“Ontydige tydings” volg op “‘n Voorlopige begrafnis”


Ontydige Tydings deur Albert Short is ‘n opvolg op die radiodrama ‘n Voorlopige begrafnis

Donderdag 4 Oktober: ONTYDIGE TYDINGS deur Albert Short

Die seisoen skop af met die opvolg van 2017 se RSG/Sanlam-wendrama. Albert Short se ’n Voorlopige begrafnis was een van die gewildste dramas in die vorige seisoen en Short het sommer dadelik weggespring met ’n opvolg, Ontydige tydings. Nes sy voorganger is daar ’n paar spookagtige elemente en hierdie keer selfs ’n lugballon!

Dis begrafnistyd, maar die kis is swaar en die begraafplaas lê ver op ‘n hoogte. Dan bedink iemand ‘n plan. Dalk kan hulle die kis sommer met die lugballon soontoe vlieg? Dis veilig. Niks kan verkeerd gaan nie. ‘n Ballon is ‘n doodveilige gedoente. Of is dit? En ons almal moet somtyds vlieg, al is jy dood.

Lees meer oor Ontydige Tydings.

Albert Short

Skrywersnota deur Albert Short

Ontydige Tydings is my tweede radiodrama en ‘n opvolg op my eerste, ‘n Voorlopige Begrafnis, waarmee ek medewenner in die RSG/Sanlam radiodrama skryfkompetisie van 2017 was.

Nadat my eerste drama uitgesaai is, het ‘n paar mense aanbeveel dat ek die storie verder vat, en so het Ontydige Tydings ontstaan. Dit was byna sentimenteel om die óú karakters te gaan opdiep en terug te bring radio toe. Die skryfproses was soos om by ou vriende te gaan kuier, en ek hoop die luisteraars ervaar die storie ook so.

Alhoewel hierdie reeds my tweede radiodrama is, weet ek dat daar nog vreeslik baie is om te leer. Gelukkig is die mense by RSG altyd gretig om te help. So het Christelle Webb-Joubert se ongelooflike advies oor klank, storielyne en karakterontwikkeling die verhaal na wonderlike nuwe hoogtes geneem – advies waarvoor ek vreeslik dankbaar is.

Uitdagings
Ek wou seker maak dat Ontydige Tydings onafhanklik op sy eie kon staan – dat dit sin sou maak vir iemand wat dalk nie na die eerste drama geluister het nie. Terselfdertyd moes dit werk vir iemand wat dalk sou besluit om die twee dramas direk na mekaar te luister. Gevolglik was dit belangrik om elke lyn van die teks sorgvuldig na te gaan en in die groter konteks te oorweeg.

‘n Tweede uitdaging was die lugballon. Dit was nie alleenlik nodig om lugballonne te verstaan nie, maar ook om te weet hoe ‘n lugballon in 1910 sou werk. Na ‘n lang gesoek het ek uiteindelik kontak gemaak met Dr Giles Camplin van The British Balloon Museum & Library in Engeland wat my vrae kon beantwoord.

Tema
In Ontydige Tydings gaan dit oor “vlieg”. Die arendsgeraamte en lugballon hou direk verband met ‘n uitstyging bo huidige omstandighede, en op dieselfde manier het elke karakter iets te make met vlieg. Daar is dié wat wil vlieg maar nie kan nie, dié wat bietjies-bietjies kan vlieg maar heeltyd bly val, en dié wat lankal verleer het om te vlieg.

Ontydige Tydings is geskryf as ‘n donker komedie. Die verhaal is bedoel om vreemd en absurd te wees, en ek hoop dat dit is hoe die eindproduk uitgekom het.

Meer oor Albert Short
Ek het van kleintyd af stories, gediggies en liedjies gemaak, maar nooit regtig iets klaar geskryf nie. Dit was eers in 2009, toe ek van ‘n partytjie af oppad was huistoe, dat ek Renske Jacobs se middernag spookprogram raakgeluister het en besef het dat ek ook sulke stories wou skryf. Sy het my eerste poging met wonderlike geesdrif aanvaar en uitgesaai, en meteens het ek besef dat ek ook ‘n skrywer kon wees.

In 2014 het ek my hand gewaag aan lirieke. My gunsteling liedjieskrywer, Christopher Torr, het ‘n kursus aangebied waartydens ek die sangeres Steffie le Roux ontmoet het. Sy het ‘n paar van my lirieke getoonset en 3 daarvan op haar album, Vertel My, gebruik.

Uiteindelik, in 2017, het ek die advertensie vir die radiodrama skryfkompetisie op RSG gehoor besluit om te probeer. Ek het die slypskool bygewoon, en ek reken ek het selfs tóé geweet dat daar ‘n interessante avontuur op my wag.

Regisseursnota – Christelle Webb-Joubert

Ek stem saam met Albert . . . met ‘n opvolg voel dit asof jy by familie gaan kuier. Ongelukkig die keer weer, as gevolg van ‘n begrafnis.

Ek kon weer dieselfde akteurs kry, met die bonus van twee nuwe kleurryke karakters.

