As net ‘n surrogaat my kan help om ‘n baba te hê

As net ‘n surrogaat my kan help om ‘n baba te hê


Fertiliteitsbehandeling het die afgelope 20 – 30 jaar met rasse skrede vooruitgegaan. Baie paartjies wat vrugbaargheidsprobleme het, kan gehelp word om ‘n baba te hê deur behandelings soos in vitro fertilisasie en direkte bevrugting van ‘n eiersel met ‘n spermsel. Die nuutste ontwikkelings in vrugbaarheidsbehandeling sluit in ova-skenking en -vriesing – hetsy vir die vrou wat later haar eie eierselle wil gebruik of om dit aan ‘n ander vrou te skenk, en ook surrogaat-swangerskap, waar ‘n surrogaat die paartjie se baba dra.

Die sake word in Gesondheid op RSG bespreek in ‘n gesprek met Prof. Thinus Kruger, verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch en ook die Aevitas fertiliteitskliniek by die Vincent Palotti Hospitaal in Pinelands, Kaapstad. Luister hier na die program.

‘n Paar interessante feite oor surrogaat-swangerskap:

  • Daar is ‘n groot tekort aan goedhartige vroue wat bereid is om as surrogate op te tree.
  • Tydens surrogaat-swangerskap word die skenker se baarmoeder gebruik en sy dra die baba, wat verwek word uit die eierselle en spermselle van die opdraggewende paartjie.
  • ‘n Ideale surrogaat is ‘n vrou wat reeds haar gesin voltooi het en nie self nog kinders wil hê nie; wat gesond is en wie se vorige swangerskappe sonder enige probleme of komplikasies verloop het.
  • ‘n Surrogaat se onkoste en uitgawes word alles gedek, maar die opdraggewende paartjie mag volgens wet nie die surrogaat betaal vir haar dienste nie.
  • Daar is tans verskeie vroue in Suid-Afrika wat angstig wag op ‘n geskikte surrogaat.
  • Die redes waarom die vroue nie hul eie babas kan dra nie, is een van die volgende oorsake: een is sonder æn baarmoeder gebore, maar wel met funksionerende eierstokke; ‘n ander kan weens immuun-behandeling nie self haar baba dra nie; ‘n ander ly aan diabetes; ‘n ander aan lupus.

‘n Paar interessante feite oor ova-skenking en -vriesing:

  • ‘n Vrou se vrugbaarheid neem dramaties af ná ouderdom 35 jaar. Die kans om lewe aan ‘n baba te skenk, is sowat 45% op 35 jaar ouderdom, maar daal binne 5 jaar na 25% op 40 jaar ouderdom en byna zero op 45 jaar. (Kyk na die grafiek hieronder.)
  • As die vrou egter voor 35 jaar ouderdom haar eierselletjies laat vries, is haar kans om lewe aan ‘n baba te skenk, selfs op 45 jaar ouderdom steeds tussen 50 en 60%.
  • Dit is dus aan te beveel dat vroue wat op 35 nog nie ‘n baba het nie, maar besplan om eendag wel ‘n baba te hê, van hulle eierselletjies behoort te vries.
  • Om eierselletjies te skenk aan ‘n ander vrou, sal jou geen geld uit die sak jaag nie. Al die skenker se onkostes word gedek en sy word sowat R7000 vergoed vir pyn en lyding.
  • Eierselle wat gevries word, kan vir ‘n onbeperkte tyd gevries word – 5 jaar of selfs langer – en dan wakker gemaak word en gebruik word.

IMG_2119

Kontakbesonderhede

As jy meer inligting verlang oor ova-skenking of -vriesing, of om as surrogaatmoeder op te tree, kontak die Aevitas kliniek by (021) 531-6999 of rig ‘n e-pos aan info@aevitas.co.za.

Luister ook: