US chirurge doen eerste penis-oorplanting ter wêreld


Presies 47 jaar en 8 dae nadat Chris Barnard die eerste hartoorplanting in die wereld gedoen het, het Suid-Afrika weer ‘n wereld-eerste in oorplantingsoperasies behaal.

‘n Span dinamiese chirurge van die Universiteit van Stellenbosch het in die nag van 10 – 11 Desember 2014 in ‘n nege-uur-lange operasie die eerste suksesvolle penis-oorplanting in die Tygerberg Hospitaal uitgevoer.

Die span onder leiding van Prof André van der Merwe, hoof van die department Urologie aan die Universiteit van Stellenbosch, en bygestaan deur Prof Frank Graewe, hoof van Plastiese en Rekonstruktiewe chirurgie aan dieselfde universiteit, het die penis van ‘n breindood-skenker op ‘n 21-jarige man oorgeplant wat sy penis verloor het in ‘n rituele bosbesnydenis wat skeefgeloop het.

Die span in die teater tydens die deurbraak-oorplanting. Die leier van die span chirurge, prof. André van der Merwe, staan vyfde van links. Prof. Frank Graewe is heel link, met sy spesiale vergrotingsbrille.

Die span in die teater tydens die deurbraak-oorplanting. Die leier van die span chirurge, prof. André van der Merwe, staan vyfde van links. Prof. Frank Graewe is heel link, met sy spesiale vergrotingsbrille.

Hulle beplan reeds sedert 2010 aan die oorplanting, maar het ander oorplantingspanne wêreldwyd wat ook reeds lank die oorplanting beplan, voorgespring, om dat die behoefte in Suid-Afrika so groot is. Die derde hooflid van die span, prof. Rafique Moosa, uitvoerende direkteur van die department van Interne Geneeskunde aan die Universiteit van Stellenbosch, waak oor die teenverwerpingsbehandeling van die ontvanger. Die vierde belangrike persoon wat van meet af met die span saamwerk, is dr. Nicola Barsdorf, wat sorg dat die program aan internasionale etiese riglyne voldoen.

Prof André van der Merwe, leier van die oorplantingspan

Prof André van der Merwe, die stil ‘boerseun’ wat die oorplantingspan gelei het.

Prof Frank Graewe, die Duitse plastiese chirurg wat nie net die fyn hegtingswerk gedoen het nie, maar ook mooi Afrikaans praat.

Prof Frank Graewe, die Duitse plastiese chirurg wat nie net die fyn hegtingswerk gedoen het nie, maar ook mooi Afrikaans praat.

Prof Rafique Moosa, uitvoerende hoof van die departement van Geneeskunde aan US, en die immunoterapie-kenner.

Prof Rafique Moosa, uitvoerende hoof van die departement van Geneeskunde aan US, en die immunoterapie-kenner. Hy is een van ‘n elite-groep medici wat ‘n doktorsgraad in Geneeskunde verwerf het, en wel cum laude.

Dr Nicola Barsdorf, wat al die etiese kwessies langs die pad uitsorteer sodat die hele program aan streng etiese voorwaardes voldoen.

Dr Nicola Barsdorf, wat al die etiese kwessies langs die pad uitsorteer sodat die hele program aan streng etiese vereistes voldoen.

Hoewel China in 2006 ‘n penis-oorplanting aangepak het, moes die oorgeplante orgaan na twee weke verwyder word.

Die ontvanger, wat ons Andrew noem om sy identiteit te beskerm, het net ‘n stompie van sowat 1 cm oorgehad het nadat ‘n onkundige besnyderaar ná die bosbesnydenis sowat drie jaar gelede, ‘n bokvel hopeloos te styf om die wond gedraai het. ‘Andrew’ het vóór die operasie in skaamte gelewe en was desperaat vir hulp. Volgens prof. Van der Merwe het ‘Andrew’ met die eerste aanskoue van sy oorgeplante penis net sy kop agteroor gegooi en sy oë toegemaak. Dit was ‘n emosionele oomblik vir die jongman.

Luister na die program oor die oorplanting.

