Phalo (7) is by die huis


Phalo, die sewejarige seuntjie van De Doorns, het Maandagmiddag 18 Julie ‘n hartoorplanting ondergaan.

Die jongste:
Vrydag 12 Augustus:
Phalo is gister uit die hospitaal ontslaan en nou by die huis. Hy is deur baie familielede en vriende ingewag en het gaan pizza eet.

Phalo by sy huis

Phalo by sy huis

Phalo geniet sy pizza

Phalo geniet sy pizza

13892020_936292283148285_2214998013552627824_n

Phalo by sy oom

Dr. Susan Vosloo is tevrede met sy vordering.
Eers was hy so siek dat mens net gehoop het hy lewe tot ‘n geskikte skenkerhart beskikbaar word, dan is dit dae van letterlik op die randjie van lewe en dood, en nou word hy stadigaan sterker.
Phalo se tweede biopsie word Dinsdag gedoen om vas te stel of sy teenverwerpingsmedikasie voldoende is. Die eerste biopsie se uitslag het getoon alles is onder beheer.

Die onderste foto’s is Phalo saam met sy ma die dag voordat hy uit die hospitaal ontslaan is.

IMG_2225

IMG_2226

Maandag 8 Augustus:
Phalo eet reeds goed en beweeg in sy kamer rond. Hy sterk goed aan. Dié foto is Vrydag geneem.

13886909_1152318474825478_8096797692026736647_n

Vrydag 29 Julie: ‘n Pasaangeër is Dinsdag in Phalo ingeplant. Dit was nodig omdat die hart se geleidingsweefsel nog nie voldoende herstel het ná die lang tyd sonder suurstof. Die hart klop baie sterk, maar die geleidingsweefsel het ekstra hulp nodig, het dr. Susan Vosloo gesê.
Sy nuwe hart se SA node bepaal baie sterk sy hart se ritme, maar die geleiding na sy pompkamers is egter nie konstant nie. Dr. Vosloo het die SA node in die regter vulkamer verbind met die pasaangeër, en die verbindingskabel van die pasaangeër aan die regter pompkamer gekoppel. Die pasaangeër gee in Phalo se geval nie die pas aan nie, maar die drade van die pasaangeër word eintlik net gebruik om die impulse van die SA node na die pompkamers te gelei in die plek van geleidingsweefsel. Die hart se eie SA-node word dus gebruik om die hart se ritme te bepaal en nie die pasaangeër nie. Die kans bestaan dat die geleidingsweefsel vanaf die SA node na die ventrikels kan herstel, maar indien nie, is dit beslis nie die einde van die wêreld nie, het dr. Vosloo gesê.

Hy het gister geslaap toe ek ‘n draaitjie in die kinder-hartwaaksorg eenheid gemaak het.  pa of ma is voortdurend by sy bed en hulle slaap in die hospitaal. Die hospitaal het voorsiening vir hulle gemaak omdat dit te ver vir hulle is om heen en weer tussen Kaapstad en Worcester te reis.

Die volgende stap is die roetine hartspierbiopsie om die verwerpingsreaksie te bepaal en dan die teenverwerpingsbehandeling (immuun-onderdrukking) daarby aan te pas. Die biopsie word gewoonlik op Dag 10 ná die oorplanting gedoen.

Die bane (in geel) van die geleidingsweefsel.

Die bane (in geel) van die geleidingsweefsel.

Lees hier meer oor pasaangeërs. Jy kan die PDF maklik uitdruk.

Hoe lyk pasaangeërs? Druk die PDF uit.

Donderdag 21 Julie: Phalo vorder na wense in die waagsorg-eenheid. Dokters het van die buise verwyder om die risiko vir infeksie te verminder. Hy word met teenverwerpingsmiddels behandel om verwerping te voorkom.

Dr. Susan Vosloo het ons herinner hóé siek Phalo is en hóé groot die risiko’s is:
‘Kinders wat ‘n hartoorplanting kry, is baie baie siek. Hulle is sterwend en het nie meer lank om te lewe sonder ‘n oorplanting nie. Hul harte is so verswak dat ander organe ook al begin swaar trek. Mens beweeg op die randjie van die afgrond, en dan doen mens nog ‘n groot operasie op hierdie siek kinders. Dis werklik op die randjie. Enige klein dingetjie wat skeef loop, kan die uitkoms beïnvloed. Ons as dokters kan ons heel beste doen, maar dis nie altyd in ons hande nie. Elke geval is anders en ons moet dinge hanteer soos dit na ons kant toe kom. Die operasie self is tegnies nie so moeilik nie; dis die omstandighede en klein dingetjies wat kan skeefloop wat alles so ‘n hoë risiko maak. Ek doen my heel beste.”

13729028_1139814142742578_8314049863587858229_n-4Dinsdagmiddag 19 Julie: Dit gaan goed met Phalo. Sy ouers het hom besoek en kon dadelik opmerk dat sy kleur beter is – sy lippe is nie meer blou nie, maar ‘n gesonder pienk. Dr. Susan Vosloo is tevrede. Phalo is nog aan baie buise en moniteringsmasjiene gekoppel, maar het gisteroggend al sy ma se hand ‘n drukkie gegee.

Ek het met Phalo se ma, Nombulelo Gayiya, gesels en klankgrepe van die onderhoud is Woensdag in my program om 11.00 tot 11.30 te hoor. Sy gesels lekker in Afrikaans en is baie dankbaar teen die skenker se ouers. Sy en haar man, Thapelo, is baie godsdienstig maar deur ‘n baie moeilike wagtydperk sedert Phalo skielik hartprobleme ontwikkel het.

Luister hier na die program. Die laaste 11 minute handel oor die hartoorplanting.

Maandag 18 Julie 2016
7.43 nm: Phalo is in die pediatriese hart-waaksorgeenheid van die Christiaan Barnard en Dr Susan Vosloo het pas gesê sy is tevrede met sy toestand en hoe alles verloop het. ‘Ons het ‘n pasaangeër aan sy nuwe hart gekoppel om seker te maak sy hart word nie ooreis nie, en om sy hart die beste kans op ‘n lang oorlewingstyd te gee. Die volgende drie tot vier dae is krities, maar alles lyk belowend. Dit het so goed gegaan as wat ons kon gehoop het dit sou gaan met die groter isgemiese tyd in gedagte geneem. Ek is tevrede en positief.’

5.16 nm: Die hartoorplanting op Phalo is voltooi en Dr Vosloo het pas Phalo se borskas toegemaak. Die skenkerhart was 5 en half ure sonder suurstof – wat langer as die beplande 4 en half ure was weens die langer reistyd wat die gevolg was van sterk aankomende lugstrome vir die vlug – en Dr Vosloo het ‘n tydelike pasaangeër ingesit om die hart te help, maar die hart klop reeds al hoe beter soos hy herstel ná die lang isgemiese tyd. Dr. Vosloo wil die hart eerste kans gegee om effe te herstel. Phalo behoort binne die volgende uur na die waaksorgeenheid gestoot te word.

3.34 nm:
Phalo se hart: die SAL vlug was vertraag, weens hewige aankomende lugstrome. Die hart het 20 voor 3 in die teater aangekom. Die spanning was hoog, want die isgemiese tyd wat die hart sonder suurstof kon wees – verkieslik nie langer as 4 en half uur nie – het verbygetik. Dr. Vosloo het so vinnig gewerk as sy kon om die skenkerhart so gou as moontlik in te kry. Minute gelede was die bloedvate geheg, en het die span gewag dat die skenkerhart self begin klop.

Vanoggend vroeg, toe baie mense nog slaap, het duisend dinge gelyk gebeur.

  • Die oorplantingskoördineerder van die Christiaan Barnard Gedenkhospitaal in Kaapstad, Alexia Michaelides, en dr. Susan Vosloo, hartchirurg by dié Kaapstadse hospitaal, is gisteraand laat in kennis gestel dat ‘n moontlik geskikte skenkerhart in die Noorde beskikbaar is vir Phalo.
  • Baie toetse en reëlings is gisteraand laatnag en vanoggend in die vroeë oggend-ure getref.
  • Die baie siek seuntjie se ouers is vanoggend in kennis gestel en hulle het dadelik reëlings getref en hom na Kaapstad gebring. Phalo was skaars ses maande gelede nog ‘n gesonde seuntjie voordat ‘n virus sy hart só erg beskadig het (kyk artikel hieronder) dat ‘n hartoorplanting al kans op lewe vir hom geword het.
  • Die ouers van die skenker het die grootste Nelson Mandela-dag geskenk gegee toe hulle toestem tot orgaanskenking.
  • ‘n Hartchirurg van die Gauteng/Tswane, Dr De Villiers Jonker,  het tot die laaste nippertjie gewag om die skenkerhart verwyder, maar steeds te verseker dat die  skenkerhart nie die vlug na Kaapstad verpas nie. Die Gautengse oorplantingkoördineerder het die skenkerhart in ‘n koelhouer en deeglik gemerk ‘Donor heart for transplantation’ op die SAL vlug besorg, wat kort na 11.00 vanaf Gauteng vertrek het.
  • Teen 12.00 was Phalo reeds in Kaapstad in die hospitaal en het die narkotiseurs en hartspesialiste begin met laaste toetse en voorbereidings en is hy na die teater geneem.
    Phalo oppad na die teater.

    Phalo oppad na die teater.

    Die narkotiseur, dr Anton Ferreira, berei Phalo voor.

    Die narkotiseur, dr Anton Ferreira, berei Phalo voor.

  • Die SAL vlug met die skenkerhart het eers omstreeks 14.00 in Kaapstad geland. Dit was vertraag weens sterk aankomende lugstrome tydens die vlug en sterk winde in Kaapstad wat daartoe gelei het dat die vliegtuig sowat 20 minute lank moes sirkel. Dit het sake meer spanningsvol gemaak. Alexia het op die lughawe die belangrike vrag ingewag en inderhaas na die Kaapse hospitaal gebring.
  • Hoewel die voorbereidings vir die operasie reeds aan die gang sal wees, en die seuntjie se borskas oopgemaak sal wees, kan hy eers op die hartlongmasjien geplaas word as die skenkerhart in die teater is en die chirurge is tevrede dat die skenkerhart reg is, want as die hartlongmasjien eers Phalo se bloedsirkulasie oorgeneem het, en iets loop skeef met die skenkerhart, bestaan die moontlikheid dat sy eie hart te swak kan wees om weer sy bloedsirkulasie oor te neem en dan kan hy sterf as hy van die hartlongmasjien ontkoppel word.
  • Dr Susan Vosloo het kort nadat die hart om 20 voor 3 in die teater aangekom het, die hartlongmasjien aangeskakel, en Phalo se hart verwyder. Phalo se hart was erg vergroot – en byna drie keer so groot as ‘n normale hart en het flou geklop. Dr Vosloo het onmiddellik begin om die skenkerhart oor te plant. Sy het gemik om teen 3.20 al die hegtings te voltooi sodat die skenkerhart dan in Phalo se borskas kan begin klop.
    Phalo se vergrote hart.

    Phalo se vergrote hart.

    Dr Vosloo besig met die oorplanting.

    Dr Vosloo besig met die oorplanting..

  • Die TV-span van URE op Via is besig om al die gebeure te verfilm.

Só het ons op 7 Junie oor Phalo berig:
Van gesond tot wagtend op ‘n hartoorplanting in 3 maandePhalo is 7 jaar oud en van De Doorns.

Hy was ‘n normale, gesonde seuntjie, wat soos alle ander kinders rondgehardloop en gespeel het. En toe skielik van Februarie vanjaar af, merk sy ouers op hy wil nie meer saam met die ander kinders rugby speel nie, hy raak gou kortasem en moeg. Hy verswak en sy ouers neem hom dokter toe. Hy beland by kinder-kardioloog Dr Liesel Andrag (sy is een van slegs enkele kinder-kardioloë in die land) en sy diagnoseer: Gedilateerde kardiomiopatie.

