Luister weer: Futuristiese drama oor eerste kop-oorplanting


Schalk Schoombie (skrywer van die radiodrama “Kop”)

17 Mei: Kop
Kop deur die skrywer-joernalis Schalk Schoombie is ‘n futuristiese verhaal oor die heel eerste kop-oorplanting.

Die Italiaanse neurochirurg Dr Sergio Canavero beloof al lank dat hy die eerste kop gaan oorplant. Op Donderdag 17 Mei om 20:00 gebeur dit wel in Schalk Schoombie se radiodrama Kop. Dié bloedstollende radiodrama handel oor ‘n wetenskaplike deurbraak wat erg skeefloop en ‘n jong man, Set Niemand, se lewe bykans heeltemal verwoes.

Set Niemand is ‘n belowende pianis. Hy word gediagnoseer met ‘n vernietigende siektetoestand wat sy liggaam aanval. ‘n Russiese gimnas word breindood verklaar en siedaar, Set se kop word op die gimnas se lyf oorgeplant deur ‘n span Suid-Afrikaanse geneeshere in Moskou in die Kremlin. Aanvaar die kop en die lyf mekaar? Hoe reageer die medici daarop? En wat van eie belang? Is dit moontlik en volhoubaar?

RSG-luisteraars sal Schoombie se ander dramas onthou – My Japan, Sonstorm asook Gepiekel. KOP is egter ‘n splinternuwe radiodrama wat op Donderdag 17 Mei om 20:00 op RSG debuteer.

Regisseursnota
“Kontensieus, eietyds en toeganklik.” Dit is hoe die radiodrama-regisseur Johan Rademan die bekroonde dramaturg Schalk Schoombie se Radioteater, KOP, beskryf.

“Genetiese manipulasie is vandag ‘n werklikheid. Gaan dit lei tot droomliggame, bykans volmaakte mense of is die waarheid vreemder as fiksie?”

Rademan raai luisteraars aan om te gaan lees oor CRISPR en die etiese en morele uitdagings wat die mensdom in die gesig staar. Slegte gene kan nou gesplits-las word om byvoorbeeld ongeneeslike siektes uit te skakel. En in 2015 moes navorsers al met ‘n plan vorendag kom om dié potensiële monster te bestuur.

“Dit is nie die eerste maal wat ek met ‘n ryk geskakeerde radioteks van Schalk Schoombie werk nie,” sê Rademan. “Toe RSG se dramahoof, Kobus Burger, my vra om KOP se regie te behartig, was daar dadelik ‘n kreatiewe tinteling in die are. En ek is nie verkeerd bewys nie. Schoombie kán skryf.”

Die storie
In ‘n neutedop kry ‘n jong opkomende pianis, Set Niemand, ‘n afbrekende spiersiekte wat sy liggaam laat degenereer, maar sy kop makeer niks. Maar daar is ‘n uitweg; ‘n moontlikheid op ‘n tweede lewe. ‘n Skenker in Rusland bied sy liggaam aan en Set se kop kan bo-op dié lyf oorgeplant word.

Die spesiale operasie word deur ‘n span Suid-Afrikaanse medici en wetenskaplikes in Moskou uitgevoer. Dis ‘n wêreldeerste – nes Chris Barnard se hartoorplanting, of meer onlangs in Suid-Afrika: ‘n penisoorplanting.

Dr. Linda Nothnagel glo egter dis oneties en sorg vir groot konsternasie tydens die media-konferensie. Is almal in die span oortuig dat dit eties korrek is? En wat van die bedekte menslike motiewe soos ego’s, liefdesverhoudings en die oorbeskermde-ma-sindroom? Gaan dit die operasie se kop laat rol?

Die akteurs
Die jong Eloff Snyman, wat in die rolprent Liewe Kersfeesvader en onlangs in die verhoogstuk Fiela se kind as klein-Benjamin uitgeblink het, debuteer op radio as die jong Set Niemand.

Die akteur Wilhelm van der Walt, bekend om sy skitter-vertolking in DOP op RSG, is die ouer Set.

Karli Heine is sy meisie en André Weideman kan as dr. Frank Wentzel gehoor word.

Lindie Stander is dr. Nothnagel en Susanne Beyers is ma Annie. Johann Nel kan as dr. Fanie Ludick gehoor word.

Set Niemand jnr (Eloff Snyman) en Ma Annie (Susanne Beyers) in gelukkiger dae toe klein-Set nog gedroom het van ‘n bekende pianis word.

Die hele “Set Niemand-familie” met klein-Set, Eloff Snyman, groot-Set, Wilhelm van der Walt en Ma Annie, Susanne Beyers

Die wortel van die kwaad? Dr Frank Wentzel (Andre Weideman), Dr Linda Nothnagel (Lindie Stander) en Dr Fanie Ludick begin ernstig verskil oor etiek in Kop deur Schalk Schoombie

‘n Ligter moment in die ateljee tydens die wetenskapfikie drama-opname in die Seepunt ateljee. Die liefde begin loop tussen Set Niemand (Wilhelm van der Walt) en Suster Amanda Roelofse (Karli Heine)

“Ek sal julle uitwis!” Lindie Stander, Wilhelm van der Walt en Eloff Snyman tydens die opname van KOP deur Schalk Schoombie

Eloff Snyman word in sy debuut radiodrama as klein-Set Niemand onder die vlerk geneem deur RSG-regisseur, Johan Rademan, tydens die opname van KOP deur Schalk Schoombie in die Seepunt-ateljee.

Eloff Snyman as klein-Set Niemand en RSG-regisseur, Johan Rademan, tydens die opname van KOP deur Schalk Schoombie in die Seepunt-ateljee.