Beplan jou Kersmaal betyds


Maandag 15 Desember 2014

Beplan jou Kersmaal betyds

Heleen Meyer se aarbei- en basiliekruidslaai

Heleen Meyer se aarbei- en basiliekruidslaai

Die einde van die jaar is vir meeste mense sinoniem met van die grootste feestye op die kalendar. Of dit nou Kersfees, Nuwejaar of albei is, is dit ’n tyd wanneer Suid-Afrikaners ekstra moeite vir die eettafel doen. Dis wel ook vakansietyd, so min mense het lus om lang tye óf alleen in die kombuis te staan. Die idee is mos juis dat almal saam moet kuier.

Ek het ’n feestyd spyskaart beplan wat gesond en minder oordadig is – maar almal gaan beslis lekker eet en bederf voel. Heelwat van die werk kan ook vooraf gedoen word en dis ’n spyskaart waarmee die ander gaste vooraf of op die dag kan help. Besluit self of jy die hele spyskaart net so wil gebruik of dalk aspekte hiervan en die res vir ’n ander spesiale ete. Vars produkte is ook nie altyd maklik beskikbaar nie, so ek probeer om alternatiewe voor te stel, maar wees kreatief met wat jy het of in die hande kan kry en onthou om bestanddele te koop wat seisonaal is. Op die manier is jy verseker van ’n meer bekostigbare en waarskynlik geuriger item en daar is heelwat minder kosmyle ter sprake.

Die kleurvolle aarbeislaai op die spyskaart is ’n heerlike voorgereg of bygereg. Alles kan vooraf opgesny en in bakkies of plastieksakkies in die yskas gehou word. Maak ook die slaaisous vooraf en hou die croutons in ’n lugdigte houer. Dan is dit vinnig om alles net voor te sit en dit lyk ewe mooi op ’n groot plat slaaibord of individuele bordjies of selfs glasbakkies. As daar nie aarbeie beskikbaar is nie, is perskes of nektariens ook ideaal. Selfs waatlemoen is lekker, maar dan gaan jy nie waatlemoen as bykos ook herhaal nie.

Geroosterde hoender met suurlemoen-en-kruie is ’n eenvoudige, maar maklike manier om ’n heerlike vleisgereg vir ’n feesmaal te maak. Dit gee mens ook kans om jou bykosse dalk meer interessant te maak, omdat die geure van die hoender baie goed by ’n verskeidenheid bykosse pas. Dieselfde geurmiddels kan ewe suksesvol vir vis, vark- of selfs lamsvleis gebruik word.

Die geroosterde wortels en patats is vinnig om te maak, maar ewe lekker warm of teen kamertemperatuur, so dit kan ook die vorige dag berei word en teen kamertemperatuur op ’n bed van roketblare voorgesit word.

Waatlemoen en spanspek sê somer! Die seisoen hiervoor is in die middel van die somer en ideaal vir die feestyd. Dit pas ook by ’n verskeidenheid vleisgeregte en slaaie en kan op verskillende maniere gesny word. Garneer dit met vars kruisement om die geure verder af te rond.

’n Granola-krummel met vye is ’n indrukwekkende, maar maklike nagereg. Die krummel kan ’n hele paar dae vooraf gerooster word, sommer wanneer jy die oond vir die croutons of ’n ander ete aangesit het. Maak ’n dubbele baksel en kyk na die ander maniere waarop dit nog gebruik kan word. Onthou net om dit in ’n lugdigte houer te stoor, veral as jy iewers by die kus is. Die vye kan maklik met ander somervrugte of –bessies vervang word. Druiwe, mango, nektariens of aarbeie sal goed werk. Kies net die vrugte só, dat daar nie enige herhaling in jou spyskaart is nie. As jy bv nektariens vir die voorgereg gebruik het, kan jy iets ander vir die nagereg kies. Die granaatpitte in die resep kan ook met bessies of gedroogde rooibosbessies (cranberries) vervang word.

 Kyk ook na die ander wenke onderaan elke resep, want dalk is daar ’n variasie wat jy vir ’n ander ete wil gebruik. Beplan jou feesetes vooraf, sodat jy jou inkopies ook betyds kan doen en nie onnodige duur pryse hoef te betaal nie. Onthou om matige porsies te eet, dan hoef jy nooit oor enige iets skuldig te voel nie en hou jou etes so vars en natuurlik as moontlik. Heel onder aan die resepte is ’n inkopielys. Sommige bestanddele kan jy reeds in jou koskas hê, so dis maklik om dan net die res aan te koop.

’n Geseënde feestyd vir jou en jou geliefdes. Lekker kook en eet.

Feestelike kosgroete.