Wat weet jy van jou niere?


10 Maart is Wêreld Nierdag, maar wat weet jy van jou niere?

Ons het enkele nierfeite, en skakels na programme oor nierfunksie, nierstene en nierdialise vir jou bymekaar gesit.

7 Kitsfeite oor jou niere

Het jy geweet:

  1. dat een uit 10 volwassenes aan nierprobleme ly?
  2. dat jy 90% van jou nierfunksie kan verloor voordat jy simptome ontwikkel en jy dit agterkom en dat dit dan te laat is om jou nierfunksie te herwin?
  3. dat jy sonder een nier kan lewe, maar beslis nie sonder albei jou niere nie, buiten as jy sowat drie keer week ure lank nierdialise ondergaan?
  4. dat die niere ‘n ingewikkelde maar baie doeltreffende filtreerorgaan is en noodsaaklik is in die regulering van bloeddruk, bloedvolume, pH-vlakke, natrium- en kaliumbalanse, uitskei van toksiese stowwe via die urine en urienproduksie?
  5. dat teenwoordigheid van glukose, proteine of bakterie in die urine direkte aanduiders is van diabetes, nierwanfunksie en infeksie in die niere, blaas of urienweë?
  6. dat diabetes, nierskade, hoë bloeddruk en hartsiektes in verband staan met mekaar?
  7. dat as jy ‘n nier aan ‘n familielid wil skenk, jou nier met sleutelgatchirurgie (‘n klein snit in die bikini-lyn) verwyder kan word sodat jy vinnig kan herstel.

13702879_sNierprobleme in Suid-Afrika: skoksyfers
“Elke week sterf die ekwivalent van twee vliegtuie se passasiers in Suid-Afrika omdat daar nie voldoende skenkerniere vir nieroorplantings beskikbaar is nie,” skryf prof. Rafique Moosa, hoof van die Department van Interne Geneeskunde aan Stellenbosch Universiteit se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, in die redaksionele artikel in die jongste uitgawe van die South African Medical Journal (SAMJ).

The SAMJ  artikel som die besprekings tussen die Nasionale Departement van Gesondheid en ander rolspelers op ná ‘n onlangse nasionale vergadering oor niergesondheid in Suid-Afrika.

In die artikel bespreek prof. Moosa, ‘n lid van die Ministeriële advieskomitee oor oorplantings, en sy medeskrywers die volgende uitdagings wat pasiënte met niersiektes in die gesig staar. Dit sluit die volgende in:

  • ‘n Tekort aan opgeleide gesondheidspersoneel in Suid-Afrika – Suid-Afrika het tans net 1.1 nierspesialiste (nefroloë) vir elke miljoen mense.
  • Ongelykhede in nier-eenhede tussen ryk en arm, en stedelike en plattelandse gebiede.
  • ‘n Tekort aan geld en die hoë koste van nierdialise  shortage – behandeling kos R200,000 per pasiënt per jaar.
  • Die klein getalle orgaanskenkers in Suid-Afrika – slegs 4.7 uit elke miljoen Suid-Afrikaners is orgaanskenkers.

Klik hier as jy die volledige SAMJ artikel wil lees.

Luister weer na een van die volgende programme wat op RSG uitgesaai is:

  • Chroniese niersiekte: Het jy geweet dat een uit tien volwassenes chroniese niersiekte ontwikkel? Die siekte kan jou so bekruip dat jy 90% van jou nierfunksie kan verloor voordat jy simptome het en dit agterkom. Die stil siekte speel ‘n groter rol in hartaanvalle en beroerte as verhoogde cholesterolvlakke. Kom luister hoe belangrik dit is dat jy meer aandag skenk aan die twee vuisgrootte, boontjievormige organe in jou flanke, agter teen jou rugspiere. Luister hier na die program, wat op Gesondheid op RSG uitgesaai is.
  • Nierstene: Nierstene is nie ‘n grap nie. Dis ‘n pynlike storie. Wat veroorsaak die stene? Hoe kan dit behandel word, en wat kan jy doen om te keer dat jy ‘n tweede steen kry? Mari Hudson gesels met prof. André van der Merwe van Stellebosch Universiteit oor nierstene en ‘n nuwe sleutelgat-operasie om skenkerniere te verwyder en selfs ander nieroperasies te doen, pleks van ‘n lang sny in die sy. Luister hier na die program.
  • Niersiekte en Jonah Lomu: Die ‘skielike’ dood verlede week van Jonah Lomu, rugby se eerste superster, het niersiektes weer in die kollig geplaas. Hoe kan iemand met hierdie siekte sulke goeie rugby gespeel het, sonder duidelike simptome? En hoeveel nierfunksie het jy oor voordat dinge in jou liggaam in duie stort? Waar staan Suid-Afrika met nierdialise en -oorplantings? Luister hier na die program.
  • ‘n Dokumentêre program oor nierdialise: Meer as 3 000 Suid-Afrikaners wag op die oomblik op ‘n nieroorplanting, en ondergaan dialise terwyl hulle wag. Hulle bestee so baie tyd in ‘n dialise-eenheid dat dit hulle tweede tuiste word. Ontmoet die “gaste” en “gashere’” van Tygerberg Hospitaal se dialise-eenheid. Van die personeel werk al langer as 25 jaar by die eenheid, waar die pasiënte ‘familie’ word. Luister hier na die program.