My DDN-storie, week#7: Ek vind weer ‘n bries in my seile!


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My sewende week was byna soos week#1. Of só het ek verwag. Ná twee weke plat met griep en bronchitis, was ek net dankbaar om weer te voel my longe is gesond genoeg om weer te kon begin oefen. Ek het Saterdag die eerste keer weer met my honde gaan stap, net om te toets hoe ek sal vaar, maar ek was maar versigtig om koue lug in te asem. Want die inaseming van koue lug gee my asma, en met my grieperasies was ek maar skrikkerig vir ‘n terugslag.

Maar Saterdag het ek rustig gestap sonder dat my longe gepla het, en Maandag selfs weer ‘n klein entjie gedraf – soveel soos in week#2, wat my moed laat skep het dat ek darem nie volslae terug is by week#1 nie.

Frederika het Dinsdag en Donderdag gelukkig my toegelaat om stadig te begin en net alles teen my eie tempo te doen. En dit het beter gegaan as week#1 en selfs week#2!

Só het my week#7 verloop:
Kopplan:
ek het gelukkig meestal positief gebly terwyl ek siek was en selfs in my moedelose dae net geweet ek sal weer begin oefen sodra ek gesond is. Dit was dus geen kwessie vir my dat ek my program wil hervat nie.

Oefenplan:
Saterdag, Maandag en Woensdag:
Ek stap eers weer 10 minute, toe 20 minute en teen Woensdag 30 minute so flink ek kan. Teen Maandag begin ek stukke tussendeur te draf, stadig, maar darem vinniger as stap.
Sondag: Die luggie is te koel en ek te versigtig met my longprobleem om dit in die koue te waag.
Dinsdag en Donderdag (op my verjaarsdag nogal!): Frederika help my om in my eie tempo te oefen, wat my help om my selfvertroue terug te kry en te besef ek het verswak, maar nie soveel as wat ek verwag het nie.
Ek is seker dit sal volgende week nóg beter gaan.

As ek weer die wind in my seile kon vind om weer te begin oefen, kan jy ook, maak nie saak om watter rede jou bootjie gestrand het nie.

Ek gaan aanstaande Saterdag aan my eerste Parkrun deelneem en wel in die Paarl se Arboretum.

Eetplan:
Ek eet elke dag vrugte, drink soggens ‘n smoothie van joghurt, vrugte en kunsmatige versoeter, sukkel om elke dag groen groente te eet maar probeer, probeer om twee tot drie keer per week vis te eet, en ook hoender, en ek eet minder brood, want ek is mal oor heerlike vars ciabatta. Dit raak nou makliker om interessante slaaie te maak of in ‘n restaurant te bestel.
Ek het wel Donderdag met my verjaarsdag my bederfdag gemaak en dinge uit my rooi mandjie geniet: outydse gebakte melktert met ‘n outydse skilferkors was my groot bederf!

Ná byna 7 weke (waarvan 2 weke oefeningloos weens griep) en 24 oefensessies:

  • is my kop gelukkig nog in ‘n beter ruimte,
  • is dit vir my makliker om gesonder te eet,
  • ek gaan beslis voort.

Ek is 4,5 kg ligter en my middellyfmate is 5 cm minder.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.