Een orgaanskenker kan baie lewens red


RSG ondersteun met trots die Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika gedurende Augustus, wanneer dit ook Orgaanskenkingsmaand is.

Op Donderdag, 6 Augustus was daar ‘n spesiale fokus met ‘n radiothon om te kyk hoeveel luisteraars deur radio-bewusmaking as orgaanskenkers registreer. Regdeur die dag is gesels oor orgaanskenking, met stories van ontvangers wat ‘n tweede kans op lewe gekry het.

Luister na ‘n klankgreep waar ‘n pasiënt wat ‘n dubbellongoorplanting ondergaan het, ‘n nuwe lewe lei. Hy vertel self sy verstommende verhaal:

Die Orgaanstigting van Suid-Afrika se 2015 veldtog

Die Orgaanstigting van Suid-Afrika se 2015 veldtog

Meer oor die Orgaanstigting van Suid-Afrika

Die Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika is ‘n nie-winsgewende intansie wat in 1988 gestig is met die doel om die kritieke tekort van orgaanskenkers in Suid-Afrika te belig. Dis deur ‘n groep sakemanne, mediese personeel, orgaanontvangers en diensorganisasies gestig.

Die Orgaanskenkerstigting Vereniging van Suid-Afrika is ‘n sambreelinstansie wat die bewusmaking, opvoeding en bevordering van orgaanskenking bevorder. Dis nie ‘n mediese organisasie nie en is glad nie betrokke by die reel of verskaffing van organe nie. Die instansie ontvang geen befondsing van die regering nie, en maak ten volle staat op fondsinsamelings en donasies van maatskappye en individue om hul doel uit te voer.

Die Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika het twee hoof fokuspunte:

  1. Om bewustheid te skep onder die Suid-Afrikaanse gemeenskap oor die groot aanvraag na skenkerorgane, en die voordele van orgaanoorplantings
  2. Om medici in die openbare en private sektor te motiveer om orgaanskenking in ag te neem wanneer hulle breindood pasiënte evalueer, en om ook ‘n meer doeltreffende verwysingsisteem in plek te stel vir orgaanoorplantings in Suid-Afrika

Die Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika adminstreer ook die noodvlugplan wat betaling van die vervoer van skenkerorgane na oorplantingshospitale dek.

Die tolvrye nommer vir die Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika is 0800 22 66 11 gedurende kantoorure (Maandae tot Vrydae van 09:00-16:00). Meer inligting is ook beskikbaar by www.odf.org.za