Die 6 dinge wat die span anders gedoen het

‘Ons het baie uit die foute wat moontlik in China gemaak is, geleer, en dit toe effe anders aangepak, het prof. Van der Merwe verduidelik. Hy was ook die eerste Suid-Afrikaanse chirurg wat ‘n skenkernier laparoskopies met slegs ‘n klein snit in die bikini-lyn te verwyder.
‘Ons het baie navorsing en proefnemings op kadawers in die anatomie-laboratorium gedoen en besef in die meeste gevalle is die ontvanger se eie bloedvate by die stompie só beskadig en te klein dat dit nie weer kan funksioneer nie. Ons het besef ons moet moontlik na alternatiewe bloedvate in die liggaam kyk, wat ons dan kan inspan om voldoende bloedvoorsiening aan die oorgeplante orgaan te lewer.
‘Maar die bloedvate is klein en net ‘n goeie mikrochirurg kan só fyn werk om bloedvate dunnner as 1 mm in deursnee, te heg. Prof. Frank Graewe is dus betrek as ‘n essensiële lid van die span.’
Die span het ook besluit om spesiale spons-verbande te gebruik om die oorgeplante penis na die operasie te verbind en in posisie te hou.

In ‘n neutedop: Die 6 dinge wat Prof. Van der Merwe en sy span anders gedoen het as die China-probeerslag:
1. Die potensiële ontvangers word baie deeglike sielkundig klinies ge-evalueer nadat behoorlike navorsings- en etiese protokolle opgestel en goedgekeur is.
2.  Hy het beste span moontlik bymekaar gebring – ‘n mikrochirurg en immunoterapie-kenner is onder meer betrek.
3. Die span het ‘n gesonde buik-slagaartjie van die ontvanger ingespan en nie die ontvanger se eie beskadigde slagaartjies van die penis-stompie nie.
4. Die oorgeplante penis se bloedvloei is nie met warm lug aangehelp nie, maar met medikasie en inspuitings.
5. Die oorgeplante penis is die eerste vier dae in spesiale spons’verbande’ verbind om seker te maak die fyn stekies skeur nie uit nie, en die bloedvoorsiening is goed.
6. Die bloedvloei na die oorgeplante penis is voortdurend met ‘n spesiale kateter gemonitor sodat baie vinnig opgetree kon word indien die bloedvloei afneem. Dit het inderdaad gebeur, maar daar is vinnig ingegryp.

