Kopskoot: Luister weer


Kopskoot deur die Kaapse sielkundige, Gerda Kriel, het die Jong Skrywersafdeling van RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie vir 2016 gewen. RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2017 open op Donderdagaand 6 April om 20:00 met hierdie sielkundige riller.

Kriel is ook bekend om haar aangrypende radiodrama, Swanesang, met die pragvertolking deur Wilna Snyman en wat deur RSG uitgesaai is nadat dit ook die Jong Skrywersafdeling in 2014 gewen het.

Die Storie
‘n Verbitterde en onstabiele polisiekaptein wat twintig jaar laas bevorder is, beland by ‘n professionele sielkundige met ‘n praktyk êrens in Johannesburg . In die spreekkamer word daar dramatiese onthullings gemaak, en skielik neem die storie ‘n heel ander wending…

Verskeie temas word aangespreek  – die identiteitskrisis waarmee baie wit mans in Suid-Afrika worstel, die haglike sosio-ekonomiese omstandighede waaronder soveel kinders grootword en die gevolge daarvan, reg en geregtigheid, posttraumatiese stres, asook die invloed en krag van die genetiese skakel.

Luister hier na ‘n kort uittreksel na wat op jou wag:

Luister na die volledige drama:

Die Akteurs
Die rol van Tim, die polisiekaptein, word meesterlik vertolk deur Anrich Herbst. Weg is die romantiese held wat Herbst gereeld speel omdat sy stem so perfek daarby pas.  In sy plek is daar ‘n bitter, stroewe en heelwat ouer polisieman met ‘mood swings’. Herbst kry dit egter reg om deernis te wek, al is hy die antagonis, en dis hierdie soort karakter en spel wat mense lank na die uitsending nog onthou.

Rolanda Marais vertolk die rol van die warm, empatiese dr. Jana du Buisson wat altyd net die beste in die mensdom glo. Marais se aanvoeling vir die graad van vrees wat Jana op enige gegewe tydstip in die drama ondervind, is deurgaans in die kol.  Sy pas haar spel moeiteloos aan by die tempo en intensiteit wat reg deur die stuk grootliks deur Herbst se karakter bepaal word. Hy is onstabiel en onvoorspelbaar, maar sy styg en val saam met sy buie.

Twee akteurs debuteer in hierdie drama – Mandi Baard, van Egoli-faam en Jakkie Groenewald, tans te sien in Swartwater op SABC2. Die ander rolle word vertolk deur die gesoute akteur en operasanger Rouel Beukes, kabaretster en sjef, Elzabé  Zietsman en voormalige YO-TV aanbieder Archie Nhlapo.

Renske Jacobs

Die Regisseur
Die regisseur is Renske Jacobs. Sy sê sy het veral gefokus op variasie in tempo en intensiteit sodat die luisteraar uiteindelik saam met Tim en Jana die emosionele wipplankrit kan beleef.

“Dis asof ‘n mens in Tim se (onstabiele) kop inklim, en daar op ‘n see van emosies ronddobber. Dit kom en gaan, kom en gaan, maar dit bou stadig op tot n tsoenami-golf wat dan ‘n skielike einde aan alles bring.”

ROLVERDELING:

JANA (30-40’s) Professionele sielkundige, warm en empaties. Glo altyd die beste in die mensdom. – Rolanda Marais

IDA (20’s) Jana se sekretaresse. Jonk en energiek. – Mandi Baard

TIM (30-40’s) Polisieman, stroef en verbitterd. – Anrich Herbst

LUKAS (40-50’s) Dokter, professioneel, ietwat koud en afsydig. – Rouel Beukes

SUSAN (40-50’s) Platvloers, Verbitterd deur die lewe. – Elzabe Zietsman

GARY (50’s) Platvloers, word maklik kwaad. Ietwat beskermend jeens Tim. – Jakkie Groenewald

DUMISANI (30’s) Vriendelik en gemoedelik. Tim se kollega en vertroueling. –  Archie Nhlapo

Anrich Herbst (voor) met die KOPSKOOT akteurs en regisseur agter

Rolanda Marais (Jana) en Anrich Herbst (Tim)

Jakkie Groenewald (Gary), Rolanda Marais (Jana), Rouel Beukes (Lukas), Elzabe Zietsman (Susan)

Renske Jacobs (regisseur) en Bongiwe Thomas (tegnies)

Mandi Baard (Ida) en Rolanda Marais (Jana)

Anrich Herbst (Tim) en Rouel Beukes (Lukas)

Rolanda Marais (Jana)

Archie Nhlapo (Dumisane)

Anrich Herbst en Archie Nhlapo (Tim en Dumisane)

Kyk watter ander dramas wag hierdie seisoen.