‘Soek’, ‘Die Fietstoer’ en ander dramas oppad


RSG se tweede Radioteater-seisoen van 2018 het op Donderdag 4 Oktober begin en duur tot einde Desember.

Volledige lys van dramas wat dié seisoen op jou wag

Donderdag 25 Oktober: SOEK deur Madelaine Volschenk
Madeleine Volschenk se Soek is ’n speurverhaal wat deur die regisseur Anrich Herbst opgevoer word.

’n Gastehuis êrens op die Suid-Afrikaanse platteland huisves vier gaste, waarvan een plotseling verdwyn. Wat het van die stil, verskrikte meisie geword? Het ’n klaarblyklike vroeëre aanranding op haar iets met haar verdwyning te doen? Of weet die buffelagtige gifhandelaar (en een van die gaste) dalk meer van haar verdwyning as wat hy voorgee?

Lees meer oor Soek.

Donderdag 1 November: DIE FIETSTOER deur Joa Bekker
Joa Bekker se Die fietstoer handel oor die verhouding tussen pa en seun met spelleiding deur Leon van Nierop.

’n Afgetrede man pak ’n fietstoer aan om sy eensaamheid van die gebroke verhouding tussen hom en sy seun te besweer, omdat hy te trots is om die bande te herstel en sy foute van die verlede te erken. ’n Jong man oortuig hom om die rit mee te maak maar het ’n ander plan met die ekspedisie.

Donderdag 8 November: DIE VOëLHOK deur William Oosthuizen
Talle van die RSG/Sanlam-finalisdramas van 2017 is ook ingesluit, soos William Oosthuizen se raaiselverhaal Die voëlhok waarin ’n vrou in haar geliefde voëltjies se hok dood aangetref word.

Hoekom het haar man haar nie hoor roep nie? En waarom is die egpaar se seun skielik land-uit?’n Polisie ondersoekspan probeer die oorsaak van die dood van die bejaarde vrou bepaal wie se lyk in ’n voëlhok in ’n agterplaas gevind is. Was dit die koue, of dalk iets meer sinisters wat haar dood veroorsaak het? ’n Speurverhaal wat die aandag van die luisteraar enduit sal boei.

Donderdag 15 November: NOG NET TWEE WEKE deur Helena Hugo
Die romanskrywer en regisseur Helena Hugo het ’n jeugdrama oor aborsie geskryf wat die luisteraars op die punt van hul stoele gaan hou. Dit is ’n onthutsende tema en verhaal wat met vertedering aangepak is. Gewis ’n radiodrama wat die land gaan laat gons.

Esta is in graad elf, die enigste kind van liefdevolle ouers wat vir haar ’n blink toekoms beplan. Hoewel sy presteer, is sy die laaste tyd parmantig en ongelukkig. Haar ma dink dis eksamenstres, maar Esta het net twee weke oor om te besluit of sy haar geheim met haar ouers wil deel of alleen deur die trauma van aborsie wil gaan. Nog net twee weke is ‘n eietydse jeugdrama wat ouers én hul tieners diep sal roer.

June van Merch

Donderdag 22 November: OUMA OP HAAR BESEM deur Annika Swanepoel
Met ‘n ouma soos Marinda s’n, is daar wraggies nie tyd vir verveeld wees nie. Van boomklim tot visvang, het Marinda haar hande vol. Intussen het sy ook nog probleme met haar kêrel wie se ma hom probeer dwing om met sy skoolliefde te trou, in ‘n poging om sy oorlede pa se besigheid te red. Die feit dat hy eerder graag sou wou skilder, kan sy nie begryp nie. Hoe gaan hy oorleef?

Tussen Marinda se vat-nie-nonsens-nie-ouma en Jay-Z se suur ma, is dit byna onmoontlik om hulle verhouding te laat werk.

Verwag ‘n drama propvol humor en vermaak en met June van Merch in die hoofrol.

Boerneef

Johny Klein

Donderdag 29 November: LIGTER AS DIE WIND deur André Kotzé
In nog ’n RSG-opdragwerk maak Boerneef se geliefde karakter Dirk Ligter sy verskyning in ’n epiese radiodrama uit die pen van André Kotzé. Die boekvoorleser en akteur Johny Klein gaan die hoofrol vertolk in Ligter as die wind wat so effe die sluier lig oor van Boerneef se tydlose rympies.

Izak van der Merwe (oftewel die digter Boerneef) is veral bekend om die gedigte “Voshaarnooi” en “Die berggans het ‘n veer laat val”, wat albei getoonset is. In hierdie opdrag-radiodrama is Izak (die jong Boerneef) gefassineer deur die stories oor Dirk Ligter.

Daar is allerhande staaltjies oor die enigmatiese Ligter se skaapstelery, sy sang, rympies, sy drawwery saam met perderuiters en hoe hy telkens die gereg ontduik. Mettertyd maak Ligter sy verskyning en die drama word ‘n ode aan hierdie kleurryke karakter asook Boerneef se digkuns.

