Het jy ‘n alkohol-probleem?


Ná ons eerste program drie weke gelede, gesels ons vandag verder oor alkohol- en middelmisbruik met die fokus op veral alkoholmisbruik diagnose en behandeling.

Beteken ‘binge-drinking’ jy het ’n alkoholprobleem? En as ‘n mens elke dag ’n glasie wyn drink? Hoe diagnoseer psigiaters alkohol- en middelmisbruik? Wat is die jongste en beste benaderings ten opsigte van behandeling.” Marí Hudson gesels in ’n opvolggesprek met Dr Eugene Allers ‘n psigiater verbonde aan die SA Vereniging vir Psigiaters (SASOP) oor alkohol- en middelmisbruik, en beantwoord ook luisteraarsvrae.

Dr Eugene Allers beantwoord ook luisteraarsvrae.

Belangrike feite uit die program

  1. “Binge-drinking” oor naweke beteken die “binge”-drinker het ‘n probleem van alkohol-misbruik en het professionele hulp nodig. Die argument “ek hoef nie elke dag te drink nie; ek kan beheer wanneer ek drink” is ontkenning.
  2. Alkohol is ‘n sosialiseerder en iemand wat een sopie per dag saam met vriende drink (soos die Franse met etes maak) word as alkohol-gebruik beskou en nie as alkohol-misbruik nie. Maar as iemand alleen daagliks ‘n sopie of meer drink, word ‘n diagnose gemaak van alkohol-misbruik. Die vraag moet gevra word waarom die persoon dit nodig vind om enigsins ‘n middel in te neem wat die brein-chemie verander, al is hy/sy alleen.
  3. As jy vinnig ‘n sluk alkohol moet neem voordat jy ‘n afspraak nakom of iets doen, byna asof jy moed moet kry, het jy ‘n alkoholmisbruik-probleem.
  4. Die lewer kan 1 sopie alkohol (125 ml wyn of 340 ml bier, of 1 ’tot’ whisky, brandewyn, vodka, gin of ander hardehout) elke 2 ure verwerk. As jy dus meer as 1 sopie per 2 ure drink, sal jou bloed-alkoholvlak vinnig oor die wetlike limiet styg.
  5. Jou brein word reeds van die eerste sluk af aangetas. Klik hier om na die programme te luister waar forensiese patoloog Dr Izak Loftus verduidelik hoe alkohol letterlik soos ‘n brander oor jou brein beweeg en verskillende vlakke van alkohol verskillende dele van die brein aantas en hoe mens dit waarneem.
  6. As jy gereeld meer as een sopie per dag drink, of per geleentheid baie drink, vermeerder die alkohol-reseptore in jou brein, en moet dit gevoed word met meer en meer alkohol. Mense wat groot hoeveelhede alkohol inneem, kan nie self hul alkohol-misbruikprobleem behandel deur te dink hulle gaan self net ophou drink nie. Die alkohol-reseptore in hul brein sal hulle besluit oorheers. Hulle het professionele hulp nodig om vas te stel waarom hulle alkohol nodig gehad het. Die verhoogde alkohol-reseptore wat roep om alkohol is ook die rede waarom iemand wat voorheen ‘n drankprobleem gehad het, nie later wel sy bietjie of matig kan drink nie: die oomblik as die behandelde alkoholis die eerste slukkie alkohol neem, word al die alkohol-reseptore in die brein geaktiveer en sal die individu se selfbeheer oordonder. Die kans dat hy kan wen teen die alkohol-reseptore is bitter klein.
  7. As iemand nie babalaas het nadat hy/sy meer as 2 sopies binne 4 ure geneem het (soms sommer 1 liter wyn per dag), beteken dit dat die persoon se alkohol-reseptore al so vermeerder het dat hy nie babalaas ontwikkel nie, maar dit beteken steeds lewerskade, verhoogde kankerrisiko, verhoogde TB-risiko en al die ander risiko’s. As iemand babalaas kry nadat hy/sy bietjie gedrink het, is dit eintlik ‘n goeie teken omdat die persoon se brein-chemie nog nie soveel verander het dat meer alkohol-reseptore gevorm het nie, en dat die hoofpyn moontlik sal verhoed dat die persoon se alkohol-gebruik hand-uit ruk. Babalaas is ‘n goeie alarm. As een baie drink en geen babalaas ontwikkel nie, is die liggaam se natuurlike alarm al vernietig.
  8. Die voordele van alkohol-gebruik (dat dit bloedvate oop hou en goed is vir jou hart) word ongelukkig oordonder deur die nadele en skade as mens meer as een sopie per dag neem.
    – Die verband tussen alkohol en borskanker en kanker van die mond, keel of tong, is groot.
    – Die verband tussen tuberkulose en alkohol-misbruik is ook groot.
    – Gereelde alkoholgebruik van meer as een sopie per 2 ure lei tot lewerskade, en uiteindelik lewerverskrompeling en lewerversaking.
    – Alkohol is ‘n brein-toksien en maak breinselle dood.
    – Alkohol het ‘n wesenlike effek op sekere genetiese materiaal: dit skakel gene aan wat tot vervroegde demensie en Alzheimersiekte kan lei. Dit skakel ook gene wat die liggaam teen kanker beskerm af. (Die rook van tabak-sigarette, en ook die rook van e-sigarette, het soortgelyke aan-skakel effekte van ongewenste gene en afskakel-effek op beskermende gene.)
  9. Die behandeling van alkohol-misbruik (alkoholisme) behels die inplanting van ‘n pil (Antibuse) wat mens siek maak as jy drink, plus professionele behandeling deur ‘n psigiater en ‘n span sodat vasgestel kan word waarom die persoon wil drink. Die alkohol-misbruiker drink dikwels alkohol as selfmedikasie vir depressie, angstigheid, minderwaardigheid, skaamheid, alleenheid, of om iets te vergeet. Dit is veiliger en doeltreffender om die onderliggende probleem met ‘n goeie antidepressant, angswerende middel of ander medikasie of terapie te behandel as met alkohol.
  10. Vind ‘n psigiater in private praktyk hier: https://www.sasop.co.za/Patient

