Waarom is sommige vroue se testosteroonvlakke hoog?


Gesondheid, Woensdag 9 Mei 2018. – In die lig van die IAAF se besluit om in sekere items perke te stel op die testeroonvlakke van vroulike deelnemers, kyk ons wetenskaplik na testosteroon in vroue.

Waar kom testosteroon in die vrou vandaan? Waarom is sommige vroue se testosteroonvlakke hoër as gemiddeld, en kan mens dit behandel? Kan vroue met hoë testosteroonvlakke swanger raak?

Marí Hudson gesels hieroor met prof. Thinus Kruger, ‘n fertiliteitspesialis van die Aevitas kliniek by die Vincent Palotti Hospitaal in Pinelands en ook verbonde aan die Departement Ginekologie en Verloskunde aan die Universiteit van Stellenbosch se mediese skool.

Enkele feite oor testosteroon in vroue

  • Sowat 99% van alle vroue se normale testosteroonvlakke is laer as 3.08 nanomol/liter.
  • Die perk wat nou deur die IAAF aanbeveel word vir vroue in sekere items is 5 nmol/L
  • Sommige vroue-atlete wie se testosteroonvlakke tydens die Wêreldkampioenskap gemeet is, was tussen 15,6 en 29,3 nmol/L. Caster Semenya was een van dié vroue wie se vlakke gemeet is en in hierdie reikwydte val.
  • Baie mans se testosteroonvlakke is tussen 8,7 nmol/L en 29.5 nmol/L.
  • Mans se testosteroon word onder aansporing van die Y-chromosoom, wat testes-vorming aktiveer, deur die testes en die byniere vervaardig.
  • Vroue se testosteroon word deur die ovaria en die byniere afgeskei.
  • Sommige vroue wat normale geslagschomosome het (XX), ly aan POCS (Polisistiese Ovariële Sindroom) en hul testosteroonvlakke is effentjies verhoog. Met behandeling word dit verlaag, en dié vroue kan dan swanger raak. Die effe verhoogde testosteroonvlakke is dus tydelik en behandelbaar. Die vroue lyk vroulik, en is soms effe of meer oorgewig weens die hormoonwanbalanse.
  • As ‘n vrou egter aan langdurige verhoogde vlakke van testosteroon ly, moet die dokter begin soek vir die oorsaak, wat dan moontlik ‘n byniergewas, ‘n eierstokgewas of ooraktiewe byniere kan wees. Die probleem moet opgespoor en behandel word, omdat die gewasse en bynier-afwykings lewensgevaarlik kan wees.
  • In die bynier-afwyking skei die vrou se byniere te veel testosteroon en te min kortisoon af. Hulle ly inderwaarheid aan ‘n seldsame genetiese defek waar een of twee ensieme wat noodsaaklik is in die testoroon siklus, nie korrek funksioneer nie. Dit staan bekend as aangebore (kongenitale) bynier (adrenale) hiperplasie, in Engels afgekort as CAH.
    Dit beteken diegene ly aan langdurige verhoogde vlakke van testosteroonproduksie, en is baie gespierd, en is baie vermanlik. Hulle het min borsontwikkeling en menstrueer nie. Hulle het nie ‘n manlike geslagsorgaan nie, maar wel ‘n vergrote clitoris, wat met plastiese chirurgie verklein kan word.
    As ‘n baba met kongenitale adrenale hiperplasie gebore word – en een uit duisend babas wat gebore word, het CAH – moet die toestand baie vinnig gediagnoseer word omdat die baie elektroliete en sout kan verloor en weens dehidrasie kan sterf. Dié kinders kan ook sterf as hulle in ‘n skoktoestand beleef omdat hulle byniere nie voldoende kortisoon kan produseer om die liggaam tydens skoktoetstande kan normaliseer nie. Hulle moet dus kortisoonbehandeling kry om die byniere se kortisoon-produksiefunksie oor te neem. Kortisoonbehandeling is noodsaaklik om die testosteroonvlakke te verlaag, en om dus die hormonale wanbalanse reg te stel.
    Dit is onwaar dat dit gevaarlik is om dié vroue se verhoogde testosteroonvlakke te verlaag – om dit waarheid te sê, dit is gevaarlik om dit nié te verlaag nié. Die hormoon, 17-hidroksie-progesteroon, wat ‘n voorloper is vir testosteroon, is verhoog in dié vroue, en soos beskryf, is die kortisoonvlakke te laag.
    Lees hier meer hoe ‘n vrou met CAH oor haarself skryf.
    Lees meer mediese inligting oor CAH.
  • In ‘n ander toestand, waar die persoon soos ‘n vrou lyk, maar inderwaarheid XY chromosome soos ‘n man het, kan die vrou se testosteroonvlakke baie hoog wees, maar dit geen effek op die liggaam nie. Juis omdat dit geen effek het nie, het die baba nie as ‘n seuntjie en uitiendelik as man ontwikkel nie. Dit word androgeen onsensitiwiteit genoem, of in Engels AIS. Dit is dus genetiese ‘n seuntjie, maar weens spesifieke geen- en ensiemdefekte reageer die liggaam nie op die testosteroon nie en is die testeroon eintlik nutteloos.
    ‘n Bekende en baie mooi Belgiese supermodel, Hanne Gaby Odiele, het onlangs bekend gemaak dat sy met AIS gebore is.
    Lees meer oor haar.
    Dié mense lyk baie vroulik, met prominente borste, min liggaamsbeharing (want liggaamsbeharing is meestal ‘n testosteroon-gevolg), glad nie gespierd nie, het onafgedaalde testes (wat dringend verwyder moet word omdat testes binne die liggaam kankergewasse kan ontwikkel) en het nie ‘n baarmoeder nie.
    Dié vroue menstrueer nie, is onvrugbaar en kan nie self ‘n baba dra nie. Die meeste van dié pasiënte word in hul puberteit gediagnoseer omdat sy nie begin menstrueer nie.
    Dié toestand kom in een uit 2000 geboortes voor en is dus nie algemeen nie.

Lees meer oor testosteroon in vroue, die IAAF en Caster Semenya

Sportwetenskaplike Dr Ross Tucker werp lig op die IAAF se nuwe toetse en Caster Semenya.
‘n Baie insiggewende artikle oor testosteroonvlakke in vroulike atlete en Caster Semenya.