Al wat sy lewe kan red is ‘n hartoorplanting. Hy is nou op die kinder-hartoorplantingslys en dr. Susan Vosloo sal die operasie doen sodra ‘n geskikte skenkerhart beskikbaar is.

Hoe het dit gebeur dat ‘n eens gesonde seuntjie binne maande so siek is dat hy wag op ‘n hartoorplanting? Dr Andrag verduidelik. Luister hier na die volledige program.

Wat beteken die diagnose?
Gedilateer beteken uitgerek of vergroot, kardio is hart, mio is spier en patie in dié sin is siekte of skade. Dus vergrote hartspier siekte.

Dit beteken veral sy linker ventrikel oftewel linkerpompkamer – wat baie belangrik is omdat dit sy suurstofryke bloed na sy brein en hele liggaam moet pomp – is vergroot (sien skets hieronder van die Mayo Kliniek in die VSA).  Mettertyd vergroot sy regterpompkamer ook.
dilated

e0475994-d248-4936-8f73-a62b14cc396fWat is die oorsaak van die vergroting van die hart?
Daar is verskeie moontlike oorsake, soos bv klepdefekte. Maar in Phalu se geval, was dit waarskynlik ‘n virus- of ander infeksie. Onthou, enige virus – selfs die griepvirus – kan jou hartspier beskadig.

Normale hart

Normale hart

Vergrote hart

Vergrote hart

Wat gebeur met die hart?

  1. Die hartspier rek uit en uit soos ‘n ballon wat baie groot opgeblaas word en dan uitrek.
  2. Hoe meer uitgerek die hartspier, hoe groter die hart. Hoe groter die hart, des te moeiliker is dit om ordentlik saam te trek en al die bloed uit die hart te pomp.
    As jy jou hand om ‘n klein bal so groot soos ‘n gholfbal sit, gaan jy met die krag van jou greep, die bal kan papdruk. As jy jou hand om die punt van ‘n sokkerbal sit, gaan jy byna niks kan uitdruk as jy ‘n greep maak nie.
    En dis presies wat gebeur: ‘n Normale, sterk hart pomp met elke sametrekking sowat 60 t0t 85% van die bloed in die linkerventrikel uit. Phalu se hart is so vergroot dat dit minder as 10 – 12% van die bloed uit sy hart pomp.
  3. Sy hart klop vinniger, maar swak, om te probeer kompenseer.
  4. Want met net 10% van sy bloed wat per pompslag na sy brein en res van sy liggaam gepomp word, probeer sy hart desperaat om hom aan die lewe te hou deur vinniger te klop.
  5. Maar dis steeds nie genoeg nie. En die vinnige maar swak sametrekkings ooreis sy hart, sodat sy hart begin versaak. Die groot hart trek saam, maar so swak dat dit onvoldoende is.
  6. Dokters kan middels voorskryf om die hart sterker te laat klop, om die spoed bietjie stadiger te maak sodat die hart nie net begin tril soos ‘n jellievis nie, maar ook nie te stadig dat die kind sterf nie – dis ‘n fyn balans. Hulle kan bloedverdunningsmiddels as die ontvangkamers begin uitrek want die bloed kan stolsels maak as dit in die ontvangkamers in ‘n turbulente draaikolk beland. Of bloeddrukmiddels of ontwateringsmiddels om die vog wat oral in die liggaam opdam omdat die hart te swak werk, deur die niere uit te skei. Dan piepie die een baie.
  7. Sonder behandeling sal net 25% van mense ná 5 jaar nog lewe.

Ander simptome
Buiten kortasemheid en moegheid, kan die kind ook bleek wees al is sy hemoglobientelling normaal, buikpyn kry omdat sy lewer vergroot, braak agv lewerstuwing.  Hy kan hoes agv hartversaking met vog wat in sy longe opdam.

Die slotsom
Phalo se hartfunksie en toestand het ondanks medikasie en behandeling sedert Februarie verswak. Geen medikasie kan die skade wat reeds aan sy hartspier aangerig is, herstel nie. Sy enigste kans op oorlewing is ‘n hartoorplanting.

Lees en luister meer