Meer oor ons eerste program op 22 Augustus:

Die misbruik van dwelms en alkohol kos die Suid-Afrikaanse ekonomie sowat R40-miljard per jaar. Byna een een uit elke vyf volwasses in Suid-Afrika misbruik middels wat die brein aantas. Die oplossings word belemmer deur gebrek aan geld en ou benaderings ten opsigte van behandeling.

Dr Eugene Allers

Marí Hudson praat met dr Eugene Allers ’n psigiater oor die dwelmprobleem en die jongste tendense in die behandeling van mense met dwelm- en alkoholprobleme.

Die oorlog teen middelmisbruik in SA

Misbruik van alkohol en dwelms is jaarliks verantwoordelik vir ​​’n multibiljoen rand duik in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Oplossings word egter beperk deur onvoldoende befondsing asook die onwilligheid om die huidige globale denke om die behandeling van verslawing as mediese toestand te sien en te aanvaar.

Byna 20% van Suid-Afrikaners, 1 uit elke 5 volwassenes, misbruik middels wat die brein aantas. Alkohol, pynstillers (kodeïen) en dagga word die meeste misbruik en stygende syfers van onwettige dwelmgebruik dui daarop dat die land die oorlog verloor teen dwelms.

Die jaarlikse onkoste vir die land ten opsigte van slegs alkoholmisbruik, in terme van afwesigheid, verlore produktiwiteit, gesondheids- en welsynskoste en alkoholverwante misdaad word op 10% van die bruto binnelandse produk (BBP), of soveel as R37.9 biljoen bereken, volgens ‘n 2014-studie in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal (SAMJ).

Terwyl Suid-Afrika progressiewe wetgewing het oor die voorkoming en behandeling van dwelm- en alkoholafhanklikheid en ‘n omvattende nasionale Dwelmmeesterplan in lyn met die nuutste strategieë wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) onderskryf word, word die implementering belemmer deur ‘n gebrek aan befondsing en “ou benaderings ten opsigte van behandeling,” sê dr Eugene Allers, ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (SASOP).

Hy sê die oudmodiese benadering tot die behandeling van dwelmmisbruik, wat op maatskaplike rehabilitasie en aanmoediging van onthouding en gedragsverandering gefokus is, word vervang deur die siening dat verslawing ‘n mediese toestand is wat ‘n multidissiplinêre toenadering vereis.

“Om sober te wees word nie meer as die enigste mate van sukses beskou nie, maar eerder die vermoë om die pasiënt funksioneel  en vry van onwettige medisyne te hou”, het Allers gesê.

Middelmisbruik en psigiatriese gesondheid is nou verwant, het hy gesê, met een wat dikwels na die ander lei.

“Die behandeling van hierdie toestande benodig ‘n multi-professionele spanbenadering wat mediese toenadering, psigiatriese behandeling, sielkundige terapie, sosiale aksieprogramme en ander professionele hulp insluit”.

“Gepaardgaande psigiatriese toestande moet saam met die middelmisbruikprobleem behandel word om goeie uitkomste te verseker. Alhoewel toegang tot behandeling gedurende die afgelope paar jaar verbeter het, is befondsing vir die behandeling steeds baie beperk, veral ten opsigte van mediese hulp,” het hy gesê.

Allers sê die regering se nuwe wetgewing oor die voorkoming en behandeling van dwelm- en alkoholmisbruik, saam met die nasionale Dwelmmeesterplan, is omvattend en progressief. Dit oorskry die grense van regeringsdepartemente en professionele praktyke om die probleem vanuit verskeie perspektiewe aan te spreek: sosiaal, medies, krimineel en sielkundig.

Sonder voldoende befondsing deur sowel die staat as privaat gesondheidsorgverskaffers, en die aanvaarding van ‘n mediese benadering as behandeling, kan Suid-Afrika se dwelmmisbruikprobleem egter nie behoorlik aangespreek word nie.

‘n Gebrek aan huidige en omvattende inligting oor die omvang en koste van alkohol- en dwelmmisbruik in Suid-Afrika is nog ‘n struikelblok vir die ontwikkeling van wetenskaplike benaderings om die probleem aan te spreek en om vordering te monitor.

Die mees aangehaalde syfers van 1 uit 5 volwassenes wat dwelms en alkohol misbruik, kom uit ‘n 2009-studie wat in die SAMJ gepubliseer is, wat op sy beurt gegrond is op navorsing wat in tussen 2002 en 2004 gedoen is. Min soortgelyke omvattende studies is sedertdien beskikbaar gestel.