Francois Stemmet: bekende stem van Sarel Seemonster, Seef Visagie…


Francois Stemmet

Francois Stemmet is ‘n gesoute akteur, skrywer en veral bekend as stemkunstenaar. Hy vier vanjaar vyftig jaar in die bedryf, en is steeds ‘n geliefde stem op radio en gaan maak dikwels ‘n draai op TV. Hy is ook tans te hoor as Seef Visagie in RSG se gewilde vervolgverhaal Beproewing. Oor die jare het hy diep spore getrap in die bedryf en waardevolle lesse langs die pad geleer. Esté Gross het met hom gesels oor sy herinneringe en om die man agter die bekende stem beter te leer ken.

As daar een ding is wat dié woordsmid dwars in die krop steek, is dit as jy dit waag om hom ’n icon, legende of ster te noem. “Daar is nie so ding soos ’n ster nie, wel in die hemelruim.” “Ek is ‘n akteur en ek doen my werk net so goed soos wat moontlik is, net soos enige ander persoon wat elke dag werk toe gaan en huis toe gaan.”

Die nederige akteur sê verder: “En jy moet darem net een ding van my weet: Ek word oral uitgekryt as ’n wingat, nie ’n wintie nie -’n windgat (‘n wintie is nog mild) maar mense wat my ken, weet dat ek nederig is en dat dit nie ek is nie.” Hy lag.

Francois in sy jong dae

Sy grootwordjare

“Ek is een van ses kinders. Ek is in Montagu gebore, het ’n gedeelte van my lewe op Ashton gewoon, ons is toe Villiersdorp toe en het in ’n distrik Vyeboom gewoon, voordat ons gesin Franschoek toe verhuis het.”

“My ma was ’n baie level-headed persoon. Sy het ons geleer – jy is jý en jy doen wat jy kan doen soos jý dit kan doen – en dit is genoeg. Daarom het ons almal groot geword met selfvertroue. Ons was wel vrekarm, maar die ou skoentjies en klere wat ons gedra het was betaal of selfgemaak, nooit op skuld nie, en gedra met trots.”

Eers polisieman

Wat min mense weet, is dat Francois eers ’n draai in die SAP (vandag SAPD) gemaak het vóór hy akteur geword het. Hy het ‘n groot sin vir geregtigheid en beskryf dié tyd as een van die beste tye in sy lewe:

“Ek was vir vier jaar in die polisie op die Kaapse vlaktes. Daar was bendes, messteke, moorde, selfmoorde, maar iets was óf wettig óf onwettig, of reg of verkeerd. – en dít was vir my lekker.

Toe kunstenaar

“In 1967 kry ek die geleentheid om ‘n oudisie af te lê by KRUIK,  en daar kry ek die pos! Die eerste keer wat op my kontrak gestaan het Hierna genoem die kunstenaar, jong, ek was darem trots, Ek is nou ’n kunstenaar!” lag hy.

Francois se eerste rol was in die kinderproduksie Lappies die Lappiesmous. Daarna het hy ook ernstige rolle vertolk soos Richard III van Shakespeare.

Francois sê “Ek kan nog my heel eerste rolletjie in radio goed onthou. Dit was in 1968 in ’n Engelse drama. My woorde was: Excuse me, which theatre is Dr. Steyn operating in? ek  was baie trots daarop!”

Sedertdien het Francois verskeie rolle op TV en op radio vertolk en het hy ‘n huishoudelike naam geword.

Sy liefde vir radio

Vir Francois sal radio altyd sy gunsteling media bly. Hy sê: “Dit is omdat jou luisteraar se oor so ver van jou af is, as die mikrofoon, dit is ’n baie eerlike medium.”

As daar een belangrike wenk is wat hy vir ‘n akteur sal gee is dit: “moenie die woorde speel nie, wees die karakter. As jy dié reël toepas, dan klim jy in daai karakter in en speel jy hom van binne af. Jy kan ‘n goeie performance gee in ’n goeie storie, maar jy bars om ’n goeie performance te gee in ’n swak storie. Jou teks is van kardinale belang.”

Om suksesvol te wees, sê Francois, moet jy nederig en leergierig bly. “Jy moet ook bereid wees om ander mense se talent raak te sien. Give a compliment where it is due. En ek sal baie maklik toegee as iemand anders iets beter as ek sal kan doen.”

‘n Ander groot liefde was oorvertaling

Hy was baie nou betrokke by oorvertaling. “Dit is kuns om ’n vertaling nie in Oorklankiaans of Saukaans oor te vertaal nie, maar in Afrikaans. Om logiese taal te gebruik, wat die persoon natuurlik laat klink. Ek dink dit is die sukses van ’n reggiseur en oorklanking. En kies jou akteurs reg.”

Toegewyde gesinsman en Oupa

Francois en sy vrou Laetitia

“Ek het Laetitia op ’n blind date ontmoet wat gemeenskaplike vriende gereël het, maar dit was beslis nie ’n blind date nie, want ek het haar baie duidelik gesien. En ons is darem nou al vir 44 jaar kamermaats.” Hy glimlag en vertel verder oor Laetitia en die kroos:

“Laetitia is die sommemaker, so sy is ons Minister van Finansies. Ons het twee kinders, ’n seun en ’n dogter en saam is ons is ’n oupa en ouma van vyf kleinkinders. Hulle almal is hier in Johannesburg en dis vir ons lekker, want ons kan help.”

Ma en dogter Laetitia en Leatia

Francois se familie en kleinkinders, kinders en hul vriende.(Leatia en De Waal, Francois en Laetitia se kinders staan op die groepfoto langs mekaar).

Sy uiteenlopende belangstellings

“Ek het my seun en dogter altyd Judo klasse toe gevat, toe sit ek net so langs die kant en kyk en dink – ek moet iets meer nuttigs doen met my tyd. Ek het altyd met my seun gespot dat ek ‘n swartgordel sal hê voor hom, en ek het!” hy lag. “Ek was 48 jaar oud toe ek vir die eerste keer op die mat gegaan het, en ek het op 52 my swartgordel gekry. Ek het ook later ’n skeidsregter geword.”

Francois se eerste skildery wat hy geskilder het. Sy gunsteling medium is olie.

Hy geniet dit ook om te skilder: “Ek het so twee jaar gelede begin om kunsklasse te neem. Ek het nog nie die moed gehad om een te verkoop nie, maar ek het darem al so 16 -17 skilderye  geskilder.” Sy gunsteling medium is olie en hy is lief daarvoor om landskappe te skilder.

Nog ‘n skildery deur Francois

Stemwerk

Herinner baie mense jou nog daaraan dat jy Sarel Seemonster was? “Ja, nogal, maar hulle vergeet dat ek ook Karel Kraai was…ek was vir byna elf jaar deel van Wielie Walie. Ek mis die karakters.”

Nuwe projekte

“Skryf hou my op die oomblik die meeste besig. Ek skryf graag fiksie met ’n flavour van realiteit in…”

Francois is ook nou te hoor as Seef Visagie in die RSG vervolgverhaal Beproewing deur Joe Kleinhans. Regie word behartig deur Renske Jacobs.

Luister na die klankgreep om uit te vind waarom hy so mal is daaroor om Seef te speel, en waarom dit soveel lekkerder is om as akteur die slegte ou te speel, as die held…