Bekroonde ‘Die testament’ op RSG


Die testament deur Rhona Peens, wat in 2006 die derde plek in die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie behaal het, is op Donderdag 18 Oktober om 20:00 in Radioteater uitgesaai. Hierdie argiefdrama is tans ‘n voorgeskrewe werk vir gr. 10-leerders en word deur RSG as studiehulp heruitgesaai.

Die storie

Oom Josef Rossouw sterf en sy familie en werkernemers word na die prokureur se kantore genooi sodat die testament vir hulle gelees kan word. Daar is miljoene rand in die boedel, maar dan word oom Josef se lys gedetailleerde voorwaardes gelees…
Skielik klink die belofte van ‘n stewige erfporsie eerder na ‘n nagmerrie en veral Herman en Katinka se dogter, Zenobia, begin kapsie maak. Oom Josef dirigeer die gebeure meesterlik uit die graf, want hy wil net seker maak dat sy familie nie ook geld gaan gebruik om hul lewens te verwoes nie. Die drama neem ‘n interessante en onverwagse wending en wys op die waarde van gesinsbande en om die belangrike dinge in die lewe met jou geliefdes te deel.

Die regisseur was wyle Evert Snyman.

Die spelers is Henk Hugo, Anrich Herbst, Helena Hugo, Eloise Cupido, Denver Vraagom, Marina Coetzee, Anton Engelen en Evert Snyman.