Donderdag 6 Desember: ROAD TRIP deur Corné Joubert
Road Trip is ’n spanningsverhaal deur Corné Joubert. Twee vriendinne kies per motor koers die vreemde in om van hulle alledaagse bestaan te ontsnap, en beleef veel meer as waarop hulle voorbereid was…

Hierdie wipwaentjierit-drama het ook ‘n tikkie liefde en ‘n spanningslyn wat die luisteraar gaan laat naels kou.

Esther von Waltsleben

Donderdag 13 Desember: GEBLIK deur Esther von Waltsleben
Esther von Waltsleben is ’n gedugte verhoogaktrise bekend om haar komiese solovertonings, maar het ook al in verskeie RSG-dramas soos die onlangse Die reine waarheid en die vervolgverhaal Die duiwehok gespeel. Haar debuut-radiodrama, Geblik, is klugtige komedie propvol kinkels en kabels.

Die storie
Frank Powell is ‘n bekommerde sakemagnaat  en die grootbaas van die De-Lish restaurantkettinggroep. Hy stuur sy loskop-stralerjakker-seun, Jonathan, om onder die dekmantel van gehaltebeheer een van die takke te gaan besoek om vas te stel waarom dit nie so goed vaar nie. Die ambisieuse Gavin vergesel Jonathan op die spioenasietog na Blikfontein waar die tweetjies gou besef dat sake ook vir hulle gaan skeefloop…

Donderdag 20 Desember: ELKE POT deur Perdita van Dijk du Bois
‘n Selfbehepte, geskeide vrou wat baie gesteld is op haar voorkoms, se gedrag verander op ’n dag drasties tot die stomme verbasing van veral haar ouer suster en voormalige man.

Riana Scheepers

Kersdag (25 Desember): ‘N WONDERWERK VIR KERSFEES deur Riana Scheepers
Die bekroonde skrywer Riana Scheepers het vanjaar se opdrag-Kersdrama, ’n Wonderwerk vir Kersfees, geskryf. Dit is losweg gegrond op ’n ware verhaal en karakter en word op Kersdag uitgesaai. Dit beloof om een van die hoogtepunte van die seisoen te wees.

Sarah is ‘n weduwee wat saam haar gesinnetjie op ‘n plot woon en ‘n lewe maak van ‘n klein boerderytjie en dit wat haar plotjie kan lewer.  Sy het ‘n padwinkeltjie  waar sy vars produkte uit haar tuin en tuisgemaakte produkte soos konfyt en gemmerbier verkoop aan verbygangers. Sy hou met lewensmoed en harde werk die gesinnetjie bymekaar.

Hul enigste vervoermiddel is ‘n ou bakkie wat saans langs die huis parkeer word. Dan is daar ‘n krisis en Sarah en haar gesin moet van die plaas vlug. Op ‘n bonatuurlike manier slaag Sarah daarin om die bakkie met haar huis se sleutels aan te skakel… Die drama is op ‘n werklike gebeurtenis gegrond.

Wilson Dunster en Eliza Cawood

Donderdag 27 Desember: MIKE & MAVIS deur Wessel Pretorius
Die seisoen word afgesluit met die veelbekroonde dramaturg en akteur Wessel Pretorius se Mike & Mavis met die akteurspaar Wilson Dunster en Elize Cawood in die titelrolle. Die regisseur is Gerrit Schoonhoven.

Mavis Kellerman, ʼn weduwee wat haarself afgesluit het vir die wêreld, behalwe vir haar e-posse met haar dogter, en haar weeklikse kerkdiens, ontvang ʼn uitnodiging vir die opening van ʼn nuwe bioskoop wat spesialiseer in klassieke rolprente. Die eienaar, Mike Lewis, is ʼn eksentrieke jongkêrel met ʼn ewige romantiese siel. Mavis besef gou dat Mike daarop uit is om haar hart te wen en bevind haarself aan die ontvangkant van ʼn vryery in haar herfsjare wat afspeel oor ʼn reeks romantiese afsprake. Wat sy egter nie weet nie, is dat sy en Mike ʼn geskiedenis deel wat lank voor die uitnodiging begin het. ʼn Romantiese komedie wat die hartsnare sal roer.

RSG se Radioteater word van Oktober tot Desember elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

DATUM TITEL SKRYWER REGISSEUR
4 Okt Ontydige tydings

Albert Short Christelle Webb-Joubert
11 Okt Laat herfs

Richard van der Westhuizen Mari Snyman
18 Okt Die testament

Rhona Peens Evert Snyman (ARGIEF)
25 Okt Soek
Madelaine Volschenk Anrich Herbst
1 Nov Die fietstoer

Joa Bekker Leon van Nierop
8 Nov Die voëlhok
William Oosthuizen Eben Cruywagen
15 Nov Nog net twee weke

Helena Hugo Helena Hugo
22 Nov Ouma op haar besem
Annika Swanepoel Anrich Herbst
29 Nov Ligter as die wind
Boerneef / André Kotzé Christelle Webb-Joubert
6 Des Road Trip

Corné Joubert Frieda van den Heever
13 Des Geblik Esther von Waltsleben Johan Rademan
20 Des Elke pot Perdita van Dijk du Bois Ronel Geldenhuys
25 Des
KERSDAG
‘n Wonderwerk vir Kersfees

Riana Scheepers Johan Rademan
27 Des Mike & Mavis Wessel Pretorius Gerrit Schoonhoven