Nuwe melaatses steeds in SA gediagnoseer


As jy gedink het melaatsheid was ‘n siekte wat net in die Bybelse tyd voorgekom het, maak jy ‘n fout.

Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) word daar jaarliks nog nuwe gevalle in die wêreld aangemeld, met die meeste in Indië, Pakistan, Bangladesh, Nepal, Brasilië, en in verskeie Afrika-lande insluitend die DRK, die Sentraal Afrikaanse Republiek, Angola, Mosambiek en Madagaskar. Ook in Suid-Afrika word jaarliks sowat 100 nuwe gevalle van melaatsheid aangemeld. Daar is doeltreffende behandeling.

Luister Woensdag na Gesondheid op RSG – Marí Hudson gesels met dr. Jantjie Taljaard, hoof van Infeksiesiektes by die Tygerberg-Hospitaal en die Universiteit van Stellenbosch oor die ou-ou siekte.

Hier is enkele interessante feite oor melaatsheid:

  • Melaatsheid is ‘n baie ou siekte – van die vroegste beskawings van China, Egipte en Indië beskryf reeds gevalle van melaatsheid so ver terug as 600 voor Christus

    Spinalonga eiland

  • Verlate melaatse kolonie – Spinalionga, Kreta, Griekeland.

    Regoor die wêreld is daar verlate melaatse kolonies. Meeste is op eilande en die lyers is daarheen gestuur om te sterf. Verskeie Griekse eilande, eilande om Hawai, Tenenerife, Trinidad en baie ander wêrelddele is gebruik as melaatse kolonies. Lees hier meer oor ‘n kolonie op die Griekse eiland Chios.

  • Volgens die WGO was daar in 2015 meer as 175 000 gevalle in 138 lande, en is meer as 210 000 nuwe gevalle daardie jaar gediagnoseer.  94% van al die nuwe gevalle kom van net 14 lande. Die aantal nuwe gevalle wat jaarliks gediagnoseer word, neem stadigaan af. Meer as 16 million melaatses is die afgelope 20 jaar met doeltreffende medikasie behandel.
  • Robbeneiland was van 1945 tot 1931 ‘n kwarantyn-kolonie vir melaatsheid, toe melaatses van die Hemel-en-Aarde vallei in die Overberg na die eiland verskuif is. Aanvanklik was dit vrywillig en kon die melaatses die eiland verlaat wanneer hulle wil, maar nadat wetgeweing in 1892 verander is, was die beweging van melaatses in Suid-Afrika ingeperk. Voor 1892 is sowat 25 melaatses per jaar na Robbeneiland gestuur, maar teen 1892 is 338 melaatses en teen teen 1893 is nog 250 melaatses na Robbeneiland.
  • Sowat 170 mense word tans in Suid-Afrika vir melaatsheid behandel – en sowat 60 nuwe gevalle word jaarliks gediagnoseeer. Die pasiënte sluit kinders jonger as 14 jaar in. Buiten dié melaatses wat tans behandeling ontvang, is die Melaatsheidsmissie vir Suider-Afrika in kontak met sowat 2000 nie-aktiewe lyers – dit is mense wie se infeksie genees het en onaktief is, maar wat gestremd is weens die gevolge van die infeksie.
  • Die landelike gebiede van Mpumalanga, KwaZulu Natal en die Oos-Kaap is die provinsies waar die meeste gevalle van melaatsheid voorkom.
  • Angola, Mosambiek, die Sentraal Afrikaanse Republiek, die DRK, Tanzanië en Madagaskar is van die lande in Afrika waar nuwe gevalle steeds aangemeld word. Migrante populasies van die naburige lande kan die infeksies oor die landsgrense dra en verder versprei.
  • Die word veroorsaak deur ‘n kiem wat verwant is aan die TB-mikobakterie, maar dis nie so aansteeklik nie.
  • Die mikobakterium tas die vel-selle en die senuweestelsel aan, wat dan weens die gebrek aan gevoel, lei tot beserings en skade aan veral die ledemate.
  • Die eerste simptome op die vel lyk soos ‘n witterige ronde vlek soos ‘n omloop, maar die buite-om die ‘omloop’ is die vel gevoelloos.
  • Dokters toets op die vel se tassin en pynsensasie en doen dan ‘n velbiopsie.
  • ‘n Ander belangrike simptoom is verdikking van die senuweevesels en dié verdikking kan gevoel word in die binne-agterkant van die elmboog gevoel word en die agterkant van die knie.
  • Die behandeling is met twee of drie middels gelyktydig en is effektief. Pasiënte word nou as buite-pasiënte behandel en nie langer in kwarantyn geplaas nie.
  • Die siekte kan ook homself uitwoed sonder behandeling, maar moontlik eers nadat baie skade aan ledemate aangerig is. Dit kan ook terugkeer nadat dit genees is.Nog foto’s wat die vroeë veranderinge aan die vel toon:

Vir meer inligting, besoek die Melaatsheidmissie vir Suider-Afrika.

WGO feiteblad: http://who.int/mediacentre/factsheets/fs101/en/