Nuutste behandeling vir spat-are


Wat is die nuutste ontwikkelings in die behandeling van spatare en spinnekop-are? Wat is diep veneuse trombose, waarom is dit so gevaarlik en hoe kan dit voorkom en behandel word? Marí Hudson gesels met Dr Johan Blignaut ’n spataar-spesialis oor al die probleme wat met are te doen het, met die fokus op minder ingrypende behandeling.

Dr Johan Blignaut

Dr Blignaut is ‘n Spesialis Chirurg van die Vein Centres of South Africa met spreekkamers in Durban en Johannesburg. Hy is ‘n spesialis chirurg wat sy praktyk toegewy het aan die sorg van veneuse toestande van die bene, soos spatare, spinnekop aartjies, veneuse ulkusse en dies meer. Hy spesialiseer spesifiek in die moderne en meer gevorderde tegnieke om hierdie toestande te behandel, soos endo-veneuse prosedures.

Die probleme met are (venes) in die been kan in die volgende groepe verdeel word:

  1. Spatare – gewoonlik ‘n mediese probleem met gevolge indien nie behandel nie. Behandeling is ‘n endoveneuse ablasie met radio frekwensie/laser
  2. Spinnekop aartjies – gewoonlik kosmeties. Behandeling skleroterapie/oppervlak laser
  3. Veneuse ulkusse, veneuse ekseem en pigmentasie – werklik spesialis benadering nodig. Behandeling multi-modaliteit – endoveneuse ablasie, skuim skleroterapie, kompressie, ens.
  4. Diep veneuse trombose (DVT) – kan nie veel behandel nie. Pasiënt moet streng na been omsien, reëls om te volg, indien nie, dan ernstige langtermyn gevolge soos PTS.

Hoe werk die are (venes) in die been?

Spatare vorm as die bloed nie behoorlik terugvloei uit die bene na die hart nie. Die kleppe wat moet keer dat die bloed terugvloei na die voete, is beskadig en die enkels swel. En die oppervlakkige are bult soos wurms uit op die vel.

Terwyl die hart ‘n sterk pomp is wat bloed deur slagare (arteries) deur die hele liggaam pomp, moet die bloed nou weer teen swaartekrag weer vanuit die voete en bene na die hart terugvloei via are (venes). Maar hoe gebeur dit sonder ‘n pomp in jou voete?

Jou voete en bene se spiere is in kompartemente verdeel, met die are wat deur dit vleg. As jou spiere saamtrek, stoot dit die bloed deur jou are na jou hart. Omdat dit teen swaartekrag moet vloei, is daar kleppe in die are om te keer dat die bloed weer terugval na jou voete. As die kleppe in die are wat diep in jou bene loop, nie meer goed werk nie weens te veel drukking, stoot die bloed oor na die are wat meer oppervlakkig vloei, en as dié sisteem se kleppe ook ingee, bult dit soos vet wurms uit op die vel, veral agter die knie. Dit is dan spat-are. Die bloed stoot dan inderwaarheid terug deur die beskadigde kleppe na die voete en hoop op in die onderbeen, en minder bloed kom terug by die hart uit.

Die werking van die kleppe in die been se are, word hier geïllustreer.

As die spat-are al groter word en meer bloed onder by die onderbeen en voete ophoop, beskadig dit die binnevoering van die aar en die kleppe, en kan dit in ‘n chroniese probleem van veneuse ulkusse ontaard. Dis belangrik dat dit behandel word.

Spatare is oorerflik, en as een of beide jou ouers spatare gehad het, het jyself ‘n groter kans om dit te ontwikkel.
Bydraende faktore is lang ure se staan, swangerskap (wanneer ‘n ekstra 2 liter bloed deur die kleppe opwaarts gestoot moet word).

So lyk spatare voordat dit behandel is.

Diep veneuse trombose

Daar is min wat gedoen kan word om DVT te behandel, en alles moontlik moet gedoen word om dit te voorkom, want die stolsels wat weens DVT in die been vorm, kan in die longe beland – dit staan bekend as ‘n long embolus – en kan noodlottig wees.

Mense wat lank moet stilsit, soos tydens ‘n lang vlieg- of busrit, het ‘n groter risiko om DVT te ontwikkel.

As ‘n bloedklont in jou been-aar vorm, kan baie vinnig in jou longe beland en dit staan bekend as ‘n long embolus. Dit kan noodlottige gevolge hê.

Dit is dus belangrik dat mens wat lank moet stilsit, beskermende kouse dra wat die bene help om die bloed uit die bene na die hart te stoot.

Met DVT vloei die bloed stadiger deur die bene na die hart, en waar bloed stadiger vloei, stol dit makliker. Die stolling is gewoonlik bokant die klep, en dié stolsel kan maklik in die long beland om ‘n long embolus te vorm.

Hier is die belangrikste tekens en simptome van diep veneuese trombose (DVT)

Wat behoort mense te doen of nie doen nie?

  • Loop 30 minute elke dag vir 150 minute ‘n week – nie net vir are nie, maar ook gesondheid
  • Met aar probleme sien ‘n aar spesialis
  • Met ulkusse – sien altyd eerste ‘n aar spesialis, 70% van ulkusse is veneus
  • Voorkom DVTs want ons kan hulle nie behandel nie!

 In dié video verduidelik Dr Blignaut meer oor spatare:

Vir meer inligting

https://www.veinsurgery.co.za/index.html

https://www.stoptheclot.org/

Dr Blignaut se spreekkamer nommer in Durban vir afsprake (nie telefoniese konsultasies nie): (031) 566-3960.