Hittegolf: Luister weer


Toe ‘n klomp dinge op een warm dag skeefloop, het dit ‘n absurbe nadraai wat mens laat wonder of jy moet lag of huil.

Fanus en Linda Vermaak woon in Belville saam met Fanus se ma en hulle twee “amper groot” kinders. Die “koors” van aardverwarming slaan toe wanneer die noodlot dit so wil hê dat klomp dinge op een baie warm dag skeefloop. Die gevolg is ‘n absurde kruis met realisme in ‘n sitkom-styl tragiekomedie wat kontemporêre temas soos dwelms, drank en dobbel aanraak. ‘n Lag met ‘n traan daarby.

Martyn le Roux is reeds ‘n bekroonde radiodramaturg en bekend om dramas soos Bloedlyn en Dagboek van ‘n wurm.

In Hittegolf, met Anrich Herbst in die regisseurstoel, bekyk hy die uitwerking van klimaatsverandering op die mense se psige het. Die gat in die osoonlaag kan dalk veroorsaak dat kosmiese strale en ander onvoorspelbare dinge die mens kan tref en dan dit ‘n invloed op ons het.

Luister na ‘n uittreksel:

Hierdie sitkom-styl tragiekomedie vorm deel van RSG se eerste radioteaterseisoen wat in April 2018 afgeskop het.

Hittegolf is op 24 Mei 2018 om 20:00 uitgesaai

Regisseursvisie

Hittegolf is my eerste radioteater produksie as regisseur en daarom moes ek seker maak ek kry die regte akteurs in die verskillende rolle.

Veral die rol van Fanus is uitdagend, en James Borthwick het met sy baie besonderse komiese tydsberekening en interpretasie dimensies by die karakter gevoeg soos net hy kan.

Franci Swanepoel het die drama baie suksesvol geanker as die ma, terwyl Elize Cawood met haar jare se ondervinding as radioteater speler die ouma se kwinkslae net reg laat oorkom het.

Mandi Baard het aan die dogter ‘n onverwagse kwesbaarheid gegee en Kaz McFadden is puik as ‘n “stoute” broer.

Die regisseur en spelers in Hittegolf. Voor is Anrich Herbst, regisseur. Agter van links na regs is Kaz McFadden, Franci Swanepoel, Mandi Baard, Elize Cawood en James Borthwick.

Hittegolf speel af in baie warm weer met allerhande irriterende voorstedelike geluide wat byna ‘n karakter op sy eie is. Die uitdaging was om dit “warm en irriterend” te laat klink. Ek hoop ons het daarin geslaag.

Die teks is ‘n mengsel van die absurde met die realisme, wat dit nodig gemaak het vir die spelers om die heeltyd “op hulle voete te dink”, terwyl die sitkom-styl dit weer vereis het dat vinnige besluite ten opsigte van interpretasie geneem moes word. Gelukkig spog ons bedryf met ‘n baie hoë kwaliteit van radioteater spelers wat enigiets kan vermag.

Martyn le Roux

Die Skrywer

Hittegolf deur Martyn le Roux is ‘n verdere drama uit die pen van die ATKV Mediaveertjie bekroonde skrywer Martyn le Roux.

Martyn le Roux verwerf die graad BA Drama en Toneelkunde aan die Universiteit van die Vrystaat in 1982. Hy is in die jare daarop intensief betrokke by verhoogproduksies as speler en of regisseur. Hy dien ook op die dagbestuur van Radio Kampus en word as Hoofomroper aangestel. Hy doen omroepwerk vir drie jaar. Na sy jare van militêre diensplig en grensdiens (waar hy opland by 1 Valskerm Bataljon Bloemfontein as Media Offisier) tree hy tot die onderwys toe en word weereens betrokke by talle skooltoneel aanbiedings oor die jare.

Hy stig sy eie teatergroep in Oos-Londen in die tagtigs en bring ‘n hele klompie Afrikaanse en Engelse toneelstukke op die planke. In 1989 verhuis hy na die Boland en vestig hom in Wellington waar hy sy eie fotografiese studio vir jare hanteer. Hy verhuis later Paarl toe en raak weer by die onderwys betrokke.

Hy werk ook as joernalis en fotograaf vir die Paarl Post vir ‘n aantal jare en ontdek hier sy talent vir skryf en dan veral kreatiewe skryfwerk. Oor die jare heen skryf hy stories en draaiboeke (die eerste op skool!) maar doen dit net vir die plesier daarvan.

In 2014 stuur hy vir die eerste keer in amper twintig jaar een van sy skryfstukke BLOEDLYN aan RSG as ‘n inskrywing vir ‘n kompetisie. Dit is ‘n gruwelverhaal wat in die Boland afspeel. Hy omskep dit in ‘n radiospel en dit word as een van die finaliste vir die kompetisie aangewys. Die uitsending, onder leiding van Renske Jacobs word toevallig op ‘n volmaanaand in November van 2015 gedoen. Ideaal vir ‘n weerwolfstorie! Die reaksie is oorweldigend. In die daaropvolgende jaar word BLOEDLYN bekroon as BESTE teks vir ‘n drama en Le Roux word bekroon met ‘n gesogte Mediaveertjie deur die ATKV.