Luister weer na Ibsen se Pophuis


10 Mei: ‘n Pophuis
Donderdag 10 Mei om 20:00 vier RSG se Radioteater die 190ste verjaardag van die Noorse skrywer en dramaturg Henrik Ibsen. Ibsen word steeds beskou as die skepper van moderne drama en die vader van realisme.

Die veteraan-akteurs Sandra Kotzé en Cobus Rossouw vertolk die hoofrolle in Ibsen se ‘n Pophuis, ‘n argiefdrama met spelleiding deur Suzanne van Wijk.

Die storie
Noora Helmer kan as ‘n tipiese bedorwe en opgepiepte ryksmansvrou beskryf word. Haar man, Toorwald, is ‘n bankbestuurder en hul huwelik lyk op die oog af gelukkig.

Maar op Oukersaand klop ‘n skuldeiser aan Noora se deur en eis sy pond vleis. Dit bring haar nie net in konfrontasie met haar man nie, maar ook met haarself. Sy besef dat sy tot dusver net almal se speelding was. ‘n Skadelose poppie, oftewel haar man se “lewerikkie”. Tog is dit nou tyd om groot te word…

Agtergrond
In 2006, honderd jaar sedert Ibsen se dood, was A Doll’s House die mees opgevoerde toneelstuk van daardie jaar. Hoewel die drama uiters omstrede was ondanks uitverkoopte sale met die heel eerste speelvak in 1879 in Kopenhagen, was teaterliefhebbers soos die Ierse dramaturg George Bernard Shaw vol lof vir Ibsen se blik op die huwelik en die tradisionele rolle van mans en vroue.

Die akteurs
Rossouw, wat beskou word as een van die pioniers van die Afrikaanse toneel, is in 1965 met Kotzé getroud. Hy is vanjaar 85 jaar oud en het reeds in 1971 die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Toneelkuns ontvang. Kotzé was meer onlangs in die Afrikaanse rolprente Die wonderwerker en Faan se trein te sien.

Cobus en Sandra Rossouw – Michael Hammond, Media24

Die ander spelers in ‘n Pophuis is Robert Mohr, Amanda Muller, Fanie Bekker en Helena Scholtz.

‘n Pophuis is langer as ‘n uur en die 21:00-nuusbulletin en weer sal later volg.