale ingreep totaal genees sonder enige verdere behandelinhg en dit is nie nie eens nodig vir chemoterapie nie.
  • Te veel kinders word te laat gediagnoseer. Soms word te veel tyd gemors deur ander siektes te probeer uitskakel en die kind kom eers ná lang pad by kinderonkologie-eenhede uit en dit mors te veel kosbare tyd.
  • Tygerberg Hospitaal kry sowat 800 nuwe kinderkankergevalle per jaar, maar die kinderonkoloë reken daar is eintlik sowat 1500 nuwe gevalle per jaar te wees. Kinderkanker word dus sowat 50% ondergediagnoseer.
  • Kinderkanker kan goed in Suid-Afrika behandel word. Daar is sowat 30 kinderonkoloë in Suid-Afrika, maar daar is ‘n tekort aan geregistreerde verpleegkundiges.
  • Sowat 15 000 Suid-Afrikaanse kanker oorlewendes het pas ‘n kongres vir kankeroorlewendes in Kaapstad bygewoon. Baie suksesverhale is daar gedeel.
  • Kinders wat ná kinderkanker oorleef het, het ‘n baie klein kans om eendag ‘n volwasse kanker te ontwikkel.
  • Sowat 2/3 van kinders wat oorleef, hou een of ander nie-lewensbedreidigende komplikasie oor soos byvoorbeeld lengtegroeiprobleme, leerprobleme na breinkankerbehandeling, doofheid of hartpsierverswakking ná aggressiewe behandeling.
  • Kinders wat kinderkanker oorleef se probleme met lewensverserking moet uitgesorteer word, want dit is onregverdig dat hulle lewenslank benadeel word.
  • Wees versigtig vir al die kruie- en boererate. En nee, dagga is nie geskik vir kinders met kanker nie. Dit kan nie kanker genees nie. Onkoloë sal enige iets gebruik wat bewese is dat dit kanker kan genees, maar daar is nie bewyse dat dit enige kruiemiddels kinderkanker genees nie.
  • Die 3-jarige Imke Geldenhuys van Tzaneen, wat met stadium 4 neuroblastoom gediagnoseer is, ontvang tans eksperimentele 3-f-8 teenliggaambehandeling as deel van ‘n Fase 3 kliniese proef in die VSA en wel ter voorbereiding van ‘n stamseloorplanting. Stamsel-oorplantings vir neuroblastoom word ook in Kaapstad en Pretoria gedoen, en sodra die 3-f-g behandeling ná nog verdere kliniese proewe deur die FDA goedgekeur word, sal dit hopelik ook in Suid-Afrika beskikbaar wees. Tans dui die proefnemings dat die gebruik van 3-f-g die kans op oorlewing van ‘n kind met stadium 4 neuroblastoom van sowat 20% tot sowat 40% verhoog. Dit is belowende vooruitgang in die behandeling van neuroblastoom wat reeds ver gevorder het.
  • Onthou die finale boodskap – al meer kinders oorleef kinderkanker

kinderkanker

Vir meer inligting oor kanker in kinders:

Luister ook na ons dokumentêre program oor kinders met kanker:
Anderkant die geel deure
Marí Hudson neem jou op ‘n besoek aan Saal G3, die kinderkankersaal by die Tygerberg-Hospitaal in Kaapstad. Meer as ‘n duisend kinders word elke jaar met kanker gediagnoseer. Verreweg die meeste word in akademiese hospitale behandel. Kom ontmoet Suster Bantam wat al 24 jaar kinders met kanker versorg, een van die dokters, en van die ouers wat dae en weke in die hospital deurbring.