Derrich verras Ouma Anne


Ons het weer eens besef watter groot en belangrike rol die radio in mense se lewe speel. Lees hier wat skryf Derrich Gardner van Brêkfis met Derrich van sy ervaring die afgelope tyd.

“Dit is verbasend hoe baie oumas hulle kleinkinders vra om vir ons korrespondensie te stuur by RSG. So kry ek ‘n epos van Kerryan Andrews wat vra waarheen kan sy haar ouma Anne (in haar 70’s) se brief aan my stuur.

Na bietjie uitvis en korrespondensie kom ons toe agter dat ouma Anne, ‘n klipgooi woon van waar ek soms gaan gym. Net daar Google ek die tehuis se naam, kry die straatadres en vat pad.

By die ouetehuis weet die hekwag dadelik wie ouma Anne is en verduidelik om so en so te loop en dan links, en sy is in no 25. Gewapen met ‘n pak koekies, plaasbiltong, beskuit en ‘n CD stap ek by ouma Anne se kamer in. En groot was die verbasing. Drukkies en ons kon darem ‘n foto ook neem.

Ons het heerlik gekuier, en toe vra ek waar is die brief…. ‘n verflenterde lysie kom uit ‘n koevertboksie te voorskyn en gou besef ek dis ouma Anne se Vat 5 liedjies. Ek nooi haar toe uit om sommer self ateljee toe te kom. Binne die volgende week of twee, sal ouma Anne een Saterdag haar Vat 5 “live” met ons kom deel op Brekfis met Derrich.

Anne se beste vriend is RSG. Sy is bang om TV te kyk, want dit kan haar epileptiese aanvalle aanwakker en met net een oog wat nog sien, is dit moeilik. ‘n Gemakstoel staan langs die radio en dis waar ouma Anne ons almal vandaan ken… ja Amore ken sy ook, en die hele span. Sy is mal oor Jim Reeves en Foster & Allen…. en het al die Vat 5 CD’s.”

Derrich Gardner en Ouma Anne