Ken jy die regte feite oor cholesterol?


Hoe werk cholesterol? Wat is dit? Hou dit werklik verband met bloedvatskade en hartaanvalle? Hoe?

Marí Hudson gesels in Gesondheid op RSG met mediese fisioloog dr Derrick van Vuuren en klinikus dr Hans Strijdom, albei van die Divisie Geneeskundige Fisiologie van die Fakulteit Geneeskunde van die Universiteit van Stellenbosch.

Deel 1 oor Cholesterol:

 

Deel 2 oor Cholesterol:

Wat maak die liggaam met oortollige cholesterol? Waarom is ander vette in die bloed ook belangrik vir gesondheidsgevare? Waar pas cholesterol- en glukosevlakke by Banting in? Hoe kan gevaarlike cholesterolvlakke behandel word?

 

Program oor trigliseriede:
Het jy geweet dat hoë vlakke van vet in jou bloed tot pankreasontsteking kan lei? Pankreatitis is nie ‘n algemene siekte nie, maar dit kan lewensgevaarlik wees. In een geval het die behandeling van ‘n
enkele pasiënt ‘n mediese fonds meer as ‘n miljoen rand gekos, hoofsaaklik omdat die werklike oorsaak misgekyk is. Soos in dié geval, is daar heelwat gevalle waar die voorkoming en behandeling eintlik eenvoudig en doeltreffendend is.

Program oor staiene:
Hoe word verhoogde cholesterolvlakke behandel? Wie het behandeling nodig? Is statiene veilig en hoe doeltreffend is dit werklik? Is generiese statiene goed en kan natuurlike middels help? Wat van die probleem van FH?

 

Hier is ‘n paar interessante feite oor cholesterol

Feit #1: Mens moet onderskei tussen twee begrippe as mens van cholesterol praat.
Begrip 1: Die cholesterol-molekule
Mens kry die cholesterol molekule, wat die voorloper is van verskeie hormone in die liggaam, en vorm letterlik die ruggraat van hormone soos geslagshormone, kortisol en verskeie ander hormone. Die cholesterol molekule is dus essensieel in die liggaam.

Begrip 2: Die HDL- en LDL-cholesterol in ons bloed
As ons praat van die cholesterol wat gemeet word as dokters jou bloed trek en die patologie laboratorium vir jou n verslag stuur oor die vlakke van HDL-, LDL- en totale cholesterol in jou bloed, praat ons eintlik van die cholesterol wat as deel van ‘n groter partikel (die lipoprotein-partikel) in die bloed vervoer word.

Daar is verskeie lipoproteien partikels in die bloed wat cholesterol vervoer. Ter verduideliking vergelyk ons sommer hierdie lipoprotein-vervoermiddels in hierdie artikels busse. (Kyk onder na die Feit #3)

Feit #2: Die lewer kan cholesterol vervaardig uit enige koolhidrate (stysels), vette of proteine (vleis, eiers ens) wat jy eet.
Al die kos wat jy eet, word in die lewer afgebreek tot ‘n eenvoudige molekule bekend as asetiel-ko-ensiemA, wat 2 koolstowwe bevat. Hierdie molekule kan gebruik word as boublokke om die stowwe wat jou liggaam se selle nodig het, op te bou; dit kan byvoorbeeld omgebou word tot glukose, tot vette, tot proteine (daar word net later stikstowwe bygevoeg) en ook tot cholesterol. Jy hoef dus nie cholesterolmolekules in te neem deur lewer en ander cholesterolryke kos te eet om te verseker dat jou liggaam genoeg cholesterolmolekules het om die nodige hormone te vervaardig nie. Die lewer beheer die vlakke van die cholesterolmolekules in jou liggaam.

Feit #3: Vet-molekules – en cholesterol is ‘n vet-molekule – kan nie oplos in die bloed nie en moet in ‘n “bus” vervoer word. 
Cholesterol moet dus in ‘n partikel wat wel in die bloed vervoer kan word, vervoer word. Dié partikels is wel steeds ‘n vetterige partikel, en vervoer cholesterol en verskeie ander vette en staan bekend as ‘n lipoprotien (dit beteken letterlik vet-protein). Mens kry verskeie soorte lipoprotein-partikels, wat Laedigtheid lipoprotein (LDL) en hoëdigtheid lipoprotein (HDL) insluit. Kom ons stel die LDL vervoermiddel voor as ‘n rooi bus, want dit is gevaarlik, en die HDL partikels as die blou bus.

