Luisteraar maak hart, beursie oop


Ons luisteraars het goeie harte, en RSG is werklikwaar ‘n katalisator en platform waar gemeenskappe en individue na mekaar kan uitreik. Só word elke goeie daad aan ‘n medemens nog ‘n tree op Suid-Afrika se pad na herstel. Die krag van radio en die goeie harte van luisteraars maak saam ‘n formidabele span. Lees net dié ware verhaal wat ons harte sommer warmer laat klop het.

Alles het so twee maande gelede begin, toe ‘n verwoestende brand ongeveer 800 plakkershutte in Kaya Sands, Johannesburg getref. Een van die inwoners, die 19-jarige Zandile wat vir Badie Badenhorst in sy konstruksie maatskappy werk, was een van die slagoffers wat alles in die brand verloor het.

Zandile_Badie Badenhorst

Zandile op een van die boupersele in Johannesburg waar hy elke dag saam met 10 ander konstruksiewerkers werk.

Zandile is oorspronklik van Zimbabwe en het in Suid-Afrika kom werk om ‘n inkomste te verdien en vir sy ma te sorg nadat sy pa oorlede is. Hy het suiker, olie, meel, emmers met ander goedere en sowat R2,800 bymekaar gemaak om gedurende die Desember-vakansie huis toe te neem. En eensklaps was alles weg! Sy Kersgeskenk aan sy ma, was letterlik in puin.

Badie het een Vrydagmiddag na Loslip ingebel om saam te gesels oor dankbaarheid van mense – hy wou toe vertel hoe dankbaar Zandile was nadat Badie net ‘n paar koppies, pierings en kledingstukke vir hom gegee het, en dat daardie opregte dankbaarheid baie meer beteken as om ‘n nuwe kar te wen (Badie het toevallig ook ingeskryf vir die RSG-Beeld-Kinderfonds se motorkompetisie).

En toe het dié vertelling van Badie ‘n rippel-effek.

Want ‘n ander RSG luisteraar in Klerksdorp, wat verkies om anoniem te bly, het na Badie geluister en daar en dan besluit om Zandile te help. Met die hulp van RSG se luggolwe is Badie Badenhorst toe ‘n paar dae later opgespoor en met die Klerksdorp-luisteraar in verbinding geplaas. Die luisteraar van Klerksdorp het daarna al die pad van Noordwes na die bouperseel in Olivedale, Johannesburg gery om Badie en Zandile te ontmoet – en toe vir Zandile verras met ‘n stewige bedrag – genoeg om al die besittings wat hy verloor het, te vervang.

Zandile kon nie glo dat ‘n totale vreemdeling hom gehelp het nie! Zandile het net die heeltyd gese “God Bless you” en die drie manne het almal bewoë geraak tydens die ontmoeting.

Badie glo dit was nie net toeval dat hy daardie Vrydagmiddag ingebel het op Loslip nie – dit was immers die eerste keer wat hy ingebel het na een van RSG se programme. Hy glo dit was bestem dat Zandile en die luisteraar van Klerksdorp bymekaar uitgekom het en dat alles in plek geval het.