My DDN-storie: Doen eers, dink later


Marí Hudson skryf:

Ek kan nie dink dat iemand WIL vet wees nie. Ek wil nie. Maar ek is. Ek is een van die 60% van die Suid-Afrikaanse bevolking met ‘n gewigtige probleem. Ek is ‘n volle 19 kg bo my ideale gewig.

Ek is onfiks, on-maer en on-soepel.

Al die onne moet weg. Op die regte manier sodat dit kan wegbly.

Ek kan nie skuil agter onkunde nie. Ek weet van gesond eet en oefening en al daardie gesonde dinge, maar as dit by die DOEN-slag kom, is dit asof daar ‘n verlamming en willoosheid in my brein intree. Willoosheid om nee te sê. Dis mos net soveel makliker om nog ‘n stukkie tjokoladekoek te eet, nóg ‘n snytjie kaaskoek, nóg ‘n bietjie roomsous oor die steak te gooi. En as dit oefening kom, is dit soveel makliker om te sê dis te koud, of te warm, of te vroeg of té donker, of my vergadering het langer verloop as wat ek gedink het, of ek moes nog eers dit of dat doen en toe het ek nie genoeg tyd nie, of ek is net nie lus nie.

En kort voor lank is dit ‘n patroon en gaan week na week verby en ek kom by geen oefening uit nie.

Die naaste wat ek oefening gekom het, is om stadig met my honde te stap – stop, stap, ruk, pluk dié kant toe, stop, stap. Of om aan die dae te dink toe ek met groot gemak vier keer ‘n week 10 km op ‘n slag gedraf het. Ai.

Vir my werk sake só: As ek oefening doen, begin ek outomaties gesonder te eet. Want ek wil nie die harde werk van oefening met onnodige kalorieë ongedaan maak nie. Maar die ding is om aan die oefen te kom. En as ek dit kan doen, dan kan jy ook.

Ek dink die onlangse RSG program met die Bloemfonteinse psigiater dr. Ian Westmore oor die verband tussen emosionele welstand en oorgewig, het finaal bevestig wat ek eintlik al lankal vir myself sê: Doen Dit Net. Moenie te veel dink nie, doen net. Want ek het al voorheen ervaar dat as ek eers aan die oefen is, begin my kop te volg. Dis altyd eerste bene, dan mond, dan kop, en maak elkeen die ander sterker en sterker. En toe sê dr. Westmore, dit ís so: emosionele welstand en geestesgesondheid is beide oorsaak en gevolg van oorgewig. Hier is die program as jy dit misgeloop het:

Ek het my doen-lysie bekyk en die volgende besluit:

  • Omdat ek dit nie regkry om op my eie te oefen nie, het ek na jare weer by ‘n gym aansluit en boon-op ‘n persoonlike fiksheids-afrigter gekry. Dit kos my, maar ek beskou dit as ‘n belegging in my eie gesondheid.
  • Dinsdae en Donderdae 14:00 – 15:00 is uitgeblok in my dagboek as my sessies met die fiksheidsafrigter. As dit bots met ‘n onderhoud, herskeduleer ons, maar twee maal per week is dit my tyd in die gym.
  • Maandae, Woensdae, Saterdae stap en 30 minute teen intensiteit#4. Ek moet minstens 2 keer per week stap, maar ek as ek dit drie keer doen, is dit ‘n bonus.
  • Ek het ou sweetpakbroeke en tops wat my bene en arms toemaak, en ‘n paar stapskoene wat sal werk.

Só verloop my plan tot dusver
My week#1:
Kopplan:
ek het nie gedink nie, net gedoen. Bene eerste, dan sal kop volg.
Oefenplan:
Maandag:
Ek sluit by ‘n gym aan.
Dinsdag: Ek maak ‘n afspraak met en sien ‘n fiksheidsafrigter. Haar naam is Frederika. Sy vra vrae, meet my, maar die geneuk het gekom toe sy my fiksheid moet toets. Sy sit ‘n hoërige trappie voor my neer en sê ek moet op en af trap, stadig. Ek trap, op en af en op en af en my bene voel later lam en ek hyg na asem en ek dog ‘n aar in my kop gaan bars, toe kyk sy op haar stophorlose en sê ‘toemaar, jy’s nou halfpad.”
Toe het sy my 10 minute of ‘n trapmeul laat stap om die hart goed aan die gang te kry, maag-opsitte laat doen, weer 5 minute op ‘n trapklim-apparaat laat klim, weer maag-opsitte en toe – genadiglik – ‘n klompie been en arm strekke.
Woensdag: Ek stap 30 minute so flink ek kan, in my buurt
Donderdag: Volgende week begin my sessies met Frederika.
Vrydag: Stap 30 minute flink
Saterdag: Stap 30 minute flink

Eetplan:
Ek het die suiker in my tee en oor my pap vervang met ‘n kunsmatige versoeter. Geen ander soetgoed ge-eet nie.
As ek lus was vir iets, het ek ‘n naatjie of appel geëet.

My week#2:
Maandag: Stap 30 minute flink.
Dinsdag: Nou is dit ‘n hele uur met Frederika. Eers 10 minute kardiovaskulêre oefening op die trapklimmer, en toe ‘n klompie apparate: bene, trappies klim, arms, trappies klim, maag, trappies klim, bene, trappies klim, arms, trappies klim, maag, trappies klim. En toe 5 minute op die oefenfiets. En daarna strekoefeninge.
Woensdag: Stap 35 minute flink.
Donderdag: Sessie met Frederika. Eers 10 minute op die trapklimmer, daarna drie rondtes van 3 oefeninge: afsakke teen ‘n bal, triceps oefening en skuins-opsitte op ‘n bal vir die maag. Toe twee rondtes van skouer-oefeninge, en maag-oefeninge met ‘n bal. Met trappies tussen-in. Ek’s gedaan.
Toe strekoefeninge. Salig.

Eetplan:
Beslis meer vrugte, minder soetgoed soos lekkers en koekies.

Ná 10 dae en 6 oefensessies voel ek:

  • baie in my skik met myself dat ek aan die gang gekom het.
  • moeg na die oefening, maar nie doodmoeg nie. Net dat ek oefening gedoen het.
  • bietjie styf, en dan doen ek strekke by die huis, veral my bene en skouers en nek.
  • dat dit vir my makliker is om gesonder te eet en nee te sê vir soetgoed. Ek probeer nie wegkom van my oefentye nie.
  • gedetermineerd om voort te gaan.

Ek is 1 kg ligter.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.