Feit #4: LDL-partikels = die rooi busse = moeilikheid as daar te veel is
Om in die bloed vervoer te word, moet die cholesterolmolekule op ‘n bus klim. Die bus wat cholesterol van die lewer na die selle moet neem, is die rooi bus en beweeg deur die bloedstroom en kan baie vetmolekules oplaai, maar net een cholesterol-passassier.
Die rooi bus kan ongelukkig deur die binnelagie van ‘n bloedvat dring – as die bloedvatwand verswak is deur rook, diabetes, genetiese faktore en ander faktore – en in die bloedvatwand gaan parkeer. Die liggaam wil nie die rooi bus in die bloedvatbinnewand hê nie, en stuur vegterselle om die bus in te sluk. Hierdie reaksie is sleg vir die bloedvatwand en lei tot die vrystelling van gevaarlike vrye radikale wanneer dit cholesterol geoksideer word. Sodra die vegterselle die rooi bus ingesluk het, word dit skuimselle, wat opswel en ‘n groot harde stuk plaak in die bloedvatwand vorm. Wanneer die aanpaksel te groot word, breek ‘n stukkie af, en met bloedstolsels wat daarom vasheg, beland dit êrens stroom-af in die bloedvat in ‘n deel wat te dun is en steek vas. Só verstop dit dan die bloedvat. As dié verstopte bloedvat in jou hart is, kry jy ‘n hartaanval. As die bloedvat in jou brein is, kry jy ‘n beroerte. As dié bloedvate in jou longe is, kry jy ‘n long embolus.

Hoe meer rooi busse, des te groter is jou kans op aterosklerose, dus as jou LDL-cholesterol baie hoog is, het jy ‘n groter kans op bloedvatskade.

Die onderstaande skets verduidelik hoe LDL-cholesterol in die bloed tot bloedvatverstopping kan lei en uiteindelik tot ‘n hartaanval.

Feit #5: HDL-partikels is die blou busse = “goeie” cholesterol
Die oortollige cholesterol word met ‘n blou bus (die HDL-partikels) van die selle na die lewer vervoer sodat die lewer van dit ontslae kan raak. Gelukkig kan baie cholesterol-molekules op een slag in ‘n blou bus klim.

Hoe meer blou busse, des te beter.

Feit #6: Moenie net kyk na jou totale cholesterol nie.
As jou cholesterolvlakke gemeet word, word die HDL-vlakke en die LDL-vlakke gemeet. Jou totale cholesterol is jou HDL + LDL, maar as jou goeie HDL hoog is, sal jou totale waardes ook hoog wees. Jou LDL vlakke moet liefs laag wees en jou HDL hoog.

Die ideale HDL cholesterol vlak vir mans is 1 mmol/l en vir vroue 1.2 mmol/L. Die ideale LDL-vlak vir mense wat nie diabetes of hoé bloddruk het nie, en nie rook nie, is 3 mmol/L. Vir mense met diabetes en hoë bloeddruk is dit 2.5 mmol/L. Rokers se HDL-vlakke is dikwels te laag.

Feit #7: Dit blyk dat ‘n baie lae HDL vlak net so gevaarlik kan wees as ‘n hoë LDL vlak.

Feit #8: Daar is verskeie soorte HDL-partikels en dit lyk of elkeen ‘n eie bepaalde funksie het.

Feit #9: Die vlakke van ‘n ander vetmolekule, die trigliseriede, is ook belangrik in die siekteproses. Hoë trigliseriedvlakke hou verband met metaboliese sindroom en ook verband met pankreatitis.

Feit #10: Hoë bloedglukosevlakke is een van die faktore wat die bloedvatwande beskadig.
Prof Tim Noakes is heeltemal reg: verhoogde bloedglukosevlakke is beslis een van die faktore wat die bloedvatwande verswak sodat LDL partikels die wanmde kan binnedring en plaak veroorsaak wat die bloedvate vernou.

Feit #11: Rook is ook ‘n belangrike faktor wat die bloedvatwande beskadig.
Rook is ‘n baie belangrike risikofaktor wat nie net rokers se bloedvatwande beskadig nie, maar ook hul goeie HDL-vlakke verlaag.

Feit #12: Die behandeling is eerstens deur lewenstyl-aanpassings en ook deur statiene en trigliseriedverlagende middels.

  • As jy rook, hou so gou moontlik op om jou HDL-vlakke te verhoog.
  • As jy onaktief is, doen oefening om jou HDL-vlakke te verhoog.
  • As jy oorgewig is, vcerloor gewig om jou HDL-vlakke te verhoog en LDL- en trigliseriedvlakke te verlaag.
  • As jy diabetes het, maak seker dat jou bloedglukosevlakke elke minuut van die dag goed onder beheer is.
  • As jou bloeddruk meer as 130/90 mmHg is, maak seker dat jy nie oorgewig is nie, en neem medikasie om jou bloeddruk te verlaag.
  • Saam met al dié stappe, kan statiene help om jou LDL-vlakke te verlaag en ook om jou bloedvatwande te versterk. Luister na die potgooi oor statiene.
  • As jou trigliseriedvlakke verhoog is, het jy ook ‘n trigliseriedverlagende middel nodig. Luister na die potgooi oor trigliseriede.