Met die radiodrama was die grootste uitdaging die teks. Die storie was daar, maar Albert moes sny, byskryf, nog navorsing doen, seker maak van sy feite, weer skryf, oorskryf en nog skryf. (Ek dink soms het hy gesug as hy nog ‘n e-pos of whatsapp van my ontvang het. Dit was egter alles die moeite werd. Albert KAN skryf en ek is opgewonde oor sy stories wat volg.

Akteurs

Janine Opperman

Janine Opperman – ESTER
Janine het haar Honneurs in Drama verwerf by die NWU in Potchefstroom en is toe vanaf 1985 vryskut aktrise op die verhoog, TV en Film. Sy het oorklanking en radiowerk veral geniet. Sy maak ‘n draai by Egoli as dialoogafrigter (1990) en het in 2003 by M-Net begin werk. Vanaf 2006 tot 2008 was sy hoofskrywer by Villa Rosa en het toe teruggekeer na M-Net waar sy vandag die Hoof van Musiek en Vermaak vir die kykNET kanale is.

Karen Wessels

Karen Wessels – BETTA
Sy is sedert 2005 deel van die musiekgroep Cutt Glas. Haar debuutalbum, Hoe Durf Jy?, is in 2007 uitgereik. As aktrise het sy die eenvrou-komedie Groet die Grotvrou op die planke gebring. Van die TV-reekse waarin sy gespeel het is Willie Esterhuizen se Hester en Ester Bester en Munisipaliteit van Gwarra Gwarra, Casper de Vries se Haak en Steek en die Casper Rasper Show en meer onlangs Vlug na Egipte en Terug na Egipte.

Rian Terblanche

Rian Terblanche – KOEN
Rian Terblanche is vir die afgelope 21 jaar verbonde aan die Dramadepartment van die Universiteit van Pretoria, waar hy spesialiseer in toneelkunde, vertolkenskunde en toegepasde teater. Hy is ook ‘n vryskut akteur en subtitelredigeerder. Oor die jare was hy deel van verskeie toneelgeselskappe, o.a. TRUK, en het gewerk as subtitelredigeerder vir produksies soos Binnelanders, Gold Diggers, verskeie dokumentêre vir Earth Touch, en tans Suidooster en Suiderkruis.

Eswe Bruwer

Eswé Bruwer – PIETMAN
Eswé staan vir Schalk Willem. Hy is tans in matriek aan die Hoërskool Centurion waar hy die Hoofleier van Kultuur en Koor is.  Hy is ook ‘n kranige redenaars spreker en speel ook skaak en rugby.

Sy belangstelling in drama/toneel het van kleins af begin waar hy verskeie kompetisies gewen het asook hoofrolle in revue en toneel vir sy skool gespeel het.  In 2014 is hy as die beste opkomende toneel speler gekroon by die Tshwane Toneel kompetisie asook verskeie silwer en brons sertifikate verower by die ATKV Tienertoneel Kompetisie.

In 2016 neem hy deel aan die Kyknet Nasionale Toneelspeelkompetisie vir Hoërskoolleerders en eindig in die top 16. Daar is hy gekies om in Leon van Nierop se RSG Radio Drama Reeks Ratels as Andries te speel.

Elize Cawood

Elize Cawood – TA’GESIE
Elize se bekendste TV-rol is waarskynlik dié van Pop in Verspeelde lente (1984) en op die silwerdoek teenoor Marius Weyers en Peter Sepuma as die ryk Afrikaanse vrou in Taxi to Soweto. Sy was ook te sien in flieks soos Die wonderwerker (2012) en Lien se lankstaanskoene (2012). Elize is al in verskeie radiodramas gehoor en vele boekvoorlesings.

Saskia Pocock

Saskia Pocock – MAGRIET
Saskia is ongelooflik passievol is oor toneelspeel. Sy het al in verskeie verhoog en radio dramas verskyn insluitended, RSG se Ratels as Minkie, Die Baron in Die Bome as Viola, en Ver in die Ou Kalahari as Emsi. Verhoogwerk sluit in: Night with the stars, Born to perform, The big bad musical en The Rocking Future Expo. Tans werk sy saam met die Produksie 2000 span aan kinderteater.

Carla Redelinghuys

Carla Redelinghuys – VIOLIS
“Elke dag is daar ‘n ander liedjie in my lyf”.  Dit was my woorde aan my ma toe ek skaars drie jaar oud was.  Gebore in Pretoria en getoë in Potchefstroom, het ek van kleins af al ‘n liefde vir alle tipes musiek.  Ek het op ‘n jong ouderdom reeds besluit dat ek klavier wil speel en het sommer in graad een myself vir klavierlesse ingeskryf.  ‘n Rukkie later het ek ook met vioollesse begin.  Hoe meer ek van musiek geleer het, hoe meer wou ek leer.  Musiek was toe al my gunsteling taal om te praat en ek sou musiek met elke tipe emosie wat ek gedurende my grootwordjare ervaar het, verbind.  Tans leef ek my droom as ‘n tweedejaar BMus. student aan die Universiteit van Pretoria.