Nuwejaarsvoorneme


Dis 2015 en jy beloof jouself dat dinge hierdie jaar gaan gebeur! Jy gaan seker maak daarvan.Tyd vir doelwitte! Folksanger Woodie Guthrie se nuwejaarsvoornemens – uit die hart uit – van 1942 dien as inspirasie: Nastrewenswaardig, in enige taal. En dit lyk so doenbaar!

Om dit deur te voer, is egter moeiliker – afhangend na wie mens luister, kry ‘n skamele 8% van ons dit reg om by hulle nuwejaarsvoorneme te hou. As jy, soos meeste van ons, in ‘die ander kategorie’ val, beveel ons die volgende 3 stappe aan om van 2015 ‘n spesiale jaar te maak:

Stap 1: Maak ‘n realistiese plan
Stel vir jouself ‘n paar spesifieke, realistiese doelwitte. Maak seker dit is kwantifiseerbaar. Koppel getalle daaraan, want dit maak dit maklik om vordering te meet (meer daarvan in stap 2)

As jy byvoorbeeld gewig wil verloor, kan jou 3-stap plan dalk die volgende insluit:

  1. Neem gesonde kos drie keer per week werk toe.
  2. Gaan draf Maandag-, Woensdag- en Vrydagoggende
  3. Ry fiets as die bestemming binne 5 minute van jou bereik af is.

Of as jy beter georganiseerd wil raak, kan jou 3-stap plan soos volg lyk:

  1. Gebruik die eerste halfuur van jou werksdag om jou inboks skoon te maak en eposse te antwoord.
  2. Maak elke Saterdag jou kar skoon.
  3. Sorteer en etikiteer die bokse wat jou motorhuis vol staan teen 30 Januarie

Die vernaamste ding is dat jou doelwitte realisties moet wees en natuurlik in jou bestaande leefstyl moet pas.

Stap 2: Meet jou vordering
Al is jou doelwitte spesifiek en realisties kan jy steeds stoom verloor as jy nie jou vordering meet en jouself verantwoordelik hou nie. Om momentum te behou kan jy gerus tegnologie inspan – meeste fone kan jou hiermee help in die vorm van ‘n toep – gaan kyk gerus na die aanbod in enige i-store of  Windows Store. Van die toeps wat ons oog gevang het:

  1. Gesondheid: Runtastic, Calorie Manager of 7 Minute Workout
  2. Finansies: Mint  of Grocery Tracker
  3. Orden jou lewe: OneNote  of Keeper 

Stap 3: Vier sukses!
Gee jouself iets om na uit te sien (maar beloon jouself eers nadat jy die doelwit bereik het). Uiteraard moet die beloning jou doelwitte aanvul, eerder as weerspreek: as jy byvoorbeeld gewig wou verloor sal ‘n nuwe kledingstuk veel meer sin maak as ‘n bak lasagne.
Maak nie saak hoe jy jou sukses vier nie, maak seker dat jy ook ‘n sielkundige beloning daarby inbou– jy kan selfs ‘n ‘Facebook brag’ oorweeg, wat ander vriende kan inspireer om dieselfde te doen.