Luister weer: Laat Herfs


Richard van der Westhuizen

Donderdag 11 Oktober: LAAT HERFS deur Richard van der Westhuizen

Die sanger-liedjieskrywer en akteur Richard van der Westhuizen is ‘n gewilde radiostem wat sowat vier jaar gelede as radiodramaturg gedebuteer het. Sy debuut as skrywer, Splinterglas, het luisteraars diep geroer en radiodrama-liefhebbers het gesmeek vir méér.

Die storie

Sy jongste beskryf hy egter as ‘n “gewone storie oor gewone mense”. Die radiodrama Laat Herfs (op Donderdag 11 Oktober om 20:00 op RSG) spreek dilemmas aan wat aan baie mense bekend is: eensaamheid, vergeetagtigheid en ontnugtering. Dít is wat die afgetrede siviele ingenieur Andrew Beyers ervaar.
Maar dan is daar ook hoop, in die vorm van ‘n onkonvensionele jong skilder met wie hy bevriend raak. Elmien Wessels is ‘n sukkelende kunstenaar met hope talent en houding, maar wag nog op die deurbraak wat reg sal laat geskied aan haar werk.

Sy ontmoet toevallig vir Beyers, wat haar help met ‘n raam vir een van haar skilderye. Hulle daaropvolgende vriendskap raak dinge aan, soos: wat is kuns nou eintlik? Is jou lewe ‘n sfeer wat jy deur wiskunde kan vergroot om jou te bestaan te verryk? Loop die lewe in siklusse? En, wat is die ideale diepte vir versiersuiker op ‘n wortelkoek?

Die twee se verhouding word met deernis hanteer, maar hulle hou egter nie tred met die nukke en giere van ‘n grimmige Vader Toeval nie… Die onverwagse einde sal luisteraars verras en ontroer.

Die spelers

Van der Westhuizen speel ook die hoofrol in die drama – ‘n afgetrede siviele ingenieur Andrew Beyers – wat met soveel empatie én eerlikheid geskryf is.

Eloise Cupido

Eloise Cupido vertolk die rolk van die jong kunstenaar, Elmien Wessels, wie se lewe Andrew Beyers vir altyd verander.

Dan is daar ook Elma Potgieter, as ‘n galery-eienaar.

Lochner de Kock speel die rol van Andrew se beste vriend.

Chris van Rensburg

‘n Nuwe stem op RSG, Chris van Rensburg, speel die rol van  Andrew se seun.

Die ander spelers is Johny Klein en en Louise Eksteen.

Die regie is in Johannesburg behartig deur Mari Snyman.

Die skrywer

Laat Herfs is Richard van der Westhuizen se derde radiodrama. Hy is veral bekend om liedjies soos Tussen treine en Ballade vir ‘n enkeling. RSG-luisteraars het hom onlangs in die middag-vervolgverhaal Bure gehoor.