ADHD in volwassenes?


Gesondheid op RSG met Marí Hudson – Woensdag 24 Mei 2017

Hoe word aandag-afleibaarheid (ADHD) in volwassenes behandel? Ontgroei kinders ADHD? Indien nie, is die simptome in volwassenes dieselfde as in kinders? En is die behandeling dieselfde of anders as by kinders? Marí Hudson gesels met dr Renata Schoeman, psigiater wat betrokke was by die opstel van die nuuste assessering- en behandelingsriglyne van ADHD in volwassenes.

(Luister volgende week na ‘n breedvoerige gesprek oor Ritalin en ander behandelingskeuses.)

Agtergrond-inligting
Eerste riglyne vir volwasse ADHD in SA bekend gestel

Die eerste riglyne vir die diagnose en behandeling van volwasse aandagtekort-hiperaktiwiteitsteuring (ADHD) in Suid-Afrika is onlangs in die South African Journal of Psychiatry gepubliseer.

Meer as 1 miljoen Suid-Afrikaners tussen 20- en 50-jarige ouderdom het volwasse ADHD. Dié riglyne sal dus diegene wat aan die siekte ly, baie help om die nodige behandeling te ontvang. Dit sal pasiënte ook bedingingsmag gee wanneer hulle in gesprek tree met mediese fondse rakende die chroniese behandeling daarvan.

Die outeurs van die riglyne is die psigiaters dr. Renata Schoeman en dr. Rykie Liebenberg van die South African Society of Psychiatrists Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (SASOP) se spesiale belangegroep vir volwasse ADHD. Die omvattende riglyne vir professionele mediese praktisyns sluit assesseringsprosedures vir diagnose, keuses rakende behandeling met medikasie en terapie, en die behandelingsplan vir langtermyngesondheid in.

Die riglyne is deur ewekniee (mede-psigiaters) evalueer en deurvors. Dit is deur SASOP se spesiale belange groep bekragtig en goedgekeur, asook deur die rade van SASOP en die Psychiatry Management Group (PsychMG).

Dr. Schoeman sê ondanks die doeltreffendheid van behandeling en die aansienlike koste van ADHD wat nié behandel word nie, kry baie pasiënte in Suid-Afrika nie toegang tot gesondheidsorg en behandeling nie.

“In Suid-Afrika is daar swak uitkenning van en behandeling vir algemene emosionele welsynsprobleme op die vlak van primêre gesondheidsorg, en beperkte toegang tot spesialishulpbronne. Daar is ’n gaping van tot 75% wat dienslewering en behandeling betref.

“In ontwikkelende lande is medikasiekeuses ook dikwels beperk. In Suid-Afrika het psigiaters en pasiënte meestal nie toegang tot die medikasie-hulpbronne wat in ontwikkelde lande beskikbaar is nie. ADHD word dikwels nie gediagnoseer nie, en word ook dikwels verkeerdelik gediagnoseer. Dit kan ’n ernstige uitwerking op die pasiënt se funksionering hê, en in onnodige en duur mediese fonds- of private onkostes uitloop.”

Die riglyne noem die vereistes vir omvattende diagnostiese evaluering (op die spesialisvlak) en diagnostiese sekerheid voordat behandeling met medikasie in aanvang neem.

“Omvattende evaluering is nie tydens ’n algemene praktisyn se gemiddelde konsultasie van 15 minute moontlik nie. Dit word dus sterk aanbeveel dat die diagnose van volwasse ADHD, en die inisiering van behandeling, gedoen moet word deur ’n psigiater wat goed met die kompleksiteite van ADHD en die ko-morbide toestande daarmee geassosieerd, vertroud is.

“As ons fermer en deegliker is in die diagnose van volwasse ADHD, sal dit ook verhoed dat medikasie voorgeskryf word vir pasiënte wat die medikasie vir ander redes as die behandeling van ADHD gebruik (bv. kognitiewe verbetering). Dié gebruik verwrong statistieke ten opsigte van die voorkoms van ADHD en koste verbonde aan die behandeling daarvan en verhoog dit kunsmatig – en dit dwing mediese fondse om hul sakerisiko te bestuur deur ADHD nie as ’n chroniese siekte te dek nie.

Sodra ’n behoorlike multidissiplinêre en multimodale (psigososiale hantering sowel as medikasie) behandelingsplan daar gestel is en die pasient stabiliseer is, kan opvolgkonsultasies en hantering op primêre gesondheidsorgvlak plaasvind. Dit skep kostebesparings vir mediese fondse en verminder die druk op hulpbronne (mannekrag en finansies) op spesialisvlak. Deurlopende behandeling – wat insluit volhouding aan die behandeling deur pasiente– is baie belangrik om komplikasies en langtermynkostes te verhoed.

Dr. Schoeman sê dat indien ADHD nie korrek diagnoseer en behandel word nie, dit die langtermyngesondheid en lewensgehalte van dié wat daardeur geraak word, benadeel.

“Talle volwasse ADHD-lyers word vir die grootste deel van hul lewe nie behandel nie. Dit kan ook aanleiding gee tot aansienlik groter probleme, bv. ander psigiatriese toestande soos angs en gemoedsteurings, of dwelm- of drankmisbruik. In ’n werksomgewing kan hul swak tydsbestuur, doelbepaling, stresbestuur en organisasievaardighede ’n nadelige uitwerking op kollegas en werkgewers hê.”

ADHD word deur ernstige en ingekorte aandagvlakke, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit gekenmerk. Aangesien ADHD ‘n ontwikkelingsteurnis is, is die simptome reeds sedert die kinderjare teenwoordig, maar kan eers later “ontmasker” word soos die vereistes van die omgewing verander. Hoewel dit lyk asof sommige kinders hul ADHD ontgroei, is dit eerder die geval dat hulle die simptome meer vaardig bestuur. As volwassenes vergoed hulle vir hul ADHD-verwante inkorting deur lewenstyl- en loopbaankeuses.

Die riglyne spruit uit dr. Schoeman se MBA wat sy in 2015 aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) voltooi het. Hier het sy die situasie rakende die voorkoms en behandeling van volwasse ADHD die eerste keer in Suid-Afrika ondersoek, en ’n nuwe befondsingsmodel vir mediese fondse voorgestel.

Sien die riglyndokument by http://www.sajp.org.za/index.php/sajp/article/view/1060