Nie oorgewig nie, vet!


Vergeet daarvan om die feite oor vetsug in Suid-Afrika te versag. Die feite van die Hart-en-beroerte-stigting spel dit duidelik uit dat mense nie meer net kan sê hulle is effens oorgewig nie. Die harde werklikheid is dat die meeste mense – tieners ook – nie net ‘n tjoepie om die maag saamdra nie, maar behoorlik skud as hulle straataf stap. Suid-Afrika het verander van ‘n nasie wat aktief was en goeie kos geëet het, tot een van stadsjapies wat op kitskos al dikker word.
Kyk ‘n bietjie in die winkelsentrums na hoeveel mense die skaal na die verkeerde kant toe laat oorhel. Die ergste is die kinders wat dink dis oefening om van die een winkel na die ander te stap en daarna uitasem in ‘n kitskosplek neersyg om ‘n burger en tjips met ‘n Coke weg te sit.
Jy kan seker sê dis elkeen se eie keuse, maar die feit is dat die mediese rekening vir hartkwale, beroerte, hoë bloeddruk en diabetes op die ou einde deur almal betaal moet word. Miskien is die tyd nou ryp om weg te kom van die sagte benadering waar ons fluister oor Sarie wat ‘n bietjie gewig in die vakansie aangesit het en Boepie wat nou sywaarts groei, tot waar ons almal in die spieël kyk en erken dit is nie ‘n mooi gesig wat terugkyk nie.
So, begin vandag en laat almal saam die vetjies slag.