Asma = die siekte van die draak


the-fire-breathing-dragon-17473Ons noem asma die siekte van die draak, want dit het twee komponente: die voortdurende vuurspuwende draak wat die konstante inflammatoriese reaksie in die bronchi veroorsaak, en die dan – net om alles soms baie lastig te maak – kan die draak sy stert op jou draai en alle asem uit jou wurg (dis nou die verduideliking vir die bronchokonstriksie of toetrek van die bronchi/lugpype).

Dr Morné Vorster, pulmonoloog van die Universiteit van Stellenbosch en die Tygerberg Hospitaal, verduidelik hoe asma werk, hoe dit uitgeken kan word, en waarom dit meestal met twee verskillende pompies behandel word. Luister hier na die program.

Hier is enkele feite oor asma

  • Asma het twee komponente:
    Asmapompies

    Asmapompies

    – chroniese inflammasie in die bronchi (lugpype) wat die binnewande van die lugpype laat swel en slym afskei en dus die opening kleiner maak, – dit kan vergelyk word met die vuurspuwende draak en is byna heeltyd aanwesig. Dit blyk dat mense met asma ‘n predisposisie het vir chroniese inflammasie in die lugpype. Die chroniese inflammasie moet in beheer gebring word met daaglikse gebruik van ‘n asmapompie wat kortisoon bevat. Anders as baie vrese vir langtermyn gebruik van kortisoonpille lei die gebruik van die hierdie asmapompie nie tot die newe-effekte van langtermyn gebruik van kortisoonpille nie, omdat kleiner dosisse reg by die plek waar dit benodig word- die longe – afgelewer word. Dit lei nie tot groeivertraging in kinders nie, of tot ‘n maangesig nie. Die daaglikse pompie kan ook ‘n leukotriene-inhibitor bevat wat dieselfde werk as kortisoon doen. Dié daaglikse anti-inflammatoriese pompie word ‘n kontrolleerder genoem en moet gebruik word om mens nou simptome van asma het of nie.
    – en akute sametrekking van die konsentriese spierlae om die bronchi, wat lei tot die toetrek van die lugpyp sodat die opening dan byna of soms heeltemal toeknyp. Dit kan vergelyk word met die stert van die draak wat om mens draai en letterlik die asem uit jou wurg. Dink ook aan ‘n luislag of boa-konstriktor om dit voor te stel. Dit word behandel met ‘n bronchodilator wat letterlik die konsentriese spierlae om die lugpyp laat verslap en dus die lugpyp se opening weer groter maak. Die soort pompie wat in die geval van ‘n akute asma-aanval gebruik word, word ‘n verligter genoem.

  • Asma is ‘n siekte in die bronchi/lugpype en nie die alveoli/longblasies nie. Emfiseem affekteer die bronchi en alveoli.
  • As asma nie voldoende beheer word nie, en die akute aanval lei tot erge toetrek van die lugpyp, kan die mens sterf. Hartpionier Chris Barnard het in die vreemde weens ‘n asma-aanval gesterf.
  • Asma ontwikkel gewoonlik in die kinderjare en gaan dan voort in die volwasse lewe. Dit is selde dat dit in die volwasse jare begin, maar as iemand in ‘n fabriek werk waar sterk chemiese stowwe vrygestel word, kan die een as volwassene asma ontwikkel.
  • Asma gaan dikwels gepaard met ‘n allergiese reaksie, hooikoors, ‘n post-nasale drip in die keel, of selfs met sooibrand. Al die faktore moet behandel word.
  • Die eerste stap in die behandeling is om vas te stel waarvoor die persoon allergies is en te probeer om die allergeen of allergene te vermy.
    Tipiese allergene is huismyt in byvoorbeeld stof, matrasse , beddegoed en matte, kos-allergieë, inaseming van stuifmeel van veral grasse en ook sommige bome, urienproteïene in honde- of kathare, kakkerlak-drolletjies en nog talle ander allergene. Die inaseming van rook en koue lug en sommige chemiese stowwe (selfs parfume) kan ook asma uitlok of vererger.
    Dit word aanbeveel dat die persoon wat aan asma ly, liefs velpriktoetse soos die RAST velpriktoets ondergaan. Neem kennis dat alle sogenaamde allergie-toetse nie werklik wetenskaplik is nie. Bly dus liefs weg van toetse wat deur ‘n nie-mediese persoon gedoen word en nie deur ‘n dokter aanbeveel word nie.
  • Dit is egter nie altyd moontlik om die allergene te vermy nie. (Hoe bly mens 100% weg van beddens en matrasse, grasperke, parke, troeteldiere en so meer?, terwyl dit wel moontlik is om rook en sekere chemiese stowwe te vermy, en die lading van eersgenoemde allergene te verminder met gereelde stofsuig, matrasbedekkings en so meer.) Dan kom die asmapompies in werking.
  • Mens ken asma meestal uit aan ‘n fluitbors (omdat die lug nou deur die vernoude lugpyp geforseer word), ‘n kughoes veral in die nag, benoudheid of moeitevolle asemhaling, benoudheid ‘n paar minute nadat jy begin oefening doen. Indien mens oefening-geïnduseerde asma kry, word dit aanbeveel dat die persoon so 10 – 20 minute voor die oefening, sy bronchodilator/verligter pompie gebruik om die toetrek van die bors te voorkom. As jy wil stap of draf terwyl dit koud is, sit ‘n bandana om jou neus en mond sodat die lug verwarm word voordat jy dit inasem.
  • Dit is belangrik om asma so goed as moontlik te kontrolleer sodat jy eintlik GEEN akute asma-aanval kry nie en dus nooit jou verligter-pompie nodig het nie.
  • Dit is moontlik om asma baie goed te kontrolleer sodat jy steeds ‘n baie goeie kwaliteit lewe kan lei en dat jy steeds aan sport kan deelneem. Ryk Neethling, Roland Schoeman en Schalk Burger Junior is enkele bekende sportmanne wat aan asma ly, maar wie se asma goed gekontrolleer word.