Die operasie het as volg verloop
In die nege-uur lange operasie is twee slagaartjies, een aar, twee senuweeskedes, die uretra (blaaspypie), sagte weefsel en vel oorgeplant. Dit het as volg verloop:
Stap 1: Op 10 Desember 2014 word Prof Van der Merwe in kennis gestel van ‘n potensiële skenker. Die skenker se weefseltipe stem voldoende ooreen met dié van die jongman om voort te gaan met die aanvang van wat nou die wêreld se eerste suksesvolle penis-oorplanting sou word.
Stap 2. Die middag begin Proff. Van der Merwe en Graewe om die skenkerpenis te verwyder, terwyl oorplantingchirurge van Johannesburg begin om die skenker se hart, niere, lewer en longe te verwyder. Proff Van der Merwe en Graewe moet versigtig die bloedvate (twee arteries en een vene) en twee senuwees van die skenker se penis uit-dissekteer en hulle moet seker maak dat hierdie fyn strukture so netjies uit- en afgesny word sodat dit weer aan die ontvanger geheg kan word.
Stap 3. Daarna word ‘n penis uit velflappe van die buikwand vir die skenker gevorm sodat alles manlik en waardig lyk.
Stap 4. Die nieroorplanting word onmiddelik na die verwydering van die organe gedoen terwyl die skenker-penis afgekoel en bewaar word. Prof. Graewe was besorg dat die afkoeling en die 16 ure wagtyd sonder suurstofvoorsiening die weefsel van die skenkerorgaan kan beskadig, maar dit het uiteindelik gelukkig nie ‘n negatiewe effek gehad nie.
Stap 5. Omstreeks 11 nm is die nieroorplanting voltooi en begin die voorbereidings vir die penis-oorplanting. Proff. Van der Merwe en Graewe en hulle span probeer eers om die pasiënt se eie bloedvate by die stompie te gebruik, maar dit is onherstelbaar beskadig. Hulle identifiseer en dissekteer toe sy inferior epigastriese slagaar uit tot waar dit in aan die agterkant van die agterste maagspier – die rectus abdominus – invloei, en klamp en sny dit daar af. (Die diep inferior epigastriese arterie in die buik ontspring uit die eksterne iliake slagaar, en verloop opwaarts aan die binnekant van die rectus abdominus. Dié maagspier ontvang ook bloed van ‘n slagaar van bo, en die verwydering van die spesifieke slagaar benadeel nie die werking van die spier nie.)
Stap 6. Dié buikslagaar is sowat 1.5 mm in deursnee en word nou afgeswaai en aan die dorsale arterie s van die skenker-penis gewerk. Die disseksie van die bloedvate word met n 4x vergrotingsbril gedoen en die hegting of anastomose van die bloedvate om bloedvloei na die oorgeplante penis te herstel wordonder die operasiemikroskoop gedoen.
Stap 7. Die tweede slagaar tussen die ontvanger en die skenkerpenis word geheg en ook die aar (vene) wat skaars 1,5 mm in deursnee is. Die vene word versigtig onder ‘n mikroskoop met ‘n spesiale klampie geheg. Die senuweeskedes word ook geheg sodat die senuweedrade van die ontvanger teen sowat 1mmper week (Andre se 1 mm per week, en Frank se 1 mm per dag?) in die skedes kan groei om weer normale gevoel te gee.
Stap 8. Die weefsel van die penis self, die blaaspypie en die vel word geheg.
Stap 9. Omstreeks 8 uur die oggend van op 11 Desember word die pasiënt uit die teater gestoot. Sy nuwe penis is aangeheg, dreineringsbuise en ‘n kateter is in plek, en die oorgeplante orgaan is versigtig in ‘n spesifieke posisie in groot spons verbind sodat geen beweging die steke kan uitskeur nie. Die oorgeplante penis se bloedvoorsiening word met ‘n spesiale kateter gemonitor wat die suurstofspanning in die weefsel meet sodat die chirurge dadelik kan weet indien die bloedvoorsiening nie 100% is nie en vinnig kan optree.
Stap 10. Prof Moosa se rol word nou van kardinale belang. Hy begin die ontvanger te behandel met hoë doserings teenverwerpingsmiddels – sterker as wat gewoonlik vir nierontvangers gegee word omdat ‘n penis-oorplanting beskryf word as ‘n ‘komposiet’ of saamgestelde oorplanting waarby vel en ander weefsel betrokke is, en ‘n sterker verwerpingsreaksie verwag kan word.
Stap 11. Vier dae na die operasie word die spons-verbande verwyder, en aanskou die jongman, wat byna drie jaar lank met ‘n stompie moes saamleef, die eerste keer sy nuwe penis. Hy is oorstelp. Hy toon geen tekens van verwerping nie, en ook geen newe-effekte van die teenverwerpingsbehandeling nie. As deel van sy behandeling om gesonde bloedvloei na die weefsel te verseker, word hy ook met Viagra behandel.
Stap 12. Vyf weke na die oorplanting: die ontvanger het normale seks met sy meisie wat hom reeds goed ken en hom deur die trauma en oorplanting bygestaan het.
Stap 13. 9 Maart 2015: Proff Van der Merwe en Graewe herstel ‘n opening van die blaaspypie (uretra) wat as komplikasie onstaan het. Die ontvanger kan nou gewoon deur sy penis urineer.
Die jongman loop nie ‘n ekele hospitaal-afspraak mis nie, drink sy teenwerpingsmiddels getrou elke dag en besef dat hy dit vir die res van lewe moet gebruik, al voel hy gesond. Viagra-behandeling is steeds deel van die protokol, maar sal mettertyd verminder word. Hy is fiks en oefen ook gereeld in ‘n gymnasium. Die jongman met die mooi glimlag, kan weliswaar nie ophou glimlag nie, maar wil sy identiteit beskerm.

