Die wenners van die RSG Cordis Trust radiodramas aangekondig


Die skrywers Esta Steyn en Engela van Rooyen-Linde is die wenners van die RSG Cordis Trust Christelike Radiodrama-skryfkompetisie vir 2016.

engela_van_rooyen

Engela van Rooyen-Linde

Van Rooyen-Linde se Somer van Ses-en-vyftig het met die louere weggestap in die kategorie vir beste Kersdrama. Die ‘gewone’ tema van die verlore seun wat Kersfees huis toe kom, word hier nuut, met deernis en begrip vir die karakters en wat hulle deurgemaak het, aangebied. Die beoordelaars het dit beskryf as ‘n “uitstekende drama wat vir 100 jaar nog vars sal bly”.

Dié radiodrama wat op Sondag 25 Desember om 15:00 uitgesaai sal word, is met R5 000 bekroon.

Die rolle in Somer van Ses-en-vyftig word deur Rina Nienaber, Karen Wessels, Francois Stemmet, Duncan Johnson, Francois van Rensburg, Donovan Pietersen en Luan Jacobs vertolk.

Die regisseur is Helena Hugo.

Van Rooyen-Linde het al verskeie radiodramas geskryf en haar Paasdrama, Wie is bang vir die goeie wolf?, is in 2014 uitgesaai. Sy is al so vroeg as 1970 bekroon vir haar hoorspel, Die kokerbome sal dit uitroep.

Paasdrama

Esta Steyn. Foto: Netwerk24

Esta Steyn. Foto: Netwerk24

Esta Steyn het die kategorie vir beste Paasdrama gewen met Die herbergier. Dit is ‘n “goed geskryfde geskiedkundige drama met geloofwaardige karakters en ouwêreldse dialoog”.

RSG-luisteraars sal Steyn onthou vir haar boek, Droomdelwers, wat op RSG voorgelees is. Sy het al op 19-jarige ouderdom begin skryf en die gewilde TV-reeks Meeulanders geskep. Sy woon op Saldanha aan die Kaapse weskus.

Steyn ontvang ook R5 000 en haar radiodrama sal op Goeie Vrydag in 2017 gehoor kan word.

Meer as vyftig inskrywings is vir vanjaar se kompetisie ontvang en die beoordelaars was vol lof vir die gehalte van die dramas.

Fanie Marais, trustee en eienaar van Cordis Trust, beskryf sy betrokkenheid by die Christelike Radiodrama-skryfkompetisies op RSG as ‘n geleentheid om die Arikaanse woordkuns ook op die gebied van radiodrama te ontwikkel.