Langafstand-swemmer en 3 ander gered met oorplantings


Deur Marí Hudson

‘n Noodvlug gisteroggend met twee spanne chirurge uit Kaapstad, die terugvlug vroegmiddag met ‘n skenkerhart, twee niere en ‘n lewer en ‘n nierpasiënt aan boord, gevog deur vier orgaanoorplantings in Kaapstad, is van die dramatiese gebeure wat gister ontvou het.

Werner Krauss (49) langafstand-swemmer en eienaar van ‘n toeriste-0nderneming, het gistermiddag ‘n skenkerhart ontvang. Hy vorder tans goed.

Die ontvangers van die lewer en een nier vorder ook goed. Die tweede nieroorplanting is tans nog aan die gang.

Ek was besig met voorbereidings vir my Gesondheidsprogram op RSG oor die nypende tekort aan skenkerorgane, toe ‘n skenker wel gevind is.

Prof Elmi Muller, van Groote Schuur Hospitaal, en Dr Otto Thaning van die Christiaan Barnard Hospitaal, vergesel met ondersteuningspersoneel, het gisteroggend met ‘n geborgde vlug op ‘n private straler uit Kaapstad vertrek, nadat familie van ‘n pasiënt wat breindood verklaar is, ingestem het tot orgaanskenking.

Die dokters het na middagete na Kaapstad teruggekeer. Die hartoortplanting het van 2 nm tot 7:30 geduur. Gister, in een stadium, was die hart-, nier- en leweroorplanting tegelykertyd aan die gang – alles deur drie vroulike oorplantingchirurge. Die tweede nieroorplanting is vanoggend gedoen.

Die tekort aan skenkerorgane in Suid-Afrika het nou krisis-afmetings aangeneem. Ondanks die skenker, is daar steeds ‘n tekort.

Meer as 4000 mense wat op die oomblik op ‘n hart-, nier-, lewer- long-, hart-longe- of korneaoorplanting. Maar slegs sowat 300 van hulle gaan gehelp word.

Wat is fout? Verwys dokters nie? Is daar nie genoeg ventilators in waaksorgeenhede nie? Gee familielede nie toestemming nie?

Ek gesels Woensdag in Gesondheid op RSG met prof. Elmi Muller (foto regs), hoof van nier- en leweroorplantings by die Groote Schuur Hospitaal, oor orgaanoorplantings. Sy is ook die eerste chirurg wat HIV+ tot HIV+ nieroorplantings op pasiënte gedoen het.

Ons gesels oor die redes vir die tekort aan skenkerorgane, die behoefte aan orgaanoorplantings, die kriteria vir skenkers en oorplantings en die sukses van oorplantings.

Ek gesels ook met Werner Krauss, wat op ‘n hartoorplanting wag, en twee oorplantingskoördineerders. Luister Woensdag 11:30 – 12:00.

Hier is ‘n kort uittreksel uit die program:

Onlangs het ‘n predikant/priester sewe mense van ‘n nuwe lewe ontneem toe hy aan ‘n ma gesê het sy moet toestemming vir orgaanskenking weier nadat haar jong dogter breindood verklaar is. Sy rede: hy dink nie die dogter sou ander mense ‘n nuwe lewe wou bied nie! Skokkend, maar waar.

Daar is die afgelope jaar nog net 2 nieroorplantings in die Rooi Kruis Kinderhospitaal gedoen, maar tientalle kinders wag en is op nierdialise.

Een van die meer as 4000 mense wat tans in Suid-Afrika op ‘n orgaanoorplanting wag, is Werner Kyrt Krauss (49), eienaar van ‘n toeriste-onderneming en gastehuis, en langastand-swemmer. Hy het in September verlede jaar onverwags twee groot hartaanvalle gehad. Hy was fiks, gesond, ‘n nie-roker met geen familiegeskiedenis van hartsiektes nie. Een dag het hy nog 7 km geswem, en ‘n paar dae later klou hy beswaarlik aan die lewe vas. Nou wag hy op ‘n hartoorplanting. Sonder ‘n hartoorplanting sal hy die Christiaan Barnard Hospitaal nie lewend verlaat nie.

Werner Krauss. Foto: Cape Argus

Werner Krauss (Foto: Cape Argus)

Lees meer oor Werner se noodroep na die publiek: http://www.iol.co.za/capeargus/news/watch-i-need-a-heart-please-help-9175507