Beide proff. Van der Merwe en Graewe voorsien dat die tweede oorplanting net sowat 5 ure sal duur, omdat hulle onmiddellik die diep inferior epigastriese arteries al inspan en nie tyd verspeel om bruikbare slagaartjies in die stompie te soek nie.

Dis hoe die jongman voor die oorplanting gelyk het, en nou.

Dis hoe die jongman voor die oorplanting gelyk het, en nou. Illustrasie: Design Infestation

Die skenker-penis. Illustrasies met dank aan Prof. Frank Graewe.

Die skenker-penis. Die slagaartjies is rooi, die aar is blou en die senuweeskedes is geel. Illustrasies met dank aan Prof. Frank Graewe.

Die ontvanger voor die oorplanting begin het.

Die ontvanger voor die oorplanting begin het.

Die slagaartjie van die maagspier word afgeswaai.

Die slagaartjie van die maagspier word afgeswaai.

Die hegting van die 2 slagaartjies, een aar, twee senuweeskedes, die uretra, die sponsweefsel en die vel word gedoen.

Die hegting van die 2 slagaartjies, een aar, twee senuweeskedes, die uretra, die sponsweefsel en die vel word gedoen.

Ander soos ‘Andrew’
Volgens prof Van der Merwe verloor sowat 250 jongmans elke jaar hul penisse weens ondeurdagte praktyke tydens die rituele besnydenis van Xhosa mans. Die grootste getal mislukkings vind in die Oos-Kaap plaas.
Aspekte oor die bosbensydenis wanpraktyke wat aan die lig gekom het, is dat baie jongmans uitgebuit word deur mense wat hulle as ervare besnyderaars voordoen en dan nie net geldmaak nie, maar ook die Xhosa-tradisie benadeel.. Die jongmans moet soms tot sowat R20 000 opdok, en dan is die besnyderaar te onkundig of onbekwaam om die prosedure veilig uit te voer en te behandel. Die meeste jongmans wat hul penisse verloor, verloor dit omdat ‘n bokvel hopeloos te styf om die penis gedraai word. Saam met ontwatering van die jongman tydens inisiasie in die bos, vind nekrose van die penis plaas, en val die hele penis buiten ‘n kort stompie wat dikwels nie eens 1 cm lank is nie, af. Infeksie speel ook ‘n rol en beskadig die bloedvate by die stompie onherstelbaar.

Tans is ses jong mans op die waglys vir ‘n penis-oorplanting in Tygerberg Hospitaal. Hulle is deeglik sielkundig en klinies geëvalueer voordat hulle as geskikte kandidate op ‘n waglys geplaas is. Een van die kandidate is ‘n jong prokureur. ‘n Tweede steek sy geheim selfs vir sy ouers weg, al woon hy nog by hulle. ‘n Derde verander van werk sodra ander Xhosa-mans saam met hom begin werk omdat hy net nie kans sien dat hulle sy geheim uitvind nie.

Prof van der Merwe sê dit blyk uit in-diepte gesprekke tydens die evaluering van die kandidate dat ‘n mens nie kennis neem van die groot probleem nie omdat die meeste jongmans nie kans sien om met hulle geheim te lewe nie, en dan selfmoord pleeg. Hulle doen dit ook op ‘n spesifieke manier: hulle koop brood of ander kos, en gif, en loop die veld in. Só verdwyn hulle dan net.

Die oorplanting is deel van Prof. Van der Merwe se PhD navorsing, en verdere aanpassings in die oorplantingstegniek kan nog gemaak word totdat die beste tegniek ontwikkel is. Die mediese besonderhede en tegnieke gebruik in die penis-oorplanting sal binnekort deur Prof van der Merwe op ‘n internasionale kongres voorgedra word.

Prof. Van der Merwe het die hoop uitgespreek dat Tygerberg-Hospitaal op nasionale vlak uitgelig kan word as die nasionale sentrum vir uitnemendheid vir penis-oorplantings.

Luister na die potgooi van Gesondheid op RSG vir volledige onderhoude met prof. André van der Merwe en die ander hooflede van die span oor die probleem, die operasie, en teenverwerpingsbehandeling ná ‘n oorplanting en ander inligting wat jy nog nie gehoor het nie.