Luister weer na ‘Skink vir my ‘n whisky’


31 Mei: Skink vir my ‘n whisky
Gedurende die opknapping van ‘n huurhuis in die suide van Johannesburg word ‘n vergeelde brief onder ‘n mat in die sitkamer ontdek. Die brief bevat ‘n emosionele bekentenis van ‘n moord wat op daardie stadium dertien jaar gelede gepleeg is.

Die vergeelde brief en die omwenteling wat dit in die lewens van die karakters in Deon Johnston se radiodrama, Skink vir my ‘n whisky, veroorsaak, is maar net een van talle wendings.

Skink vir my ‘n whisky was een van die finaliste in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie in 2016.

Die storie
Die verhaal begin wanneer die bestuurder van ‘n supermarkgroep koelbloedig deur ‘n gemaskerde rower doodgeskiet word. Dit gebeur enkele dae voor sy huweliksherdenking. Sy weduwee, Roelien, ervaar die skok en verlies as heeltemal oorweldigend.

Roelien se broer, Nico, probeer sy bes om die skuldiges aan die pen te laat ry. Sy jarelange vriend, en privaat speurder Shaun Jacobs, se hulp word ingeroep. Maar dan word die vergeelde brief in Johannesburg ontdek en Jacobs se lewe word deur dié raaiselmoord in ‘n warboel van emosie en beskuldiging gewerp.

Dié radiodrama is geïnspireer deur ware gebeure.

Die spelers
Die rolverdeling bestaan uit Albert Pretorius, Martelize Kolver, Wessel Pretorius, Christine Tesco, Pierre Nelson en Haidee Muller. Die spelleiding is deur Eben Cruywagen behartig.

Die skrywer
Deon Johnston het in 1991 sy eerste verhoogdrama, Sirkologie, geskryf. Dit wen die prys vir beste Afrikaanse produksie tydens die Windybrow-kunstefees. Later volg Met ‘n ompad huis toe en verskeie rolle in verhoogproduksies deur die destydse Truk.

Hy werk later in die korporatiewe wêreld en vertolk rolle in Binnelanders, 7de Laan, Scandal en internasionale kortflieks. Hy is deesdae ‘n stemkunstenaar en radio-omroeper en het onder andere ‘n reeks getiteld Kontreistories op Kragbron FM aangebied.

Die regisseur
Eben Cruywagen is die regisseur van dié drama wat temas soos lojaliteit, vergifnis en geregtigheid aanroer.

ROLVERDELING van links na regs is: Pierre Nelson, Christine Tesco, Wessel Pretorius, Albert Pretorius en Martelize Kolver