My DDN-storie Week#2: Bene eerste, dan brein


Marí Hudson skryf:

Ek vorder. Ek vorder. Ek het nou byna my week#3 voltooi – oeps, vandag lê nog ‘n gym-sessie met Frederika se persoonlike instrukteur by die gym voor – en ek het nou al 12 oefensessies agter die blad. Nou nie dat almal so intens was soos die sessies met Frederika nie! Maar ek het elke week vier keer my oefening-ding gedoen. En gesond geëet. Maar op die twaalfde dag het ‘n donkie-steeksheid kop uitgesteek en byna-byna oorwin.

Dit was koud in die Boland. En ek was nie lus vir oefen nie. Maar ek vertel nou-nou meer hiervan.

Só verloop my program:
Kopplan:
ek het weereens nie gedink nie, net gedoen. Bene eerste, dan sal kop volg. Maar ek dink iets het na my sukkel-dag in my kop geskuif. Ek dink dit was juis omdat ek ondanks my gebrek aan geesdrif, steeds my sweetpak aangetrek het, en gaan stap het, en dit toe geniet het, besef my kop is dalk besig om in rat te kom en my te beskerm teen onwilligheid.
Oefenplan:
My week#2:
Vrydag:
Rus
Saterdag:
Ek stap 30 minute so flink ek kan, in my buurt. Maar dit was amper of ek het dit gelos. Vir die eerste keer vandag ek my nuwe aanslag begin het, het ek oorweeg om net niks te doen nie. Dan sou dit twee dae gewees het wat ek ‘rus’. Ek het geweet wat dit beteken. Die begin van slaggat-val.En ek was lus vir ‘n soetding, nie ‘n vrug nie. Maar dit gaan mos nie oor lus nie. Ek het my sweetpak aangetrek en ‘n bandana oor my neus en mond om die lug voor my mond te verwarm (ek kry asma as ek oefen en koue lug inasem), en my ore toegemaak teen die koue. Toe ek eers aan die stap is, het ek dit begin geniet. Terug by die huis, het ‘n stort lanklaas so verfrissend en lawend gevoel en toe was ek ook nie meer lus vir tjoklits nie. ‘n Soet sitrusvruggie het skyfie vir skyfie my soetlus bevredig.
Sondag: Stap 30 min flink
My week#3 tot dusver:
Maandag:
Maandag was die begrafrnis van Lize Rossouw (44) wat na drie jaar van chemoterapie en hard baklei, haar stryd teen borskanker verloor het. Toe ek dié middag gaan stap het, kon ek nie help om te dink hoe graag sy nog die kans sou wou hê om fiks en gesond te voel en by haar man, twee tienerseuns en die res van haar familie te wees nie. Sy was onderwyseres by Paul Roos en die oud-onderhoofseun het sy woord so goed gedoen in sy huldeblyk aan haar. Waarom is ons wat eintlik gesond is, so traag om ons gesondheid te verbeter as ons kan?
Dinsdag: Frederika werk my gal. Kyk, sekere oefening kan ek met meer gemak doen as ander. Maar Dinsdag maak sy my op ‘n ou matjie sit en dis een maagkrul na die ander. En toe moet ek op en af met ‘n trappie met ‘n sware kegelbal-gewig in my hande. Ek kom toe tot my skok agter hoe swak my balans is. Ek wat gewoonlik nie eens twee keer aan balans gedink het nie. Ek het erg gekonstreer en dit stadig gedoen (sodat ek kon asemskep) en toe het dit beter gegaan. Toe moet ek sit en opstaan en sit en opstaan – ook met ‘n gewig. My bene wou swik en ek het dit al stadiger gedoen. Toe ek moes gaan fiets trap, was ek skoon verlig.
Woensdag: Ek stap 30 minute so flink ek kan, in my buurt. Maar dit was amper of ek het dit gelos. Vir die eerste keer vandag ek my nuwe aanslag begin het, het ek oorweeg om net niks te doen nie. En ek was lus vir ‘n soetding, nie ‘n vrug nie. Maar dit gaan mos nie oor lus nie. Ek het my sweetpak aangetrek en ‘n bandana oor my neus en mond om die lug voor my mond te verwarm (ek kry asma as ek oefen en koue lug inasem), en my ore toegemaak teen die koue. Toe ek eers aan die stap is, het ek dit begin geniet. Terug by die huis, het ‘n stort lanklaas so verfrissend en lawend gevoel en toe was ek ook nie meer lus vir tjoklits nie. ‘n Soet sitrusvruggie het skyfie vir skyfie my soetlus bevredig.
Donderdag: Vandag is ek Rooi Kruis Kinderhospitaal toe en het ek ‘n onderhoud vir my Gesondheidsprogram gedoen. Ek het met ‘n jong, dinamiese pediatriese oor-, neus- en keelspesialis gedoen wat wonderlike werk doen skade aan kinders se lugpype (tracheas) te herstel. Ek het nog twee afsprake gehad en my gym-afspraak betyds na Vrydag verskuif.
Vrydag: Vandag is dit weer ek en Frederika. Maar daar is geen kans dat ek dit gaan misloop nie. Maar eers gaan ek Stellenbosch toe om ‘n onderhoud te gaan doen met ‘n plastiese chirurg vir my Gesondheidsprogram. En my suster van Bloemfontein en haar een dogter is hier, want Bloemhof speel teen Oranje – alles: koor, hokkie en enige sport waaraan jy kan dink.

Eetplan:
Ek het nog glad nie weer my mond aan tjoklits of soetgoed gesit nie, drink versoeter in my tee, eet vrugte deur die dag, en het nou ook seker gemaak dat ek murgpampoentjies, groen boontjies en ander groen groente by my eetplan gevoeg. of selfs rooibostee met ‘n skyfie suurlemoensap. Vir die res eet ek steeds soos gewoonlik. Daardie riglyne kom mos nog.
As ek lus was vir iets, het ek ‘n naartjie of appel of piesang geëet.

 Ná byna 3 weke en 12 oefensessies voel ek:

  • baie in my skik met myself dat ek aan die gang is en bly.
  • besef ek dat ek baie onsoepel is en meer strekke moet doen, veral my bene en skouers en nek.
  • dat dit vir my makliker is om gesonder te eet.
  • Bly vir my klein oorwinning oor dag#12.
  • ek gaan beslis voort.

Ek is 1,5 kg ligter (dis seker die spiere wat ek nou bou wat swaarder weeg. Maar dis ‘n goeie koers van halwe kilo per week.)

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.