Luister weer: ‘n Voorlopige begrafnis


3 Mei: ‘n Voorlopige begrafnis

Dié drama deur Albert Short is die mede-Wenner van die RSG/Sanlam Radiodrama Skryfkompetisie vir 2017

‘n Man skryf ‘n brief aan sy naasbestaandes om te vra dat hulle hom hierdie keer met die nodige respek sal begrawe. Waarom word hierdie man twee keer begrawe, en wat het fout gegaan tydens die eerste begrafnis?

‘n Voorlopige begrafnis is ‘n donker komedie met die sanger-akteur Robbie Wessels in die hoofrol. Christelle Webb-Joubert is die regisseur.

Dié video is tydens die opnames gemaak:

Albert Short

Skrywersnota – Albert Short aan die woord
“‘n Voorlopige Begrafnis is gebaseer op ware gebeure – dinge wat lank terug met my familie gebeur het. Alhoewel ek probeer het om redelik naby aan die feite te hou, was dit ook nodig om ‘n paar gedeeltes op te maak. So is die eerste helfte van die verhaal redelik akkuraat, veral die openingstoneel, terwyl die drama eindig met iets uit my verbeelding.

Elk van die karakters is gebou rondom iemand wat regtig bestaan het en ek het probeer om hulle persoonlikhede en gewoontes vas te vang in die verhaal. Twee van die persone het ek self nooit ontmoet nie, maar deur ander mense se vertellings het ek ‘n goeie prentjie in my kop gehad van wie en wat hulle was.

Op my oupa se plaas was daar wel skape, jakkalse, perskes… en selfs spoke! Daar was nie elektrisiteit nie en jy moes klaarkom met kerse, lampe, ‘n paraffienvrieskas en ‘n koolstoof. My ouma het eenkeer gesê hulle het gesukkel, maar hulle het lekker gesukkel. En toe gebeur daar iets om alles dubbel so swaar te maak – my oupa verloor sy arm.

Soms wonder ek wat my voorouers daarvan sou dink dat hulle gebeure op die radio sou wees. Ek vermoed hulle sou dit baie amusant vind. En dan wonder ek oor wat die toekomstige generasies sal dink – was ons voorsate regtig só? Ek sal vir hulle ‘n brief moet los om te verduidelik!

Alhoewel ‘n Voorlopige Begrafnis ‘n donker verhaal is oor swaarkry en verlies, het ek komedie ingebring om ons te herinner dat ‘n mens die lewe nie té ernstig hoef op te neem nie. En dalk is dit juis deur humor wat ons al die ander emosies oorwin?

Hulle sê skryf is terapeuties. Vir my het dit gehelp om ‘n beter begrip te kry van die dinge waardeur my ouma en oupa waarskynlik gegaan het. Deur iemand se storie neer te skryf, soos wat ek gedoen het met ‘n Voorlopige Begrafnis, leer jy die persoon baie goed ken, en verstaan jy hulle heelwat beter. Daar is baie dinge wat deesdae vir my sin maak.

Die afgelope jaar was vir my ‘n wonderlik ervaring, deurdat ek heelwat wonderlike mense ontmoet het. Eerstens tydens die radiodrama slypskool waar ons geleer het by Kobus Burger, Leon van Nierop en Schalk Schoombie.

Die hoogtepunt was die dag toe ons die radiodrama opgeneem het onder spelleiding van Christelle Webb-Joubert. Sy het die storie en elk van die karakters met groot insig verstaan en seker gemaak dat dit korrek opgevoer word. Die keuse van akteurs was onverbeterlik en lewensgetrou aan die stemme wat ek gehoor het tydens die skryfproses: Karen Wessels, Janine Opperman, Rian Terblanche, Eswe Bruwer en natuurlik ook Robbie Wessels. En om nie te vergeet van die talentvolle tegniese span nie: Bongi Thomas en Patrick Monana.

Ek was besonders beïndruk met hoe Christelle die viool op verskillende vlakke ingespan het: as deel van die storie, as gemoedskepping, nostalgie en atmosfeer. Selfs as skrywer besef ek nou eers watter groot rol die viool in die verhaal speel.

Dit was wonderlik om ‘n mede-wenner in hierdie kompetisie te kon wees, en ‘n mens is vreeslik dankbaar tenoor RSG en Sanlam wat hierdie kompetisie so lank reeds aanbied en ondersteun. So kry ons ‘n kans om ons stories te vertel en ons drome te droom.”

Meer oor die skrywer – Albert Short
”Ek het van kleintyd af stories, gediggies en liedjies gemaak, maar nooit regtig iets klaar geskryf nie. Dit was eers in 2009, toe ek van ‘n partytjie af oppad was huistoe, dat ek Renske Jacobs se middernag spookprogram raakgeluister het en besef het dat ek ook sulke stories wou skryf. Sy het my eerste poging met wonderlike geesdrif aanvaar en uitgesaai, en meteens het ek besef dat ek ook ‘n skrywer kon wees.

In 2014 het ek my hand gewaag aan lirieke. My gunsteling liedjieskrywer, Christopher Torr, het ‘n kursus aangebied waartydens ek die sangeres Steffie le Roux ontmoet het. Sy het ‘n paar van my lirieke getoonset en 3 daarvan op haar album, Vertel My, gebruik.

Uiteindelik, in 2017, het ek die advertensie vir die radiodrama skryfkompetisie op RSG gehoor besluit om te probeer. Ek het die slypskool bygewoon, en ek reken ek het selfs tóé geweet dat daar ‘n interessante avontuur op my wag, en ek sal vir altyd met waardering en ongeloof terugkyk oor die laaste paar maande.”

Christelle Webb-Joubert

Regisseursnota deur Christelle Webb-Joubert
”Die lekkerste van ‘n nuwe drama is dat jy elke keer met ‘n skoon bladsy kan begin en stadig maar seker los drade bymekaar kan bring en so skaaf en skuur aan die eindproduk.

Die teks was ‘n fees om meet te werk, en ek verstaan waarom die teks een van die mede-wenners is. Elke akteur het op sy of haar manier meer kleur verskaf aan die karakters en storie.

Die musiek was ‘n uitdaging want met tye moet van die karakters saamsing en daarom kan bestaande musiek nie maklik gebruik word nie. Ek het die idee gekry om ‘n violis te gebruik wat met die dag van opname teenwoordig moet wees. Dit het nie net dit tegnies makliker gemaak nie, maar die storie na ‘n heel ander vlak geneem.”

Akteurs

Robbie Wessels

Robbie Wessels
Robbie Wessels matrikuleer aan Hoërskool Strand, studeer by die Technikon Pretoria (TUT), en is kort na sy studies te hoor as Anton in RSG se vervolgverhaal Blinkwater. Robbie was te sien in die televisiereeks Gauteng-alêng-alêng, as ‘Poena Pieterse’ oor wie daar later ‘n rolprent verskyn. Hy is ‘n geliefde sanger met ‘n hele paar treffers agter sy naam.

Janine Opperman

Janine Opperman
Janine het haar Honneurs in Drama verwerf by die NWU in Potchefstroom en is toe vanaf 1985 vryskut aktrise op die verhoog, TV en Film. Sy het oorklanking en radiowerk veral geniet. Sy maak ‘n draai by Egoli as dialoogafrigter (1990) en het in 2003 by M-Net begin werk. Vanaf 2006 tot 2008 was sy hoofskrywer by Villa Rosa en het toe teruggekeer na M-Net waar sy vandag die Hoof van Musiek en Vermaak vir die kykNET kanale is.

Karen Wessels

Karen Wessels
Sy is sedert 2005 deel van die musiekgroep Cutt Glass. Haar debuutalbum, Hoe Durf Jy?, is in 2007 uitgereik.

As aktrise het sy die eenvrou-komedie Groet die Grotvrou op die planke gebring. Van die TV-reekse waarin sy gespeel het is Willie Esterhuizen se Hester en Ester Bester en Munisipaliteit van Gwarra Gwarra, Casper de Vries se Haak en Steek en die Casper Rasper Show en meer onlangs Vlug na Egipte en Terug na Egipte.

Rian Terblanche

Rian Terblanche
Rian Terblanche is vir die afgelope 21 jaar verbonde aan die Dramadepartment van die Universiteit van Pretoria, waar hy spesialiseer in toneelkunde, vertolkenskunde en toegepasde teater. Hy is ook ‘n vryskut akteur en subtitelredigeerder. Oor die jare was hy deel van verskeie toneelgeselskappe, o.a. TRUK, en het gewerk as subtitelredigeerder vir produksies soos Binnelanders, Gold Diggers, verskeie dokumentêre vir Earth Touch, en tans Suidooster en Suiderkruis.

Eswe Bruwer

Eswé Bruwer
Eswé staan vir Schalk Willem. Hy is tans in matriek aan die Hoërskool Centurion waar hy die Hoofleier van Kultuur en Koor is. Hy is ook n kranige redenaars spreker en speel ook skaak en rugby.

Sy belangstelling in drama/toneel het van kleins af begin waar hy verskeie kompetisies gewen het asook hoofrolle in revue en toneel vir sy skool gespeel het. In 2014 is hy as die beste opkomende toneel speler gekroon by die Tshwane Toneel kompetisie asook verskeie silwer en brons sertifikate verower by die ATKV Tienertoneel Kompetisie.

In 2016 neem hy deel aan die Kyknet Nasionale Toneelspeelkompetisie vir Hoërskoolleerders en eindig in die top 16. Daar is hy gekies om in Leon van Nierop se RSG Radio Drama Reeks Ratels as Andries te speel.

Carla Redelinghuys

Carla Redelinghuys – violis
“Elke dag is daar ‘n ander liedjie in my lyf”. Dit was my woorde aan my ma toe ek skaars drie jaar oud was. Gebore in Pretoria en getoë in Potchefstroom, het ek van kleins af al ‘n liefde vir alle tipes musiek. Ek het op ‘n jong ouderdom reeds besluit dat ek klavier wil speel en het sommer in graad een myself vir klavierlesse ingeskryf. ‘n Rukkie later het ek ook met vioollesse begin. Hoe meer ek van musiek geleer het, hoe meer wou ek leer. Musiek was toe al my gunsteling taal om te praat en ek sou musiek met elke tipe emosie wat ek gedurende my grootwordjare ervaar het, verbind. Tans leef ek my droom as ‘n tweedejaar BMus. student aan die Universiteit van Pretoria.

Klik hier om te sien watter lekkerluister dramas nog op jou wag hierdie herfs-seisoen.